Gepubliseer in Reisjoernaal

Kindervervoer in Almaty, Kazakhstan

Ek het al soveel keer oor drie dinge gesels wat vir my in Kazakhstan uitgestaan het. Veiligheid, gehoorsaamheid en dat mens oral heen stap. Hierdie foto waaraan my iPad my vandag herinner is in Julie 2020 in Almaty, Kazakhstan geneem.

Ons het in Dostykstraat (regs op foto) afgestap, met die mooie Dostyk winkelsentrum links van ons. Toe kom hierdie pa met sy klein seuntjie by ons verby, die kind op sy driewielskopfiets. En die pa wat hom effens aan die hemp vashou om seker te maak dat hy nie spoed vang en nie betyds by die verkeerslig stop nie.

Dostykstraat is ‘n baie besige straat, met breë sypaadjies en baie voetoorgange. Die straat verbind die onderste deel van die stad met Shymbulak ski-oord wat hoog in die Altai-berge geleë is. Die straat voor is Zholdasbekovstraat, wat tussen die Dostykstraat en die president se huis loop. Ek het ons woonstel ook op die kaart gemerk.

In Kazakhstan kry voetgangers mos voorkeur, behalwe natuurlik by verkeersligte, waar die reëls gehoorsaam moet word. En hierdie pappa is reg om die kind betyds te stop voordat hy oor die ewe besige straat voor ons jaag.

Die foto herinner my aan ‘n tyd toe ons erg ingeperk was. Ons het skaars in Julie 2020 in Almaty geland, toe die Dostyk winkelsentrum moes toemaak weens strenger inperkings. Ons kon kos gaan koop by die supermark in die sentrum, die toilette besoek en medisyne koop. Winkels en restaurante was toe.

Ons kon egter ook in groepe van nie meer as drie in die straat gaan stap vir vars lug. En dit het ek en manlief gereeld gedoen.

Dit het my altyd verras hoe vrouens op die groter skopfietse, wat selfs motors kon hê, by ons verbygeswiep het. Die een wat ek die beste onthou, het met spykerhakke op die fiets gebalanseer.

Soms wonder ek of ek dit ook so sou doen toe ek nog skool gehou het. Want toe het jy my met niks anders aan die voete gevang nie. Ek was versot op spykerhakke, het meer skoene as klere in jy kas gehad.

Mettertyd het ek die spykerhakke laat gaan – nadat ek in 2008 ophou skoolhou het. Teen die tyd wat ons Kazakhstan toe getrek het, het ek die vreugdes van Dischem se Solite skoene ontdek. Laer hakke, voel of ek kaalvoet loop. Niks wat nêrens seermaak nie. Daarom het die spykerhakke my aandag getrek.

Maar ook omdat ek sopas van Ust’-Kamenogorsk (Öskemen) na Almaty getrek het. In Ust is die vrouens plat op die aarde. Letterlik. Ek het selde iemand het spykerhakke gesien.

Miskien omdat Ust werklik baie agter die voormalige hoofstad van Kazakhstan is?

Ust is eers in die 1990’s aan die wêreld bekend gestel omdat kernverwerkings tydens die Russiese bewind in die stad gedoen is. Dit word as ‘n werkerstad beskou, nie as ‘n toeristedorp nie. Al het Ust soveel geleenthede om sy natuurskoon te gebruik om toeriste te lok.

En dit herinner my daaraan dat Ust vanjaar 301 jaar oud is. Ek lees dat Ust die derde oudste stad in Kazakstan is, wat kan help om te verklaar waarom die Russies-geïnspireerde geboue so oud en lelik is. Maar kyk hoe mooi is die stad se vlag en wapen.

Ek het in 2019 vertel dat ek my besimpeld geskrik het toe die naghemel een nag in ontploffings van kleur verlig is. Die een vuurwerk na die ander. Om die 299ste verjaarsdag van die stad te vier. Ons het die 300ste verjaarsdag in 2020 misgeloop omdat ons toe reeds na Almaty verhuis het. En ek moet tog uitvind of dit toe ook so luidrugtig gevier is. Want toe was inperkings baie strengin Kazakhstan.

Terug na die foto – die trapfietse is nie net ‘n vorm van kindervervoer in Kazakhstan nie. Grootmense swiep ook op hulle elektriese trapfietse verby jou op straat. Sommiges is selfs 4×4’s om die berg aan te durf. Veral in Almaty.

Noudat ek daaraan dink, is dit waarskynlik te verstane. Ust is geleë op die walle van die Ulba en Irtish riviere – waar hulle mekaar ontmoet om verder te vloei. Gevolglik is die oppervlakte baie plat, mens kan ver stap sonder om regtig moeg te word.

Almaty is teen die hange van die Altai berge geleë en dit is nogal ‘n stywe opdraende terug na waar ons gewoon het as mens na die ou dorp toe gestap het.

Daar is egter in beide stede baie goeie publieke vervoer, wat die aanskaf van ‘n eie motor nie ‘n noodsaaklikheid maak nie.

Alhoewel Almaty die deftiger stad met die deftiger busse en vervoer is, onthou ek die stad vir die skopfietse. Veral omdat ek my verwonder het aan hoe bedrewe die kleinste kinders daarmee was …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.