Tourmaline vra in verlede week dat mens “turkuoise-blue” foto’s deel. Ek het toe my een gedeel oor die seegroen-blou kleurfront in Valsbaai wat ek uit die lug kon afneem. Dit is egter ‘n spesiale kleur wat uitstaan as ek deur my foto’s blaai.
Dus deel ek meer en beskryf elkeen kortliks.
Die eerste foto is vanuit die Atmosphere restaurant in Burj Khalifa, Dubai geneem. Die restaurant is op die 122ste vloer van die gebou, wat steeds die hoogste gebou in die wêreld is.

Dit het ‘n uitsig op die musikale waterfonteine by die Dubai Winkelsentrum daar ver onder. Die foto is op 16 Augustus 2018 geneem, ‘n dag voor my verjaarsdag. Ons het slap chips bestel, dit was heeltemal te duur om enige iets anders te wil eet, maar dit was absoluut die moeite werd. Die klein wit en rooi reghoeke op die blou gedeelte is groot bote, wat mense nader aan die fontein bring.
Die tweede foto is van ons swembad by ons stadshuis. Ek het die naweek geneem toe ons stad toe was. Ek het die ou wat die swembad herstel het, glad nie geglo dat die rande en vloer wit moet wees om ‘n mooi blou swembad te verseker nie. Wel … hy was reg. Die swembad is vanuit hierdie hoek afgeneem ‘n seegroen kleur. Ek is gek oor hierdie kleur vir ‘n swembad, dit laat my aan eilandvakansies dink – soos toe ons Mauritius en Seychelles toe is …

Maar toe ek sekondes later aan die ander kant gaan staan, is die water ‘n pragtige blou. Dit is ook ‘n gunsteling kleur. Ek hou eintlik meer daarvan as van die groenerige kleur.

Kyk net hoe oulik staan twee van my Miniatuur Schnauzers, Shilo en BB langs die swembad. Hulle moet verken as ek buite is, daar is akkedisse wat skrikgemaak moet word.
Ons gaan dit mis wanneer die huis binnekort van eienaars verander – daar het ek dit geskryf … vir die eerste keer. Die koeël is deur die kerk, my huis is een van die dae ‘n ander vrou s’n.
Die derde foto is langs die swembad by die Paraiso de Chidenguela, ‘n vakansie-oord in Mosambiek geneem. Ons het die plek in Maart 2018 besoek.

Ons was die enigste gaste vir die week en is vreeslik bederf gedurende hierdie tyd. Die water was heerlik warm. Pragtige vakasie-oord, jy kan dit gerus oorweeg.
Die laaste foto is van my en my suster op ‘n skoppelmaai in Australië. Het so bietjie soos kinders gevoel toe ons daarop ry terwyl ons bene gerus het op pad na Fraser-eiland.

Dit was 11 jaar gelede, ek is links op die foto – en dra ‘n seegroen-blou kortbroek. Ek kyk so na my arms en moet erken, die kinders was reg. Bergfietsy en spinklasse was goed vir my …
Maar, dit is ‘n dekade gelede en ons het ‘n dekade gelde op ons bergfietse geklim … Toe het ons seker al so 20 bergfietswedrenne agter die blad gehad – en ons het die 35-40 km roetes gedoen. Iets wat ek steeds nie van myself kan glo nie. Elke keer was skrikwekkend vreemd, mens het geen idee gehad van wat op jou wag anderkant die wegspringplek wat so doodgewoon gelyk het nie.
My kamera was daardie tyd aan my hand vasgeplak, nou gebruik ek hom selde. My selfoon is altyd beskikbaar en lig om saam te dra. Ek wonder of die kamera vervaardigers weet hoe swaar so ‘n kamera raak?
Duidelik is seegroen-blou my gunsteling kleur, of sal ek eerder skryf een van my gunsteling kleure? As ek moes noem, sou ek swart of rooi genoem het. My foto’s wys egter iets anders?
Dalk omdat hierdie kleur so uitstaan as ek deur my foto’s blaai?
Hierdie fotos is interessant om te sien – ‘n mooi verskeidenheid 🙂
LikeLiked by 2 people
Dankie, liewe vriendin.
LikeLike
Ek is ook baie lief vir die kleur. Waar is jou adres?
LikeLiked by 1 person
Vriendin – ek stuur dadelik!
LikeLike
Elkeen van daardie foto’s is besonder mooi.
LikeLiked by 2 people
Baie dankie …
LikeLiked by 1 person
‘n Pragtige verskeidenheid foto’s Christa! Dit is so ‘n pragtige kleur!
LikeLiked by 1 person
Dankie, Aletta, dit is verskeidenheid herinneringe
LikeLiked by 1 person
😊
LikeLiked by 1 person