Gepubliseer in Joernaal

Eina! Verdomde Vlieënde Vlermuise (VVV’s)

Ek het al vertel dat ons by die rivierhuis ‘n probleem met verdomde vlieënde voorwerpe (lees vlermuise) het. En dat ek doodbang vir die goed is.

[Note to those who translate my posts: I have checked the translation, and it is in some cases horribly wrong as we have words in Afrikaans that cannot be translated by a machine correctly. For example “verpes.” Which means that I hate something with a passion, and not that I am “pissing” [rude translation] the thing off. It is actually the other way round]

Vir my is dit verstommend dat hierdie vlieënde gedrogte beskerm word en dat mens in die moeilikheid kan kom as jy een van hulle sou waag doodmaak.

Dus word ek verplig om maniere te vind om vir hulle te laat verstaan dat dit my huis is.

Want hulle is van mening dat dit eintlik hulle huis is. Juis omdat hulle elke dag daar is. Wat hulle – soos sommige politici – vergeet, is dat dit my huis is. Ons het hom gebou. Ons kon die geld uitgedrink het of oorsee gaan reis het, maar ons het dit gebruik om vir ons ‘n huis te bou.

En hulle kan nie stry nie.

Vlermuise se huise lyk nie so nie …

Ons was weer bykans twee maande gelede daar.

En na die episode hierdie naweek weet ek weereens dat ek hulle verpes.

Hulle kom nie sommer in die woonstelgedeelte van die huis nie. Omdat dit ‘n sement plafon het. Daar is geen wegkruipplek nie. Maar ook omdat ons die deur tussen die huis en die woonstel dig hou. Vir sielerus.

Hulle hou van die huis met sy hoë grasdak. Op die meeste van die plekke is dit dubbelvolume hoog. Kruip hoog bo agter die gras van die grasdak weg.

En saans vlieg hulle deur die huis om muskiete te vang.

Ek sien sommer dat diegene wat vlermuise lief, vir my glimlag omdat hulle dink dat ek daaroor dankbaar moet wees.

Ek kan nie dankbaar wees nie omdat hulle ook dink dat my TV-kamer hulle toilet is.

Dankie, maar nee dankie.

Ek sien so uit na ‘n naweek by die rivier. En dan wip ek my stert in ‘n krul as ek die gemors moet skoonmaak.

Gee die muskiete maar vir my. Nee wag, sommer baie muskiete. Hulle huiwer nie om te steek nie, maar dit is skoon wonde. Dit jeuk so rukkie, en dan is ek reg. Ek kan hulle ook met muskietafweerders weghou. Daarom is muskiete welkom in my huis.

Spinnekoppe ook. Hulle vlug as hulle my sien. En ek vlug as ek hulle eerste sien … Net soos Toortsie.

Vlermuise vlug nie!

So weier ek om in my eie, sagte bed te slaap as ons daar kom. Want hulle vlieg in die nag rond, al oor ons. Met die gevolg dat ek ook weier om sonder ‘n muskietnet te slaap. Nie om die muskiete weg te hou nie.

O nee, om te keer dat ‘n VVV op my land.

Want die dag wat dit gebeur, gaan ek dalkies ook net te min asem oorhê om dit te oorleef.

Dus slaap ons die eerste aand by die rivier in die woonstelgedeelte. Wat mooi skoon is, al was ons maande laas daar. Die peste kan nie daar uitkom nie.

So slaap ons die naweek weer die eerste aand in die woonstelgedeelte.

Ek lê rustig in my bed, besig om Candy Crush te speel. Ek sal later vertel waarom ek die lastige, indringerige toep weer op my iPad afgelaai het.

My oog vang ‘n swart beweging – wat ek instinktief weet net deur ‘n VVV veroorsaak is – by die deur. Die dak is laag, en ek weet dat die VVV skaars bokant my kop die kamer ingevlieg het. Met geen plek waar hy kan gaan rus nie … Behalwe dalk op my?

Ek gil vir manlief omn te kom help terwyl ek die dik laag komberse instinktief en soos blits oor my kop pluk.

Om hard en seer na die werklikheid terug geroep te word.

Want ek het die iPad se bokant – wat skuins na agter gelê het dat ek kan speel – met een massiewe slag in die donkerte vorentoe en teen my eie neus vasgeslaan!

Dit proe of daar bloed is. Maar ek kan nie die komberse los om te voel hoeveel skade ek aangerig het nie. My oë traan egter van die geweldige slag op die dun deel van die brug van my neus.

Manlief kom ingedraf, gereed om my te red.

