Gepubliseer in Joernaal

Bloedstollende oomblikke as ek kleinseun oppas

Gister middag bel skoondogter, kan ma asseblief gou na kleinseun kom kyk, ek moet ingaan werk toe. Sy werk al sedert die eerste inperkings van die huis af, kleinseun is een gelukkige kind. Daarom kan die inperkings vir hierdie ouma-hart maar vir altyd aanhou.

Ek het intussen ‘n nuwe reëling gemaak, kleinseun kom Maandag- en Vrydagoggende by ouma speel. En dit was juis sy dag, sy het hom al kom haal dat hy sy middagslapie vang. En my woefkinders sommer vir ‘n skeer gevat.

Ek is in die kar om na ons babatjie te gaan omsien.

Die nuuste is dat hy baie ontsteld is as hy sy ouma sien. Wat my baie ongemaklik maak, net-nou dink die kinders ek maak die kleinkind seer. Veral omdat ons so lekker speel, sal dit sleg wees as hulle so dink.

Ek vermoed vanoggend eers dat hy my met skeiding van sy mamma assosieer. Amper soos kleintjies by kleuterskole maak totdat hulle die lekker insien.

As hy eers oor die aanvanklike kwaad is, speel ons twee ‘n hond uit ‘n bos uit. Hierdie ouma weet buitendien waarvan hy hou, trek vinnig sy aandag weg van sy mamma wat moet gaan.

Hierdie ouma was pê toe hy huis toe gaan.

En natuurlik moet ons in die tuin speel wat baie groter as sy ouma se tuintjie is. En die klein klits is ‘n besige knapie. Hou in die laaste tyd ook daarvan dat ouma dra eerder as wat hy loop. Heerlik as die lyfie so teen my is.

Ons het om die huis gestap, in die swaai gery en lekker gespeel. Die swaai is ver regs op die hooffoto, ouma het op stadium die plastiese een gekoop om langs die buiteband te hang.

En toe ek weer sien, wil hy nie uit die swaai uit nie. Ek mag nie swaai nie, maar hy dreunsing swaai-swaai saam met ouma terwyl hy die beentjies self swaai.

Die huiswerker kom sê ek moet vir haar hek oopmaak, maar ek kan nie.

Kleinseun skree as ek die veiligheidsbandjie los wil maak. Uiteindelik maak ek dit so bietjie stewiger vas, loop tot ek die hek kan sien en maak vir die huiswerker oop en toe.

Met ‘n hart wat bons in my borskas, ek is te ver om te keer dat hy seerkry as hy wil uit.

Kleinseun is in sy element. Hy kan nog swaai. Salig onbewus van ouma se bonsende hart – want – as die kind daar uitval, gaan daar drama wees.

Uiteindelik is hy moeg geswaai en kan ek hom uittel.

Hy moet liewer vir my wys hoe hy teen die glyplank opklim. Want dan kan hy afgly. En hy doen dit soos ‘n pro met my hulp. Want hy plant die voete met die plakkies aan styf op die glyplank, boude ver in die lug.

Toe besef ek eers: As hy bo is, is by basies ook bokant ouma se kop.

Toe draai ek die lyfie om, maar die mannetjie het ‘n wil van sy eie. Hy sê net Nee! en dan is dit klaar. Hy wil nie afgly nie. Hy wil op die platform kom.

Nou kyk, ek het die platform so bekyk en besluit as hy afval kan ‘n nek of been gebreek word. En ek kan nie betyds reg rondom hierdie stellasie hardloop nie om te red nie.

Ek tel af en hy is baie ongelukkig, en stap na die hout trappies toe. Ek is tevrede, daar kan hy mos nie op nie?

Wel, toe ek weer sien, is hy soos blits al by die tweede trappie.

Dom ouma help hom so ewe oor die ontbrekende trappie (hooffoto) wat eintlik mooi kan keer dat hy tot bo klim.

Ek staan nog so trots vir die mannetjie en kyk wat tot bo kon klim, toe hy woeps bo-op die platform klim. Daar is twee dwarsbalke rondom, maar as hy op enige manier skrik of val, kan hy afval.

En daar is nie regtig maniere waarop ouma ook tot bo kan klim nie.

Hy het my uitoorlê!

Ek besluit toe om hom by die netkant te lok om daar af te klim. Maar hy lag vir my. Nee!! Gee pad na die ander kant toe.

