Gepubliseer in Reisjoernaal

Ons en Dusty het Kazakhstan geniet

Vandag herinner my iPad my aan hierdie foto. Dusty in haar ondergrondse garage in Ust’-Kamenogorsk of Öskemen in Kazakhstan.

Ons het Dusty in Julie 2019 in Almaty gaan koop. In Kazakhstan kan jy nie ‘n kar op skuld koop nie, jy moet haar kontant betaal. En ons moes eers spaar om haar te kon bekostig.

Daarna het ons die 1 000 km reis terug na Ust’-Kamenogorsk geneem. In ons eie nuwe karretjie. Saam met manlief se tolk en sy Natasha. Ek moes ‘n datastokkie vol Afrikaanse musiek vir die lang pad laai. En hulle moes saam luister. Want hulle wou ons nie die pad alleen laat neem sonder ‘n gids nie.

Die eerste 250 km uit Almaty was die pad mooi en ons kon nie verstaan waarom mense dink dat dit ‘n slegte pad is nie. Langs die pad was selfs netjiese toilette (al is dit die gat in die grond soort). Ons het aan die einde van hierdie mooi pad in ‘n groot dorp oornag en saam met hulle uitgeëet.

En toe tref ons die werklikheid.

Die groter dorpe is so 300 km uit mekaar. Tussenin is niks. Regtig. Daar is nie garage waar jy kan stop om die motor vol te maak en ‘n koeldrank vir die pad te koop nie. Daar is nie toilette nie. Daar is baie gehuggies, met ‘n stuk of vyf tot vyftien huisies. Geen hotelle of oorslaapplek in die dorpies nie. Dit was soos ‘n groepie plothuisies.

En die pad was lelik. Hulle was besig met padwerke en ons het die dele verkies waar ons in die stof van ander motors langs die pad gery het. Die pad self was so vol slaggate dat mens langs die pad moes ry. Toe ons ‘n jaar later na Almaty trek, het ons Dusty op ‘n trok laat laai dat sy die pad so terugvat na Almaty. Ons het liewer gevlieg.

Ons het drie dae aan die 1 000 km gery. Nog een keer oorgeslaap in ‘n effentjiese dorpie, waar mens drem ‘n hotel kon kry om oor te slaap.

Sonder toiltette was dit vir jou ‘n ding. Gelukkig het Natasha eers ‘n nood gehad en gevra dat manlief langs die pad stop sodra hy ‘n boom sien. Iets wat ook nie volop langs die pad was nie.

Ek het besluit om tot by ‘n dorp te wag. In ‘n effens groter dorpie het ons ‘n toilet by ‘n verlate garage gekry. En die tweetjies het my geamuseerd dopgehou toe ek soontoe is.

Die deur kon nie mooi toe nie, die grond langs die hokkie het begin wegtrek en die vlieë het om die jy-weet-wat saamgedrom. Die nood was groot en ek het maar my neus toegedruk en ingestap. Maar toe is ek vinniger uit as in. Die mense het die gat gemis en dit was een te veel vir my.

Dus het ek Natasha se voorbeeld gevolg. En ek het reeds vertel daar was min bome langs die pad.

Daar was wel baie plekke waar die pad heelwat hoër as grond langsaan was. Dan kon ek darem daar af om die ding te doen. Nooit in my lewe gedink ek sou so iets doen nie, maar glo my vry. Ek verkies elke keer die vars natuurskoon bo die gemors in die hokkies. Buitendien, hurk gaan gehurk word. Hulle het mos nie sittoilette nie.

Ek het so baie stories oor ons en Dusty vertel. Ook dat sy in Almaty aan ‘n regte Kazakh verkoop is toe ons huis toe gekom het.

Op die hooffoto staan sy in ons ondergrondse garage in Ust’-Kamenogorsk. Dit moes sy kry want dit word (a) -40 grade snags in die winter en (b) ons het in die dorp oral gestap. Alles is heeltemal te naby om per motor daarheen te ry. As dit eers begin sneeu, het die sneeu so meter en ‘n half dik op die dak van die ondergrondse garage saamgepak. Maar – die ondergrondse garage is uitgegrou om laer as vriesvlak te wees. Daarom was dit koel soos rypwinters daarbinne, maar Dusty het darem nie gevries nie.

Maar naweke is ons in Dusty in – somer, winter, lente en herfs. En dan het ons die platteland om ons stad verken.

Dit was ‘n tyd in ons lewe wat skielik somlank gelede voel. Tog onthou ek elke detail as ek ‘n foto sien. En dan dink ek daaraan dat die Here ons veilig bewaar het in ‘n land waar niemand ons verstaan het nie. Ons was mos tolkloos, as ons iets wou doen of koop, moes ons op kaarte op ons fone staatmaak (baie goed), vertaaltoeps (minder goed) en handgebare.

Dit is werklik lekker om terug te wees in my land waar mense my verstaan. Waar ek in Engels of Afrikaans gehelp kan word. Daar het ek Russies probeer leer praat, maar dit is een nagmerrie. Want a’s word o’s as die klem nie daarop in ‘n woord is nie. En daar is nog voorbeelde van sulke verwarrings.

Hier ry ons Volswagens, maar ek moet sê dat ek spesiale herinneringe aan Dusty het.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

2 gedagtes oor “Ons en Dusty het Kazakhstan geniet

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.