Gepubliseer in Joernaal

En toe kan ek nie my hoenderaftreksel eet nie …

Ek wou vandag ‘n resep vir hoenderaftreksel plaas. Wat blykbaar baie goed vir die ingewande is. Skoondogter sê mens noem dit prebiotika. Ek wou dit probeer omdat ek die afgelope maand – na intensiewe kursusse antibiotika – ‘n probleem met die goeie bakterieë in my ingewande het.

Omdat ‘n liewe dokter, wat ek ‘n perdedokter na dese noem, my op twee kursusse antibiotika gesit het. ‘n Ligter een en toe ek kla oor ‘n loopmaag, sit hy my op die swaarder een – met veel erger gevolge. My arme ingewande het gesukkel.

Ek het wel probiotika gebruik, op my eie. Want die dokter verstaan ook nie dat dit noodsaaklik is nie. Ek vermoed dit is net so vinnig uit soos dit in is. Daarom het ek na alternatiewe behandeling ondersoek ingestel.

Daar word beweer dat die aftreksel wat van hoenderbeentjies gemaak word, van die beste is. Veral as dit van die pootjies afgetrek is. Ek het op ‘n plaas grootgeword, ons het die hele hoender – behalwe die kop – geëet. Dus het ek nie daarvoor gegril nie.

In Afrika staan pootjies as “runaways” bekend. Lekker ironies, want sonder die lyfies kan hulle nêrens heen nie.

So is ons verlede week in Pick-‘n-Pay hier by ons in om ‘n paar goedjies te koop. En daar is bakkies met hoenderpootjies. Mooi skoongemaak. Ek sit twee pakkies in die mandjie, maar manlief raas. Maak net eers die eerste pakkie gaar en kyk hoe dit werk.

Ewe dikbek sit ek dit terug, want dit kos maar net R20 vir baie, baie pootjies. Probiotika kos ‘n plaas se prys.

Die aand maak ek die pakkie oop om die pootjies af te speol en die aftreksel te maak.

En daar staan ek met die koue, verrimpelde spierwit pootjies in my hand. Wat kompleet soos die handjies van ‘n pasgebore baba voel. Die toontjies maak soos vingertjies oop en ek kan die nare gevoel nie van my afgeskud kry nie.

Ek probeer my brein keer, maar sy het mos haar eie wil. Wil die toontjies tel soos wat ek my drie pasgebore kleinkinders se vingertjies getel het. Ek tel doelbewus nie, maar sy vertel my wel dat daar net vier is. Nie vyf nie.

Dit help niks, want die toontjies beweeg onder die lopende water en ek kan die gevoel nie afskud dat dit te veel soos babahandjies voel nie.

Ek het die taak vinnig afgehandel, die pootjies in ‘n pot water op die stoof gesit en dit stadig laat kook.

Dit het perfek gewerk, maar ek kon nie daarna kyk nie. My brein het my reeds ander dinge vertel.

Die volgende oggend het ek die pot met die aftreksel, wat gestol het as gevolg van al die goedheid wat daarin is, oopgemaak en weer toe.

Ek gaan dit nie eet nie, ek kan dit nie eet nie.

Later die oggend het ek die aftreksel met pootjies en al in ‘n groot plastieksak gesit om weg te gooi. Maar hoe kan ek dit in ‘n vullisdrom gooi? Dit gaan waarskynlik vreeslik stink teen die tyd wat ons drom gehaal word. Dit gebeur mos net een keer per week.

En toe besluit ek om dit te vries. Laag onder in die vrieskas dat ek dit nie kan sien nie. Om dit vir ons wag op die plaas te gee as ons oor twee weke weer soontoe gaan.

Ek besef dat ek baie mense nou ook van die heilsame aftreksel kon afgesit het. En daaroor is ek regtig baie jammer.

Miskien moes ek die pootjies bevrore gekoop het, dat ek nie die sagtheid daarvan gevoel het nie. Dat dit my nie aan drie van my vier kleinkinders se pasgebore handjies laat dink het nie. Ek was daar toe hulle skaars ‘n uur oud was.

Hierdie aftreksel kon ek op geen manier eet nie, nie eens as ek die pootjies uithaal dat net die sagte gelatin oorbly nie.

Hoe gebeur dit dat mens so ‘n vergelyking maak wat jou hele brein laat weier om iets te eet?

Die aand moes ek maar bieg.

En manlief het empaties geglimlag.

Hy het nogal geweet dat ek dit nie sou kon eet nie. Hy sou beslis nie sy mond daaraan sit nie. Ons albei eet niks snaaks nie, geen perd of ander dier nie. En nou is hoenderpootjies ook op my lys van kan dit nie eet nie …

Al het ek daarmee grootgeword!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “En toe kan ek nie my hoenderaftreksel eet nie …

  1. Soms kry n mens se brein mos bevliegings! My ma het gereeld die pootjies by die hoender gesit- gesê dit gee ekstra smaak. Daardie tyd het n mens heel hoender gekoop en binnein was n sakkie met skoongemaakte pootjies, lewer en magie). Die pootjies was heerlik. Tot n vriendin dit eendag gesien het en haar so gegril het dat sy ook nie die hoender wou eet nie.

    Liked by 2 people

  2. Christa, ek hoor jou, kan self nie meer nie. Baie mense gooi daai vloeistof in pot sop wat hulle maak in plek van water. Probeer beef bene, as jy nie kan nie, sorg dat jy elke dag fermented veggies eet. Rooikool, kool, werk ook wondere.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.