Gepubliseer in Joernaal

Dankbaar vir die dingetjies in my lewe

Vandag wil ek sommer skryf oor my dankbaarheid vir die klein dingetjies in my lewe. En die grotes.

Ek is dankbaar dat ons die huisie kon koop. Eerste een waarna ons gekyk het en dadelik besluit om te koop. En nou bly ons hier en ek is gelukkig in my eie huisie. Wat so vinnig skoonmaak dat dit eintlik nie as werk beskou kan word nie. Tog voel hy altyd vuil – want die woefkinders dra los, droë gras die huis in …

Ek is dankbaar oor die wind wat elke dag waai, al is dit vol stof en roet en moet ek my deure soms dig maak om die swart roet van motors se uitlaatgasse uit te hou. Dit is wonderlik om uit te stap en die wind speel deur my hare, oor my ore, swiep my romp al om my bene.

Ek is dankbaar dat ek na bykans drie jaar weer buitekant my huisie op ‘n stoep kan sit en werk. Met niemand, maar niemand wat in my erfie inkyk nie. Ek het vanoggend oorweeg om dalkies sommer in ‘n bikini te klim en my lyf so bietjie bruin te brand voor ons die einde van die maand see toe gaan.

Ek is dankbaar dat dollatjie haar pa gebel het en vertel het dat sy verlang. Toe ek vra wanneer ons sal kan gaan kuier in die Kaap, was die antwoord nie binne die volgende jaar nie. Hy moet verlof opbou. Maar sy kan met haar pa toor. Toe ek weer sien moet ek die kaartjies bespreek en betaal want ons vlieg die lang naweek George toe.

Ek is dankbaar dat Kulula weer van 1 September af kon opstyg, want ons sou nie vir ‘n lang naweek see toe kon ry nie. Ek twyfel ernstig of ek die naweek ‘n draai in Stilbaai wil gaan maak, maar ek het die gevoel dat ek dit wel gaan doen. Want die see trek my soos ‘n magneet, ek moet my voete in die water sit, die sand deur my tone voel.

En ja, ek is ook dankbaar dat hulle nie Natal toe getrek het nie. Enige dag sou die Noordkus my keuse vir ‘n blyplek wees, maar die sand is in Desember so warm dat dit werklik onaangenaam is. Die warm see help nie veel as mens se voete verbrand nie … En na die gemors wat in Kwazulu Natal aangejaag is toe plekke afgebrand is, wil ek nie meer die Natalse kus besoek nie.

Ek is dankbaar dat ons ‘n huisie so naby seun kon kry. Ons sien hulle sover elke naweek vir ‘n veel langer kuier as wat ons hulle gesien het toe ons nog in Roodepoort gebly het. Want sien, hier kan baba sommer ook gou bad en voor hy wakker word is hy in sy eie bedjie. Hulle bly nie meer as 5 minute van ons af nie.

Ek is dankbaar dat ek na twee jaar in die buiteland Afrikaans hoor! Kan praat en dat mense my verstaan. Genade tog, dit is wonderlik om nie meer soos ‘n peuter te voel wat alles met handgebare moet verduidelik nie. Seker daarom dat ek kleinseun so goed verstaan – ek ken die frustrasie as mense jou nie verstaan nie.

Ek is dankbaar vir manlief wat negatiewe ervarings verwerk en aanbeweeg. Ek het verskriklik gesukkel om van ‘n baie aaklige ondervinding te vergeet. Dit is nou een jaar later. Ons het baie verloor, maar soveel meer gewen. Die Here gebruik pionne as ons nog nie by die regte besluit uitgekom het nie. Een jaar later sien ek hoe alles elke keer in plek val. En noudat het ek hulle finaal uitoorlê …

Dan sal ek seker ewe wintie moet skryf dat ek dankbaar is oor die hoeveelheid grysstof wat die Here aan my beskikbaar gestel het. Daarsonder sou ek hulle nie kon uitoorlê nie. Hierdie intellektuele uitoorlê bied my ure genot as ek na die statistiek kyk.