Maar daar is geen vlermuis nie, die gedrog het seker net so groot soos ek geskrik. En die pad gevat.

Noudat ek daaraan dink.

Ek het sowaar nie in ag geneem dat hy dalkies op die gordyne gaan land het nie!

Ek het net aangeneem dat hy weer uit is!

Ewenwel, manlief het toe nie nodig gehad om my te red nie. Hy het ewe braaf oral gekyk of die vermuis steeds in die woonstel is.

Later die aand het skaars by my in die bed ingekruip, toe ek weereens die VVV gewaar wat die kamer soos ‘n ongenooide, onwelkome besoeker binnedring.

Weereens gee ek een murgdeurdringende gil.

Weereens pluk ek die komberse teen die spoed van lig oor my kop. Ek is mos reg, lig beweeg vinniger as klank?

Weereens maak die iPad se bokant hard en seer kontak met die brug van my neus. Dié keer slaan die neusgedeelte van my bril die slag nog dieper in.

Die keer proe ek nie bloed nie.

Nee, dit is so seer dat ek die keer dink ek dat my neus blou gaan wees.

Manlief het soos my ridder opgevlieg en die VVV mooi laat verstaan dat dit nie sy huis is nie. Ek twyfel of hy na die uitgooi weer in die huis wil kom. My manlief is ‘n goeie “bouncer.”

Sondagoggend is ek vroeg op.

Daar is dinge om te doen.

Ek Google en soek weereens na raat (nie raad nie) om van die VVV’s ontslae te raak. Asof dit nie genoeg is dat my huis as toilet gebruik word nie, word ek ook nog in die woonstelgedeelte – waar ek veilig voel – verpes.

Bloekomolie en peppermentolie is blykbaar twee geure wat hulle verpes. Ek het beide in my handsak. Want dit is mos weer sinustyd, my neus moet oop dat ek lekker kan slaap. Dit moet met suiker en water gemeng word en teen die mure gespuit word.

Krisis! Of dalk nie?

Want daar is versiersuiker in die huis. Dus kan ek die mengsel aanmaak, maar nie aanspuit nie weens ‘n gebrek aan spuitbottels. Ek kan egter plan maak, sal die aand potte op strategiese plekke sit. Met stomende water wat die heerlike geure deur die huis kan versprei.

Lag ek nou heerlik.

Dit is regtig vir my twee aangename geure.

Ek is dankbaar dat VVV’s nie daarvan hou nie. Ek is egter bereid om selfs met stinkende geure saam te leef as dit hulle sal verwilder. Selfs die stank van die naby geleë varkplaas as dit moet.

Maar ek is nie met een raat tevrede nie.

Dit help blykbaar ook om foelie van die dak af te hang. So het blogvriendinne ook al te vertelle gehad. Nie dat hulle dit self getoets het nie, dus het ek dit met ‘n knippie sout geneem.

Ons was baie lanklaas daar, maar ek ontdek twee rolle foelie in die laai. Sny dit in lang repe wat aan die dak gehang moet word.

Manlief is buite besig om goedjies vir ons nuwe huis uit te soek wat ons van die rivier af wil bring om ons huisie soos ons nessie te laat voel. Vir hom gaan ek nie pla nie, want dan word ek daar in die werk gesteek. Wil ek dit saamvat? Wat van hierdie kassie?

Nee, ek sal die probleem self moet oplos.

Die vraag is:

Hoe kry ek dit opgehang as die balke van die grasdak dubbelverdieping hoog bokant my kop strek? Veral as ek nie ‘n hemelbesem is nie? Ook nie ‘n visserman nie …

Weereens word die huis deursoek. Ek hou van naaldwerk, brei en hekel en iewers kan daar dalkies net wol of gare wees wat ek oor die balke kan gooi om die foelie op te trek.

Die laaie word deursoek en ek kry ‘n swaar tolletjie garing wat dalkies net kan werk.

Met groot opgewondenheid gooi ek die tolletjie soos ‘n wafferse visserman die lug in.

Om haar vrolik-hoppend terug te kry. Van die vloer af op en reg in my hande in.

Asof dit een groot grap is. ‘n Lekker speletjie!

My Schnauzerwagte staan die petalje en dophou. Het geen idee waarom ek die tolletjie in die lug gooi nie, maar bly op ‘n veilige afstand van my af. Die tolletjie maak groot lawaai as sy land.

Na ‘n paar probeerslae is die tolletjie oor die een balk. Bind ek een reep foelie aan dit vas en hys dit soos ‘n vlag op. Nie ‘n wit vlag nie, dit is oorlog in my huis.

