Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Vriesend-koue naweek langs die Vaal

Ons is die naweek rivier toe, hoofsaaklik om die boorgatpomp se probleem uit te sorteer. Natuurlik het ons geweet dat koue weer voorspel word. Hoe koud het ons nie gekyk nie.

So is ons met dunnerige baadjies en dun jeans Saterdagoggend vroeg rivier toe. Op die pad het ek reeds besef dat ek glad nie dik genoeg aangetrek is nie. Ook dat beide van ons se warm klere vanaf Kazakhstan in die stad is. En nie by die rivier nie.

Dit is nou toe ek by Wimpy moes uitklim om vir ons padkos te koop. Die wind het deur my baadjie, wat veronderstel is om ‘n windbreker te wees, gewaai en my rug ysig koud gemaak. By die rivier gekom, het die sonnetjie geskyn, maar die wind vanaf die suid-weste het hom uitgelag. Ek het son gesien maar die wind se ysige hande gevoel.

Ek wou gaan bokse uitsoek in die stoor vir ons huisie, maar ek het daarteen besluit. Ek het my dikste masker opgesit om die koue lug te keer om my longe te besoek. En ongedane sake teruggestap huis toe.

Ek het op my bed in die woonstelgedeelte geklim want die son het darem sy bes probeer om die kamer warm te maak nadat al die vensters toegemaak is.

Teen twee-uur kry ek die verrassing van my lewe.

Die man wat ons elektrisiteit vir ons doen, het sy vroulief saamgebring. En ek het nie huis skoongemaak nie, ek het op die bed gelê en aan die artikel gewerk wat ek vir portuur-evaluering ingekry het.

Die woongedeelte van die huis is die enigste plek waar ons kan kuier, die woonstelgedeelte bestaan hoofsaaklik uit kamers. En ek kan tog nie dat sy saam met my op die bed sit nie? En die woongedeelte van die huis kry glad nie in die middag son nie. Dit is vriesend koud. En dit is mos daar waar die vlermuise dink dit is hulle huis.

Ek moes eers lakens van die tafel afhaal om plek vir ons te maak. So terloops, die foelie werk. Daar was bykans geen teken van vlermuise in die kombuis nie. Die TV-kamer het ook heelwat minder gemors gehad. Maar ons het toe nie by die ophang van die foelie uitgekom nie. Ook nie die spuit van die bloekomolie en peppermentolie nie.

Ek het gaste gekry. En ek kon haar beslis nie vra om my daarmee te help nie. Noudat ek daaraan dink, sy sou my gehelp het. En so kon ons warm geword het. Ek was egter heeltemal te skaam oor die toestand van my huis om nog te vra dat sy help ook.

Ons ken mekaar al donkiejare. Hulle is heelwat jonger as ons, maar haar man het saam met manlief op die myn gewerk. En hy het vir my manlief se klubs rugby gespeel. Hulle dogtertjies was toe nog klein, nou is beide juffrouens. Ek is werklik trots daarop, so min jong mense sien kans vir die onderwys. Die ding is, ons en hulle het nog nie by mekaar aan huis gekuier nie.

Hulle was al by die rivier as haar man aan die krag werk. Maar toe was ons elke naweek by die rievier, was daar net spinnekoppe en nie vlermuise nie. En was my huis skoon en mooi.

En nou sit ons twee in die kombuis wat maande laas skoongemaak is. Ek het mos geweier om daardie deel van die huis weer skoon te maak nadat manlief gesê het ek is lui omdat ek geraas en blaas het oor die gemors van die vlermuise. Sy deel om skoon te maak. Die ding is, ek het nie die woonstelgedeelte skoongemaak nie, dit was te lekker op my bed.

Ek was dik aangetrek, verskeie lae bloese. Maar ek het koud gekry want al die bloese was vir die somer bedoel. Het dus geen hitte gebied nie, al het ek in lagies aangetrek.

Sy het aangedring dat ek my slaapklere en japon gaan aantrek. Iets wat ek nooit voor ander mense sou doen nie. Tog het ek teen die aand gegaan, my warm slaaphemp heel onder aangetrek. En my warm slaapbroek bo-oor my jeans. Dit het sommer baie gehelp omdat die koue wind nie meer so styf teen my bene aangewaai het nie.