Daar is natuurlik ook groot dinge waarvoor ek dankbaar is.

My manlief is my steunpilaar, maar ook seker my grootste kritikus. Soms word ek kwaad daaroor, maar die meeste van die tyd geniet ek dit om die kritiek te gebruik om te verander waar ek wil. En soos ‘n steeks donkie vassteek as ek nie saamstem nie.

My kinders (seun, dogter, skoondogter, skoonseun) maak elke dag die moeite werd. Ek verlang nie eens na die dae toe ek hulle onder een kombers kon toemaak nie, hulle verryk my lewe met hulle uiteenlopende geaardhede.

My kleinkinders is my hart se punt, elkeen van die vier seunskinders. As daar na 10 jaar ‘n dogtertjie gaan wees, sal ek weer moet leer hoe om met dogtertjies te werk. Seuns speel sommer alles saam met ouma. Ek het al boom geklim met baba in my arms toe ‘n wilde bok al nader aan my kom.

My grootwordgesin is ook ‘n groot genade, ons is almal nog gespaar. My pa en ma, ons vyf susters, ons kinders, ons kleinkinders. Die verhoudinge in die gesin het egter ‘n dinamika wat my moeg maak. As ek een ding vir die nuwe jaar kon wens, is dit dat almal besef hoe groot die genade is dat ons en ons ouers en ons kinders almal nog gespaar is. En dit omarm. My pa word 88, my ma 82. Dit is genade groter as waarvoor ons kon hoop.

My drie Schauzers is werklik my reddende genade. Ek weet nie hoe ek in Kazakhstan sonder hulle oor die weg gekom het nie. Dalk het Mia gehelp? Hulle trek my uit die huis, dwing my om op die stoep te sit en werk. Dat hulle in die sonnetjie kan bak. Vra water, vra kos en lyk verstrooid as ek opstaan en hulle wou eintlik nog slaap. Natuurlik ook omdat hulle my vir alles vergewe.

En dan is my blogvriende en vriendinne ook ‘n reddende genade. Almal, die Goue Vroue ook. Die laaste tyd is ek werklik nie lus vir enige iets nie, eintlik sommer ook nie eens vir praat nie. Maar dan kom die boodskappies. Is jy okay? Waar is jy? Dankie veral vir San en Una, ek lief julle.

Daarom sluit ek af met dankbaarheid oor die mens wat ek uitgedraai het. My ouers het geskaaf, die kerk het geskaaf, my skole en universiteite het geskaaf, vriende het geskaaf, kinders en manlief ook en die Here het natuurlik die heel meeste geskaaf.

Skaaf steeds. Veral deur die leesplanne op die bybeltoep wat ek en Mia kies om ons geloof elke dag te bou. Daarom is ek ook dankbaar dat ek deur die bybeltoep ook op ‘n geestelike vlak kontak met Mia kan hou.

Want … ek sukkel op die oomblik met dankbaarheid vir my kerk. Ek vermoed ek gaan ‘n nuwe kerk soek, een waarin ‘n sogenaamde professor in Teologie se skrywe dat mense wat glo dat die bloed van Christus hulle teen die virus beskerm, emosioneel is, nie vir my as Sondag leesstof voorgehou word nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Dankbaar vir die dingetjies in my lewe

  1. Dis goed om mens se redes tot dankbaarheid soms by due naam te noem en te tel. Ek glo dit gee rede tot meer dankbaarheid. Tot meer positiewe denke. Jy is deur soveel goed die afgelope jaar of wat. Ek sien jou sit in die sonnetjie op jou stoepie net ‘n glimlag. Ai, tog, professor!

    Liked by 1 person

  2. Ek is bly dat jy hieroor geskryf het, Christa. DIt is goed om elke nou en dan terugkyk en besef hoe veel mense en gebeurtenisse daar is om voor dankbaar te wees. Ek hoop jy het nou in ‘n meer gelukkige ‘plek’ voel en dat hierdie some vir julle baie geluk sal bring.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.