Gepubliseer in Joernaal

Iets nuuts in 2020 tydens grendeltyd

Bloguitdaging: Scrapy vra dat ons skryf oor iets nuuts wat ons in 2020 leer doen het.

Die jaar 2020 het goed afgeskop, ons het in Januarie eers van Suid-Afrika af teruggekeer na Kazakhstan toe. En ons liefdestenks was weer vol. Ons het lank en lekker by ons kinders gekuier. Ons het ons huis sommer ook binne laat verf terwyl ons self in die land is. Hy is te koop.

Toe begin die nuus. Daar is ‘n virus in Sjina wat mense doodmaak. Hulle val sommer in die strate om. Die hospitale is vol – en weens die nuutheid van die siekte – moet siekes mekaar in die hospitaal versorg. Mense kan hulle geliefdes se as gaan haal. Dit word in potte/kruike voor die hospitale gelaat. En selfs erger.

Mense weet nie wat dit veroorsaak nie, die virus is blykbaar van ‘n dier. Vlermuis by ‘n lewende mark by Wuhan het na mens oorgedra. Later is ietermago blameer. Die Sjinese eet mos enige ding wat beweeg. So sê die geskokte mynmense in Kazakhstan. Daar maak die Sjinese in die kamp by die myn die aarde om hulle skoon. Elke ding wat beweeg, word geëet.

Siesa, sê hulle, wat soos ons dink oor kos. Behalwe dat hulle perd eet wat ons nie sal doen nie. Of sal ek sê ons wat nie daaroor droom om “eksoties” te eet nie?

Die vrees was daar – ons land het een elle lange grens van meer as 1 000 km met Sjina gedeel. En die Sjinese het in die land gewerk. Ons stad was maar iets soos 150 km vanaf die grens met Sjina en Mongolië. Die Sjinese moes hulle virus vir hulself hou, die Kazakhs het nie die geld om so ‘n virus te bestry nie.

Volgens die gerugte het die virus al in 2019 sy ding in Sjina begin doen. Tog het Sjina sy grense oopgehou, nuwe jaar feeste gevier en die kiem die wêreld ingestuur. Die gerugte het uit Europa en ander lnde gekom. Italië is swaar getref.

Ons het nog gekuier, ek en Mia. Ons land se grense was nog oop. Suid-Afrika s’n ook. En ons het ‘n kleinkind gehad wat in Suid-Afrika gebore moes word, ek was doodbekommerd. Die grense moet toe. Die virus moet gekeer word.

Suid-Afrika en Kazakhstan het hulle grense so saam-saam gesluit. Middel-Maart 2020. En ek was aanvanklik dankbaar. ‘n Dankbaarheid wat later in moedeloosheid oorgeslaan het en my erg depressief kon maak – as ek nie iets nuuts begin het nie.

Iets wat ek lankal wou doen. Om die Bybel deur te lees. Ek het al begin, vele kere tevore, maar het selde verby die eerste paar hoofstukke gekom.

Toe die inperkings in April 2020 verleng is, het ek besluit om ‘n Bybeltoep af te laai. Om die Bybel so op my nuwe iPad te lees. Ek het al twee keer daaroor geskryf, dus gaan ek nie herhaal watter een nie. Lees gerus hier en hier.

Waaroor ek vandag wil skryf, is dat die nuwigheid van die Bybel met behulp van ‘n te toep lees, reeds in my ingebou is. Dat ek steeds daarmee volhou.

Ek het besluit om die een plan te kies, naamlik om die Bybel in 365 dae deur te lees.

Toe ek die besluit geneem het, het ek nie geweet dat die inperkings 10 maande later nog nie opgehef sou wees nie. Ook nie dat dit dalk selfs weer versterk kan word nie.

Al wat ek geweets het, was dat ek die Bybel graag wil deurlees.

En die toep het my deur die maande gelei.

Mens lees elke dag ‘n langer gedeelte uit die Ou Testament, gevolg deur ‘n korter een uit die Nuwe Testament en Spreuke of Psalms. Dus drie gedeeltes van die Bybel, waarvan net die Psalms en Spreuke nie in chronologiese volgorde is nie. Dit word nie heeltemal gekies om by die OT of die NT te pas nie, maar pas tog omdat dit oor die Here en Christus handel.

Ek het vandag dag 271 voltooi, goed oppad na die 365 dae. Wanneer hierdie geskeduleerde plasing gepubliseer word oor twee dae, sal ek by dag 273 wees – as dit die Here se wil is.

En ek het, behalwe vir een flopdag, die Bybel elke liewe dag gelees.

Daarom is my “streak” na 0 teruggeskuif. En is ek vandag op 82, met 26 volledige weke.

Daar is ook ander planne, duisende daarvan. Baie in Afrikaans, baie in Engels. Daar is ook uitdagings, soos om die kersfees ene waarvoor ek ‘n kenteken gekry het. En die halfjaarlikse ene, wat aandui dat ek die plan al ‘n halwe jaar gevolg het. Ek is goed op pad na ‘n hele jaar!