Nadat verskeie repe so in die TV-kamer opgehys is, is ek na my slaapkamer toe om dit ook daar op te hys.

En toe kombuis toe. Want die plafon is laer omdat daar ‘n sitkamer bo die kombuis is. Ek toe staan ek op stoele, die baie swaar marmer tafel het ‘n poot in die middel en kan dalk net die ewewig versteur en hard met moeder aarede kennis maak. Met ‘n marmerblad wat groot skade aan my lyf kan aanrig.

Dit is net-net te hoog vir my. Daarom rol ek swaannekke aan die een punt van die repe, sodat ek dit soos ‘n kierie oor die balke kan hang. Vier op strategiese plekke en een wat soos ‘n strooipop aan die lig in die middel se toutjie hang.

Ek vermoed dit gaan werk!

Maandagoggend was daar skaars mis in die TV-kamer, glad nie in die kombuis of my slaapkamer nie. En die vertrekke het heerlik geruik.

Volgende keer gaan ek gewapen met baie rolle foelie, my huis gaan heel jaar versier wees met blink goed. Ek kan ook stringe kersfeesversiersels van die dak afhang, maar ek dink die foelie gaan die ding doen.

In die kombuis was ‘n stukkie foelie wat afgeskeur het toe hulle deur my huis probeer vlieg het. Ek hoop werklik dit was vir die pes net so seer soos my neus was …

Maandagmiddag voel ek een vreeslike styfte in my regterarm, af in my sy. Ek het maar min gehelp met die laai van die goed, dus kon dit nie dit wees nie.

Dinsdagoggend verstaan ek eers waar die styfte vandaan kom.

Ek moes al my vernuf, maar veral al my krag in my regterarm gebruik om die liewe tolletjie soveel keer oor die balke gegooi te kry.

In my kamer het sy nie teruggehop in my hand nie. Sy het die kamer verken en my nog meer oefening gegee.

Ek sal een baie gelukkige vrou wees as die peste die pad gevat het omdat my huis vir hulle stink. Veral omdat ek so baie van die geure hou.

As ek dan heeljaar met blink goed van die balke af moet saamleef, leer ek net om nie op te kyk nie. Want ek gaan hulle beslis nie kans gee om my huis weer te betree nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

23 gedagtes oor “Eina! Verdomde Vlieënde Vlermuise (VVV’s)

  1. En ek! Ek sien die vlermuise so baljaar met jou onder die lakens en komberse. Nee nie nog muskiete nie . Ek weet presies hoevveel daar is. Het mos daar grootgeword. Hoop jou planne werk.

    Liked by 2 people

      1. O ja, dis mos nie vlermuise nie, maar nagapies wat jou hart steel! Ek moet sê, Una, as ek kan kies, kies ek ook …apies bo …muise! ( Christa was reg oor jou!)

        Like

        1. Ek het nou twee mossies wat daarop aandring dat hulle hulle nessie binne kom maak. Hulle trek die gras so uit! Ek praat mooi, maar hulle wil niks weet van buite bly nie!🙈

          Liked by 1 person

  2. Sjoe ek hoop dit werk! Ek dink die oumense het in my kinderjare gare of iets ook in die dak gespan. Dis aaklig as hulle so naby jou verbyvlieg. Hulle sal jou blykbaar nie raakvlieg nie, maar dit is en bly uiters grillerig. Ek het op die plaas sulke masjientjies gehad wat ‘n geluid uitstuur wat mense nie kan hoor nie. Vir muise. Ek wil glo dat dit gewerk het.

    Liked by 2 people

  3. Ek neem aan dat ‘jou’ vlermuise groot is. Hier kry ons partykeer die klein insekte-etend vlermuise wat binne die huis kome. Hulle vlieg vinnig deur die kamers en ek weet dat ‘n paar van hulle die dag agter die gordyne deurbring omdat hulle klein mishopies op die vensterbanke sien. Ek los vensters oop in die boonste verdieping en hulle gaan wel buite. Ek is jammer hulle gee vir jou so baie ontsteltenis.

    Liked by 2 people

    1. Haai Anne, ek sien ook in die een kamer in die woonstel mis, min, maar wel. Ek gaan uitfreak as hulle wel snags daar slaap. Hulle is klein hoor, ek sou dit nie maak as hulle groot ook was nie. Hulle eet wel insekte, maar hulle piepie en poef in die vlieg. En dit freak my ook uit omdat dit giftig vir die mens kan wees. Ons gaan die huis wel laat verseël om hulle inkomplekke weg te vat. Ander dak ook opsit, al voel die grasdak soos vakansie.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.