Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

As mens op sneeu na winkels moet stap …

Kan dit skaars ‘n jaar later wees? Dit was ‘n belewenis om in ‘n sneeulandskap te leef.

Ek is maar dankbaar dat ek my en manlief se verblyf in Kazakhstan goed geboekstaaf het … Anders sou dit soos ‘n droom gevoel het. Iets wat ek nooit in my lewe regtig sou gaan doen nie …

Die hooffoto is op 24 Februarie 2020 geneem, net voor 14:00. Dus voor ‘n pandemie die wêreld op sy kop gedraai het. Toe het ons reeds geweet dat ‘n virus in Sjina amok saai. As dit nie die beste voorgee van die eeue was nie.

Die winter was nog in volle swang. En dit was koud, sommer baie koud. Die kwik het menige dae na -38 grade Celsius gedaal. In die dag. Dit is waarom die sneeu so kan lê sonder om te smelt. Dit moes pas gesneeu het omdat die sneeu nog op die takke van die bome is. Die wind hou nie van sneeu op takke nie, waai dit gou-gou af. Of is dit die bome wat dit afskud omdat hulle te koud kry?

Februarie is een van die koudste maande in Öskemen ala Ust’-Kamenogorsk – die stad waar ons gaan woon het.

As ek so na die laag sneeu op die sypaadjie kyk, onthou ek hoe my voete gekla het. Maar min ander mense het gekla. Nou weet ek dat hulle so vreeslik vinnig koud was weens ‘n ernstige yster tekort. Tog het ek dit gelief om op hierdie sypaadjie te loop.

Langs die hoofstraat en nie teen die geboue nie. Want … ‘n stuk ys het in die tyd net voor ons in Kazakhstan gaan bly het, van die dak van ‘n gebou in Almaty losgekom. En ‘n tannie morsdood geval toe sy uit die taxi klim en onder die gebou wil instap.

Ek het dus verkies om ver van geboue af te loop om die noodlot glad nie te tart nie.

Die sneeu was vir my wondermooi. Lagies fyn kristalletjies wat in die oggendson glinster. Daarom het ek die Afrikaanse gesegde “Daar is goud in die oggendstond” daar verander na “Daar is silwer in die oggenstond.”

Ek het daar soos ‘n ou tannie geloop. Seker gemaak die een voet gly nie voordat ek die ander een oplig en neersit. En ek het eers in die laaste week in Ust geval. Met manlief se een kollega – ‘n Rus – wat dit gesien het en my opgehelp het. Was nogal ‘n sagte val omdat my jas heerlik warm opgestop was.

Ek het rooi gebloos.

Nou loop ek weer soos ‘n ou tannie. En elke vrou met ‘n Schnauzer sal weet waarom. Hulle is mos voor jou voete, staan en wag dat jy aankom en stop as hulle aanvoel dat jy nie vinnig genoeg volg nie. Ek keer dus ook hier dat ek nie ‘n nek of arm of been breek nie.

Kyk net hoe hoog is die sneeu uitgekalwe om die paadjie “skoon” te hou. Tog het ons op sneeu geloop, want mense het die sneeu vinnig hard getrap.

As dit sneeu, is dit heerlik om op die sneeu te loop. Sommer vinnig, mens kyk waar die korreltjies (vlokkies) is en loop op hulle.

As dit begin smelt, loop jy baie versigtig. Anders val jy.

Ek het niemand sien val nie, maar baie video’s gesien van mense wat nie weer kon opstaan nie. Omdat hulle voete onder hulle bly uitgly het as hulle wil opkom.

Eers aan die einde van die sneeu het ek sneeuspykers ontdek. Aan my skoene geklip en heerlik gestap. Sonder om te val.

Mooi foto wat my aan ‘n mooi tyd in my lewe herinner. Ons het toe nog sorgeloos gelewe, beplan om ‘n maand later na Suid-Afrika te vlieg om by te wees tydens die geboorte van ons vierde kleinseun, ons seun se eersteling.

Op die foto stap ek langs die hoofstraat van ons woonstel se kant af in die rigting van die brug oor die Irtish rivier. Hier waar die sneeu opgehoop lê, draai mens links na die nuwe winkelsentrum toe. Wat net voor die pandemie oopgemaak het en toe weer toe moes staan. Ek wonder hoe die mense wat pas begin huur het dit oorleef het.

Ons sou nooit in ons wildste drome kon raai dat ons eers weer Oktober sou kon huis toe kom nie. Nie gedink dat ‘n pandemie vliegtuie soos voëls op die aarde sou hou nie.

Tog onthou ek nie die tyd toe ons nie geweet het of ons ooit weer huis toe sal kan kom nie. Ek is mos nou hier. Bykans ‘n jaar lank.

Ek onthou eerder die mooi van die sneeulandskap van die ysige land wat deur mense getem is om ‘n lewe daar te maak. As jy natuurlik die weertoepassing op jou foon uurliks dophou om seker te maak dat jy nie iewers langs die pad in ‘n sneeustorm vasgevang word nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

21 gedagtes oor “As mens op sneeu na winkels moet stap …

      1. I experienced snow every year in England. Only frost here in Australia. I was wondering where in South Africa there would be snow in winter? Unless the Mountains or that you are very much further south than us.

        Liked by 1 person

        1. Hi, Andrew, we lived for 18 months in Kazakhstan. From March 2019 to October 2020. In SA, we get snow on the highest peaks of mountains in the Western Cape and Kwazulu-Natal. But that happens seldom. Maybe twice in the winter. And then the rest of the country gets the cold winds.

          Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.