Ek en Mia kies ook vir ons leesplanne, lees dit saam deur, sy in Kazakhstan en ek in Suid-Afrika, want ons het permanent huis toe gekom. Sommige van die planne is in Engels, want Mia verstaan nie Afrikaans nie, al is sy ‘n gebore Suid-Afrikaner en het sy selfs haar graad hier voltooi. Dan moet sy vertaal om saam te lees.

Ek is ook in Suid-Afrika gebore en getoë, was in ‘n Afrikaanse skool en kan beide tale praat, lees en skryf. My Afrikaans beter as my Engels, maar my Engels is goed. Ek skryf akademiese werk in Engels ook.

My nuwe stokperdjie sal dus nie dood loop as ek die Bybel eers klaar gelees het nie, ons sal steeds die leesplanne saam doen – en ek kan ook kies wat ek alleen wil doen.

As jy ook die Bybel wil lees, raai ek die Bybeltoep aan. As jy reeds gebruik, sal dit lekker wees om ‘n leesplan saam met jou te doen.

Ek wil net graag byvoeg dat ek nie noodwendig dink dat dit goed is om die Bybel op jou eie deur te lees nie. Daar is gedeeltes in die Ou Testament wat mens in konteks sal moet sien omdat dit baie, baie wreed is. En mens selfs hoop sal kan laat verloor, omdat daar nie oor God se genade en vergifnis gepraat word nie. Nie baie nie, in elk geval.

Maar, ek is besig om die uitdaging aan myself te voltooi. Met die Here se genade. Ons is steeds gesond, Hy is ons vesting.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Iets nuuts in 2020 tydens grendeltyd

  1. Jare gelede het ek begin om die Bybel bykans te verslind. Ek het agtergekom dat mens alreeds verander bloot deur dit te lees, veral die Ou Testament. Baie mense glo dis nie meer geldig nie, maar dis omdat hulle nie die Bybel verstaan nie. Meeste van Jesus se woorde is juis aan die OT ontleen en boonop verwys die NT minstens 283 keer na die oue. Ek het ‘n lekker informele projek aangepak en vir dertien jaar navorsing gedoen oor hoe die Bybel vertaal is, en wat die NT aanbetref, deur wie, wanneer, hoe en hoekom. En dis juis die resultaat hiervan wat gemaak het dat ‘n Prof my een aand bel en my uitnooi om ‘n Ph D te kom doen want een van my vriende, ‘n Messiaanse rabbi, het my ‘werk’ aan hom gestuur. Tydens een van my baie beroertes het ek ongelukkig my blog, met al my navorsing, verwysings, ens., uitgevee want ek het gedink ek sal nooit weer kan lees en skryf nie. En ek het toe al amper 1.2 miljoen lesers gehad. Daar is goed in bv Genesis waar die Afrikaans en ook Engels verskil van die Hebreeus en ander plekke waar vertaalfoute ongelukkig lei tot die teenoorgestelde boodskap. Op ‘n plek word vertel “en in daardie dae het mense die Here begin aanroep.” Dis verkeerd; hulle het net mooi die teenoorgestelde gedoen deur die Nephilim of Annunaki te aanbid. Die vertaalfout kom in die betekenis wat vertalers aan “elohyim” gegee het. Net so het Jesus Aramees gepraat maar vertalers het dit hanteer asof dit Hebreeeus was. En dis hoe ‘n tou wat nie deur ‘n naald se oog kan gaan nie, ‘n kameel geword het. (Daar is drogverklarings daarvoor ook in omloop.) Ek hoop jy geniet die lees; ek het die Bybel al ‘n hele paar maal deurgelees en kon hele stukke later opsê. Dis ‘n avontuur.

    Liked by 1 person

  2. Engels was my sterkste vak op skool en dan Afrikaans. Ek is universiteit verbied maar wou graag in tale gaan studeer; ek is nader aan sestig en het breinskade, dus sal ek seker nooit Frans, Latyn en Nederlands leer soos wat ek graag wou nie. Maar ek leer tale vinnig aan en kon op ‘n stadium selfs bietjie Maori praat. Dus groet ek met ka kite e kia manuia ingeval Scrapy hier lees.

    Liked by 1 person

    1. Ek het Duits as vak op skool geneem en dit was lekker om in Duistland te verstaan wat ek lees. Toe dit by praat kom, praat die mense so vinnig dt ek nie verstaan nie. Ek het Zulu 2 op universiteitsvlak, en het dit geniet om hierdie taal met sy reëls te leer praat. Toe trek ek nie Ermelo toe nie en word Sotho gepraat in Welkom. In Kazakhstan het ek Russies aangeleer, maar die taal is so vol reëls en uitsonderings dat dit te moeilik was om aan te leer. Handgebare het baie beter gewerk.

      Liked by 1 person

      1. Ek kan darem een ding sê in Sesotho Borwa: Modimo a o hlonelefatse. Dalk is die spelling foutief (?) Aupa Lethetsa het my begin leer maar hy is toe Welkom toe verplaas. Ek het hondsiek in die klas gesit vir Sesotho Lebowa en die dosent kon dit self nie praat nie……….. Ek het ‘n Duitse woordeboek weggegee omdat hele paragrawe nioe daaruit vertaal kon word nie; dit was vermoedelik Berliner Deutsch volgens my Duitse vriend hier.

        Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na Anonimicus Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.