Gepubliseer in Joernaal

So – ek is nie ‘n mens nie?

Ek beskou myself nog altyd as ‘n mens.

‘n Mense-mens. Jy weet, een van daardie wat altyd tyd sal maak vir ‘n geselsie met ander. Een wat verhoudings belangriker ag as enige ander vorm van kapitaal. Sosiale kapitaal bring my ver. So word my liefdestenk vol gemaak want ek weet gewoonlik waar ek kan help. En wie my kan help …

Dus skat ek dat ek wel ‘n mens is?

Geen robot nie?

Robotte is mos nie gemaak om lief te kry nie. Seker ook maar goed. Kan my net indink hoeveel ou koeie hulle uit die sloot sal kan grawe as hulle eers die vieste in is omdat hulle nie vergeet nie.

Om alles te onthou, kan seker aangenaam wees?

Dit kan dalk lekker wees om te onthou waar ek my kar se sleutels laas weggesteek het toe ons vir maande uit was. Of waar ek iets op my rekenaar gestoor het as ek twee jaar later weer aan ‘n artikel wil werk.

Maar ek wil nie graag alles onthou nie.

Ek wil nie onthou waaroor ek kwaad was nie. Want dan kan ek die ou koeie nie so maklik begrawe nie.

Of wanneer iemand my – volgens my – te na gekom het nie. Want dan kom mens nooit by vergewe uit nie.

Ek probeer hard om nie ‘n geheue soos ‘n rekenaar te ontwikkel nie. Ek gebruik doelbewus nie die vergelyking oor ‘n olifant se geheue nie. Want die vergelyking is voor die koms van rekenaars geskep. Olifante se geheue kan nie by rekenaars se geheue kers vashou nie.

Dink ekke.

Ek beskou myself as ‘n mens omdat ek daarvan hou om te soen en druk.

Nie vir almal nie, my een oom het my totaal geheel en al afgesit van soen van my ooms. Hy het die nare gewoonte gehad om mens so ‘n soppige, nat soen te gee. Ons het ons opgegril en die man so ongemerk moontlik nie gegroet nie.

Ek weet nie waarom mans so oor lipstiffie kla nie, soppige, nat soene is erger. Buitendien, my lipstiffie gee nie af nie, ek is dus op my gemak wanneer ek my kleinkinders op hulle koppies en wangetjies soen. Hulle het nie handdoeke nodig om hulle gesigte af te vee nie.

Die pandemie het egter ‘n stop aan soen gesit. Nie alleen is mens gemasker nie, mense is ook bang om aangesteek te word. En in die proses is daar mense wat ook nie hierna gaan soen nie, want hulle hou lankal nie van soen nie.

Dit is hartseer, want ek wil my kinders met ‘n soen groet. My kleinkinders ook. En ek voel reeds in my eie gesin dat soen gaan uitsterf. My dollatjie draai reeds die wang. Ek was aanvanklik van stryk af, het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. En dit tref my sleg. Maar dit is iets wat elke mens vir homself gaan moet besluit.

Ek hou daarvan om my vriende met vinnige drukkies te groet. Maar nie vir vreemdes nie. Daarom was Kazakhstan vir my so effens van ‘n leerskool. Daar het my Kazakh vriendinne my gedruk toe hulle nog vreemdelinge was. Hierdie gebaar het egter juis veroorsaak dat hulle vriendinne geword het. Dit bring ‘n gevoel van toegeneentheid saam.

Ek het egter geen probleem met die afskaf vn ‘n handdruk nie. Ek het al lankal ‘n ding met hande skud as ek mans groet. Want ek wonder of hulle hande gewas het nadat hulle gou in die kleedkamers was. Dit voel of hulle net toemaak, uitstap en aangaan. En daarom is ek nie op my gemak om my hand in hulle s’n te sit nie. Help my reg as ek verkeerd is … Ek was juis iewers in my professionele loopbaan in die verleentheid toe ‘n man omdraai toe hy uit my kantoor stap – reg om te sien hoe ek my hande met ‘n nat lappie (wet wipe) afvee. Lank voor ‘n virus dit kom wet maak het … Hy was geskok …

In Kazakhstan het ek geleer om mans sommer glad nie te groet nie. Op die harde manier, want niemand het my ingelig hoe mens mans groet nie. Die mans groet mekaar elke keer met ‘n handskud, by die werk skud al die mans hande wanneer hulle by die werk kom. En wanneer hulle gaan. Tydens die pandemie se eerste maande het hulle vuiste teen mekaar gedruk. Wonder of dit nou ingeoefen is?

Maar, vrouens word nie gegroet nie. En toe steek ek my hand uit en manlief se tolk skud maar my hand, wat kan hy doen? Ek het die kyke gesien en geweet, ek gaan mans nie weer so groet nie.

Dit was heerlik om net te staan en kyk hoe manlief gegroet word. En met ‘n kopknik of hallo gegroet te word.

In Suid-Afrika het die stompiegroet soos in vele ander lande posgevat. Of het dit dalk juis hier begin? ‘n Manier van groet wat my nie aanstaan nie, hoe kan dit veilig wees? Die persoon kom tot naby my om sy elmboog teen myne te druk. En ek weier volstrek om dit my nuwe normaal te maak.

Daarom staan ek met my arms gevou, selfs as die man reeds sy elmboog gereed hou en nader kom om dit teen myne te probeer druk.

Ek sal dit nie doen nie, ek val nie vir groepsdruk nie.

Buitendien, dit voel soos spot met gebreke. Mense wat ledemate verloor het. Wat my dadelik aan Die vlerke van Naaldekokers laat dink. Die arm meisiekind moes leer hoe om met haar stompie oor die weg te kom.

En toe las ‘n vriendin by. Hoe kan dit goed wees om iemand te stompiegroet? Mense word juis geleer om in hulle elmboë te hoes. Dit mag waar wees, maar dit is nie my rede waarom ek die stompiegroet nie sal doen nie.

Weet die mans hoe belaglik dit lyk?

Hou dan maar liewer die 2 meter afstand, knik die kop om te groet en gebruik woorde en lyftaal om die boodskap oor te dra.

En nou het ek lekker afgedwaal, so laat ek tot die punt kom.

Ek is nie ‘n robot nie.

Gister wil ek my wagwoord op ‘n webwerf verander. Nadat ek al die stappe gevolg het, kry ek die volgende boodskap op die skerm:

Kyk, ek was so verras dat ek nie eens verder probeer het nie.

So, ek is ‘n robot?

Nie ‘n mens nie?

Ek voel party keer soos een. Doen goed oor en oor, outomaties. Sonder om te dink. Maar hoe gaan ek hier verby kom? Waarom dink die webblad se robot dat ek ook ‘n robot is?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “So – ek is nie ‘n mens nie?

  1. Wees gegroet! Kopknik, vuiste raak, drukkie, “high 5” of soos wat die aanvaarbare, gemaklike manier van groet is. Dit was lekker om te lees, en die verskillende kulture se manier van groet interesseer my. Groet sal seker nooit wees dieselfde wees nie, en “eeuoue” tradisies het in ‘n oogwink verander….en gaan so bly, glo ek.
    Groete!

    Liked by 1 person

  2. ek weier die verspotte elmboog groet. As ek nie mag raak nie, dan raak ek nie. groet met woorde, lig die hand effens soos ‘n amperse waai, en dis dit. ek staan fisies ‘n tree agteruit as iemand wil elmboog groet.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.