In die laaikas in die kamer het ek ‘n warm baadjie ontdek. Ontdek is beslis die regte woord, want daardie laaikas is meer as twee en ‘n half jaar gelede gepak. Ek weet nie eens wat alles daarin is nie.

Dik gestop het ek die res van die aand getrotseer, want die pomp regmaak het langer geneem as wat die mans gedink het.

‘n Pyp of iets moes gelas word, die las moes droog word en toe stel manlief sowaar voor dat ons braai. Ek het gevoel soos my ma altyd moes voel toe ons op die plaas gebly het. As ‘n gesin kom kuier en my pa hulle sommer genooi om saam te eet. En dan het my ma die kos gerek gekry met brood wat sy self gebak het. Ons was altyd verstom dat almal steeds kon eet.

Ons het net genoeg vleis vir ons twee en die wag saamgebring. Ek het geen idee gehad of daar meel in die kombuiskas was nie, ons het braaibroodjies gekoop en saamgebring. Gelukkig was daar meel, ons was mos kersfees by die rivier. Dus kon ek pap en braaivleis aanbied. Genoeg eetgerei en borde is daar wel, die plek is toegerus.

Manlief het buite gebraai, lank na sononder. En toe is die twee mans weer na die boorgat waar die werk gedoen moes word. Die twee gaste is seker so teen agt by ons weg, want hulle het net na nege laat weet dat hulle veilig in Virginia aangekom het.

Ek wou voorstel dat ons terugkom stad toe, want ons gaan beslis langs die Vaal vries. Maar, die woonstelgedeelte is warmer en ek het baie komberse en warm goed by die rivier. Dus het ons gebly …

En nou is manlief siek na die gewerkery in die ysige weer. Ek dink ek het nie koue gekry nie, maar ek het Maandag en Dinsdag goorderig gevoel. Voel vandag heelwat beter.

Manlief het eers oor seer keel gekla, toe dat hy sleg voel. Gisteraand het ek hom dokter toe gesleep, sy longe het koue gekry. En ek is so kwaad vir myself. Daar is honderd vrae.

Hoekom het ek nie aangebied dat die mense oorslaap dat hulle die volgende dag verder werk nie?

Seker maar omdat ek nie skoongemaak het nie? Dan sou ek dit eers moes doen voordat hulle kon slaap. Ek is egter seker sy sou my gehelp het …

Dalk omdat daar nie water in die huis is nie? Die water word tans uit die rivier in die huis gepomp. En ek dink nie ek hoef vir enige iemand te vertel hoe vuil die Vaal se water is nie. Die toilette lyk vuil, die baddens lyk vuil. En die skottelgoedwasmasjien kan nog nie gekoppel word nie.

Of dalk omdat ek niks in die huis gehad het om mee kos te maak vir ‘n tweede ete nie? Die melki is ook opgebruik. Dit sou nogal sleg gewees het om op te staan en niks aan te bied om te eet nie.

Ek het egter nie aan een hiervan gedink nie. Die punt is: Ek het nie gedink nie!

En nou is manlief siek. Gelukkig dokter ons nog al die pad met Vitamien C en D en sink en ACC200 en alles wat nodig is om ons immuunstelsels reg te kry. Ek gooi ook knoffel en borrie en gemmer in die kos, maak seker dat ons gesond bly.

Hy wou nie dokter toe gaan nie, maar haar medisyne het die ding gedoen. Vanoggend staan hy op en voel sommer weer lus vir die lewe. Met ‘n antibiotika wat nie soveel skade kan aanrig nie omdat mens vir vyf dae lank net enetjie drink. Nie drie per dag soos wat ons in Kuruman moes doen nie.

Ons het doodseker gemaak dat die dokter weet dat dit nie die slimvirus is nie. Ons was nie met mense in kontak wat die virus onder lede het nie.

Daar is ‘n doodeenvoudige verklaring. Manlief was onverantwoordelik om in die koue buite te werk. Hy het die wind se ysige vingers tussen sy blaaie gevoel. En nie opgehou werk nie. Die goed moes klaarkom.

Ek kasty myself egter met die vraag of dit nie my verantwoordelikheid was om vir hom te dink nie.

