Gepubliseer in Joernaal

Snags as woewe in die huis opgelei is

My woewe mag nie in die huis piepie nie, dit is een ding wat sal veroorsaak dat hulle buite slaap. Al is buite vir my nie ‘n keuse nie.

My huis kan nie soos piepie ruik nie.

Dus voel ek soggens soos ‘n ma met ‘n peuter in die huis. Nie baba nie, babas maak mens te veel in die nag wakker. Net soos een met ‘n peuter in die huis.

Want my nag word verdeel in twee gedeeltes. Ek het lanklaas self wakker geword. Soggens is ek nogal uitgeput. Ek het ten minste sewe/agt ure aanmekaar nodig om te slaap.

Tog maak hulle absoluut op vir my gebrek aan ‘n agt uurlange slaap. Heeltemal.

Ek geniet dit hoe hulle by my reëls bly, al kan ek dit nie vir hulle verduidelik nie. En ek glo dat hulle my dreigement wel verstaan.

As jy in my huis piepie, slaap jy buite.

En hoe gaan hulle dan by my wees? Hulle sal maar daarby hou, dus maak hulle my wakker.

Twee pare wit, wollerige pootjies vooraan twee pare wollerige beentjies strek so lui teen my bed op. Die gesiggies hier naby my. Geen geblaf, geen getjank. Bloot hierdie stille ritueel in die nag.

Nie drie pare beentjies nie, net twee. Want BB het hulle mooi geleer, hulle maak wakker en sy staan solank naby die deur gereed. Waarom sal sy die wakkermaakdeel doen as sy kinders het?

Dan staan ek maar deur die blare op. Trek ‘n warm ding oor my kop want dit word koelerig en sluit die voordeur oop, terwyl hulle staan en wag.

Sodra die deur oop is, vlieg Shilo en Bekka uit om teen die muur te piepie. Baie snaaks as die twee daar staan, naby die muur, een agterbeen hoog in die lug opgetrek om seker te maak daar is nie glipsies ophulle eie voete nie.

Soms staan Bekka vir Shilo en wag, dat hy bo-oor sy plek kan piepie. Hy is darem die oudste van die twee, moet sy bakens merk. Dit is baie, baie snaaks om sy gesiggie dop te hou.

En BB?

Sy staan op die trappie en wag. Dan moet ek op die gras uitstap en dan volg sy eers. Sodra sy die gras onder haar voete voel, sak daardie boudjies af vir een lang piepie, terwyl sy haar lyfie kierts regop hou en ver in die niet instaar. Ek is seker daardie gesiggie sê iets soos – “hemels!”

Hulle kan knyp ook, hoor. As jy sou wonder.

Gisternag maak hulle my wakker en ek volg weer ons nagtelike ritueel.

Om drie woewe op die stoep te kry wat na die gietende reën staar, weier om uit te gaan. En omdraai en ingaan, net om seker te maak ek verstaan. Hulle gaan nie uit nie.

Met my wat waarsku:

“Ag nee man, julle het my verniet wakker gemaak. As een in die huis mors, gaan daar oorlog wees.”

Daar is nie glipsies nie, hulle verstaan die dreigement. Hulle het lank buite geslaap, nou wil hulle by mamma in die kamer slaap. Op die mooi kussings wat pappa vir hulle gekoop het.

So van tweejariges gepraat – enige iemand wat ‘n peuter in die huis gehad het, verstaan die volgende.

Toilet toe gaan is nie meer ‘n individuele proses nie.

Shilo en Bekka volg my mos oral, BB besluit elke keer of sy wil. Want sien, sy is baie lief vir haar slapies.

Dus volg die twee manne my ook toilet toe.

Soms wil hulle met hulle voorpootjies teen my staan dat ek hulle koppies vryf.

As ek sê: “Af!” kry ek daardie kyke wat net Schnauzers kan kyk – janniejammergat, jy is lelik met my.

Dan sit hulle op die mat by my voete, hulle ruggies teen my been, kyk ordentlik ander kant toe, soos hulle moet – ek is ‘n dolla.

Doodstil en wag.

Tot ek my hand uitsteek en die toiletpapier afrol.

Dit is hulle teken.

Dan staan hulle op en begin wegstap, wat natuurlik die terggees in my wakker maak. Soms sit ek dan so bietjie langer, net om te kyk wat hulle doen.

En nie een keer stel die twee my teleur nie, hulle draai om en kom wag vir my. By my, tot ek opstaan en saamkom.

Dit is waarom die Miniatuur Schnauzers van my so diep in my hart kon inkruip. Hulle vergewe hierdie terggees wat hulle mamma is.

Hooffoto: My drie poppies staan op die stoep, veilig waar ek hulle kan sien – terwyl ek die vloere was en wag dat dit droog word. Anders is daar spore op die teëls. Ons s-eel egter veel eerder op die gras terwyl die vloere droog word.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Snags as woewe in die huis opgelei is

    1. Wil hy nie waarsku nie? Ag Appeltjie, die mannetjie maak seker ‘n babaplassie, kan hy leer om op een plek te piepie? Soos met daardie leerlakendoeke wat mens by winkels kan koop? Ek verbeel my Westpack verkoop dit.

      Like

        1. Ek is werklik jammer om dit te noem, maar geen van my vriendinne kon ‘n yorkie leer om nie in die huis te piepie nie. Dus gaan jy ‘n groot hoogtepunt behaal as jy dit regkry. Ek is seker ‘n juffrou gaan die geheim kry.

          Like

Laat 'n boodskap na Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.