Gepubliseer in Reisjoernaal,Resensies

Alasha restaurant – ‘n belewenis in Almaty

Tydens ‘n besoek aan Almaty (Kazakhstan) in 2019 het ek opgelees oor restaurante in Almaty. En Alasha het my aandag getrek. Ek het na die webwerf gegaan, gehou van wat ek gesien het … en so is ek en manlief daarheen om die plek te beproef.

‘n Alasha is ‘n handgeweefde mat wat gebruik word om gaste te verwelkom. En dit doen hierdie restaurant inderdaad. Anders as in ons stad (Ust’-Kamenogorsk of Öskemen) was die spyskaart nie net in Russies of Kazakh beskikbaar, nie. In die twee hoofstede, naamlik Nur-Sultan (huidige hoofstad) en Almaty (vorige hoofstad) – beide 1 000 km van ons af in twee verskillende rigtings – kon ek kos in Engels bestel. Die spyskaart word net aangebied nie, Engels is daar ‘n volksvreemde taal. Maar sommige restaurante het verstaan as ek “Angleski mênjoe” (Engelse spyskaart) gevra het. Hierdie beskrywing van die restaurant het my aandag getrek.

Is dit nie indrukwekkend nie? En nee, ek het nie die Russies verstaan nie, maar die webwerf bied die inligting ook in Engels aan. Die Engels is op plekke nie waffers nie, maar beter as niks.

Met die adres in 2GIS ingetik – naamlik ‘n straat in die ryker Dostyk gebied – het ons twee daarheen gestap. Dit was lank voordat daar ‘n pandemie was – en ons kon uiteet soos ons wou. Tydens ons drie maande verblyf in Almaty in 2020 was al die restaurante die meeste van die tyd gesluit. Maar dit het ons nie gepla nie, want Alasha is iets wat mens net een keer hoef te beleef.

Die Alasha het ‘n impossante ingang en binne was dit net so indrukwekkend! ‘n Binnehof word gevorm deur afgeskorte eethokkies met hout deure wat toegemaak kan word as mens sou wou. Sagte stoele daarbinne. En ‘n gevoel van luuksheid. Selfs koninklikheid dalk? Ek sien hulle beskryf dit op hulle webblad as ‘n feëtjie land. Ek sou dit eerder beskryf as koninklik. Die stoep oorkant die hokkies wat deel van die groot gebou was, het ook die idee van hokkies geskep.

Ek kan nie glo ek het so min foto’s daarvan geneem nie. Dus het ek foto’s op die webblad gaan leen om die ervaring te beskryf.

In die binnehof self was daar hoë pale met ‘n draad wat in die lug gespan was. Die hulpmiddels vir ‘n sweefartieste. Nadat ons kos bestel het, het musiek begin speel. En toe ons uit die hokkie gaan, is ons bederf met meisies en manne wat volksdanse en ander danse uitvoer. Pragtige kostuums. Perfekte ritme. Uitlokkend, ek wou net dans. Toe ek op ‘n stadium terugstap tafel toe, wou ‘n man met my dans. Ek wou nie, maar hy het toe met my gesels. Hy is ‘n Duitse besoeker.

Elke keer as die musiek weer begin speel het, het hulle weer te voorskyn gekom, elke keer met ander uitrustings. Dit was een groot belewenis. Ek het geen idee hoe hulle so vinnig verklee nie, maar ek wil my tog verbeel dat daar dalkies meer as een groep was.

Later die aand het ‘n man en vrou teen die pale uitgeklim en in die lug gaan loop en passies maak, sonder ‘n vangmat onder hulle. Ek sukkel nogal om sulke tonele regtig te geniet, want ek wil nie sien hoe hulle voor my te pletter val nie. Maar, ek was verniet bang, hulle het hulle baie goed van hulle taak gekwyt. Ons twee in verstomming gelaat.

Die restaurant lê genestel in een van die hoërliggende dele van Almaty, wat mettertyd teen die Alatau-bergreeks opgekruip het. En dit word goed koud in die skadu van die berg as die son gesak het. Al is Augustus eintlik nog somer oppad na herfs toe. Ons het nie baadjies saamgevat nie omdat dit warm was toe ons die hotel verlaat het. En toe gaan vra ek vir die kelner of hulle nie dalk kombersies het nie.

Die meeste restaurante in Kazakhstan het kombersies wat aangebied word. En kry ek die verrassing van my lewe. Ons twee kry nie kombersies nie, maar regte, egte Kazakh jasse.

Ek het mense op die stoep gesien met die pragtige jasse aan, en gedink dat hulle vir die geleentheid aangetrek het. Tema partytjie of so iets. Toe kan ons twee ook so aantrek. Die jasse is die gaste se kombersies …

Dit is lyk my vir die grootste moontlike grootte gemaak, dus het ek vreeslik groot in my jas gelyk. Dit het egter nie gepla nie, ek het soos ‘n koningin gevoel met al die goue borduursel om die rand van my jas.

En so terloops, dit was allesbehalwe warm. Die wind het deur die jas gewaai, maar dit het beter beskerming gebied as die klere wat ek en manlief aangehad het.

Ek weet, jy gaan nou vra watter soort kos bied hulle aan.

Ek dink almal weet al dat ek maar versigtig was om in Kazakhstan uit te eet.

Ek moes die spyskaart met ‘n vergrootglas bestudeer om seker te maak dat ek nie per ongeluk perdevleis of -melk inkry nie. En met my laktose-weerstandigheid moes ek boonop sorg dat daar geen melk, kaas, of enige iets wat van melk gemaak word in my kos beland nie. Die Kazakhs hou baie, baie van room en kaas in die geregte. Dus was uiteet ‘n ervaring en ‘n half omdat ek in ons stad met ‘n vertaaltoep moes sit om die spyskaart te fynkam om ‘n geskikte gereg te bestel.

Hier kon ek in Engels lees, maar die kelners verstaan nie noodwendig Engels nie. Loer gerus hier as jy idee van die geregte wil kry.

Wel, ons het soos altyd veilig gespeel. Ek het salm gekies (wat daar so R200 gekos het). Mens moet onthou dat dit van ver ingevoer word, Kazakhstan het mos geen oseaan nie.

En manlief het versigtig tussen die perdevleis en kazi (perdewors) – wat so oral op die spyskaart was – gesoek vir iets wat hy kan eet. Hy het die lamgereg met groente bestel.

Die kos was besonder smaaklik, soos wat mens van die restaurant verwag as jy daar instap, maar die ervaring saam met manlief het die kos heeltemal oorskadu.

Toe ons bykans ‘n jaar later na Almaty trek, het ons nogal naby die restaurant ‘n woonstel gehuur. Seker te ver om te stap in die koue, maar ons het nie weer gegaan nie. Die eerste paar maande was restaurante gesluit, later kon hulle bedien maar buite. Ons het liewers ander plekkies besoek, die stad is vol klein verassinkies wanneer jy wil uiteet.

Ek kan hierdie restaurant aanbeveel. Dit is ‘n besonderse ervaring en die uitvoerende kunstenaars is spesiaal.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Alasha restaurant – ‘n belewenis in Almaty

    1. Dankie, Una, dit was ‘n belewenis hoor. Mens ontdek die oulikste plekke as jy Google – en ons gids in Almaty het ons later gehelp om nog juweeltjies op te spoor. Daai jasse laat mens soos ‘n kongin voel, ek dink dit is al die goue borduursel.

      Like

Laat 'n boodskap na Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.