Die probleem is dat ek nie op die oomblik rasioneel kan wees oor koud en warm nie. Nie een van die ander drie het gekla dat hulle koud kry nie. Inteendeel, die vriendin was nie eens baie warm aangetrek nie. Weens my ystertekort, kry ek vreeslik koud as ander mense warm kry. En manlief het in Kazakstan in baie ysige weer ver onder vriespunt werk toe gestap. Hy ken van koue.

Die volgende oggend het ek eers kwart voor nege kans gesien om uit te gaan. En die tweede verrassing vir die naweek gekry.

Om water in die huis te hê, moet die sproeiers aan wees. Ek het al een keer vertel dat die wag die sproeiers deur die nag aangehou het. En foto’s gewys van die yskristalle wat onder die boom gelê het. Klaar afgeval toe ons daar aangekom het.

Die keer het ‘n yskristalwêreld my ingewag. Soveel anders as in Kazakhstan na die sneeu. Daar het die sneeu soos sand op die bome se takke gelê. En afgewaai of geval sodra die wind gewaai het.

Hier moes die arme bome vir die lui sonnetjie wag om die ys te smelt. Want dit het – soos haelkorrels in die wolke – lagie vir lagie gevries deur die nag. Om al groter en groter yskristalle te word. En so ‘n ysige sprokieswêreld te skep.

Ek deel ‘n paar van my mooiste foto’s …

Die eerste groep foto’s wys hoe die gras gelyk het. Ronde yskristalle met langer kristalle tussin-in waar grassies en bossies regop bly staan het.

Duidelik het die gras nie besef wat hulle gaan tref nie. Hulle het regop bly staan. Met koppies soos ruimtevaarders s’n.

Die tweede groep foto’s wys hoe die bome gelyk het. asof ysswaarde aan die takke vasgemaak is. Die stalaktiete het natuurlik gevorm soos wat water teen bevrore gedeeltes afgeloop en gevries het.

Ek was ten minste reg. Dit was verskriklik koud. Ek het rede gehad om so koud te kry … Die eerste foto is vir my so mooi. Dit lyk asof die twee bome se takke handjies probeer vashou het om hitte by mekaar te kry. En toe word dit sommer vasgevries.

So terloops, dit het ek nie in Kazakhstan gesien nie. Ek het wel foto’s waar sulke ysswaarde van geboue se dakke afhang. Maar nie van bome en gras af nie.

Het jy ook sulke foto’s die naweek geneem? Of ‘n vorige keer?

Deel gerus, ek sien uit daarna.

Hooffoto: My drie Schnauzers het saam met my oor die ys geloop, hier staan Shilo met sy pootjie in die lug. Toe ek BB roep, kom sy stadig aangeloop. En toe eers besef ek dat hulle pootjies vreeslik koud moes kry. Dus is ek die huis in om hulle pootjies met die haardroër liggies en stadig warm te maak.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

29 gedagtes oor “Vriesend-koue naweek langs die Vaal

    1. Baie dankie, ek het eers toe ek die foto’s neem besef dat ek alweer handskoenloos ysige foto’s neem. Ons sub-zero verskil egter baie van Kazakhstan s’n, toe ek ligte vriesbrand in my vingerpunte gekry het was dit -28 grade Celsius buite.

      Liked by 2 people

      1. Ek doen nie Christa, eerlik, dit maak my dood. Aircon ( praat van ongesond), ek kan jou nie sê hoe ek normale seisoene mis nie. Ons is nou hoeka mos in herfs, Al Ain gemiddelide temeratuur is 40-42 grade, Dubbels darem af na so 37-40 toe en glo my mens voel dit. Volgende maand is dit daai dooie humiditeit en dan….whohoooo, kan mens weer hopenlik asemhaal tussen mid Nov tot so Maart. Temp gaan as ons regtig gelukkig is darem so in lae twintigs, soms laer🙏🙏🙏

        Liked by 1 person

  1. Sjoe! Bibberkoud. Ek dink jy het hulle nie genooi nie omdat jy amper gedisoriënteer was deur die koue en jou huis wat nie in orde was en toe die onverwagte gaste. Soms os alles net te veel op daardie oomblik. En dit is heeltemal okay. 😘

    Liked by 1 person

  2. Sjoe, daardie foto’s alleen laat my bibber. Ek was jare terug een keer by die Vaalrivier – maar in die somer en dit was vreeslik lekker, vis probeer vang en niks gevang gekry nie – ha-ha.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.