Hy is sewentien maande oud, nog onvas op die beentjies as hy eers begin hardloop.

Toe klim ek die trappies op, al het ek erg getwyfel of dit my gewig gaan kan dra. Hy wag gelukkig bo, lê sommer op die ruggie. En ouma vat vas en klim met baba en al agterstevoor, tree vir tree, of is dit nou boudskuif vir boudskuif die trappies af na onder. Wel wetende dat die ontbrekende trappie ‘n val kan veroorsaak.

Toe nie, ek kan trots berig dat ons albei dit veilig tot onder gemaak het. My hart kon ophou resies jaag.

Toe wil kleinkind by die sydeur aan die braai se kant in die huis in. Ek stoot die glasdeur oop, maar die tralies is gesluit. Ons kan nie in nie, hy wil in. Dus moet ek paai terwyl ons om die huis loop na die agterdeur toe.

Terug in die sitkamer sit ek en hy en speel, veiliger plek, is dit nie?

Toe ek opkyk, jaag my hart vir die derde keer resies.

Splinter, die kat wat net in die huis mag wees, het die oop glasdeur gesien en sit buite op ‘n tafeltjie die wêreld en betrag. Die honde wat hom binne hou, is mos besig om geskeer te raak.

Skoondogter het reeds laat weet sy is op pad terug, sy het my Schnauzers by die mooimaaksessie gaan haal en reeds by my huis afgelaai.

Ek het minder as 10 minute om die kat te vang.

Met ‘n baba op die heup!

Ek is weereens by die agterdeur uit en om die huis na die braaiarea toe.

Splinter sien my aankom en draai hom reg en kyk my reg in die oë.

Ek en Splinter is sedert Januare 2020 nie maatjies nie.

Ek het met hom gespeel en toe byt hy my aan die pols. Of was dit krap? Dit was op ‘n aar en baie, baie seer. Maklik die seerste seer wat ek kan onthou. Dit was selfs nog seer toe ons al ‘n rukkie in Kazakhstan terug was. Ek kan nie glo ek het nie vir ‘n Tetanus inspuiting gegaan nie!

En ek praat met Splinter.

Jou ma is op pad huis toe. En daar gaan drama wees omdat jy buite is. Hy buk laag af op die tafel, ek is bekommerd dat hy gaan spring en boom klim. Daar is baie bome.

Maar ek stap doelgerig nader.

Kyk hom vas in die oë, vandag moet ek ‘n kat mesmeriseer om hom te oorheers en nie hy vir my nie.

Kleinseun sit doodstil en kyk wat ons gaan doen.

Ek kyk die kat vas in die oë tot ek by hom kom. En hy wag vir my. Ek wys geen vrees vir die naels of tande nie.

Al vermoed ek dat ek bebloed uit die situasie gaan kom.

Anders as wat ek verwag, sit die swaar kat stil dat ek my los arm onder deur sy maag druk en hom optel. Hy hang soos ‘n vel oor my arm, maar verdra dit gedwee dat ek hom so om die huis dra.

Hy het mos gesien hoe speel ouma met kleinkind. Nou is dit sy beurt …

Toe ons by die agterdeur kom, het hy effens geskop en ek kon kleinkind neersit dat hy saam met ouma die huis instap. Eers nadat die agterdeur toe is – en die voorste glasdeure ook, het ek kans gesien om die kat neer te sit.

Veilig terug in die huis.

En toe hoor ek die motor by die hek, skoondogter is terug, ek moet die hek vir haar oopmaak.

Ek skat die drie skrikke het my hart genoeg rede gegee om bloed na elke eindpunt te pomp. Adrenalien het seker ook ‘n rol gespeel. Maar beide kat en baba was veilig in my sorg.

Ek oordryf eintlik, my hart het nie resies gejaag nie.

Ek was verstom.

Dit was asof ‘n behoefte aan oorlewing oorneem en mens se brein stilmaak. Sodat jy net fokus op die potensiële gevaar of probleem. Om maniere te kry om die probleem so vinnig en doeltreffend as moontlik op te los. Die Here se genade wat oor jou spoel.

Vanoggend pomp my hart sommer weer sjokolade as ek aan die kleinkind van my dink, hy en die kat het vir ‘n baie opwindende middag in my lewe gesorg.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

22 gedagtes oor “Bloedstollende oomblikke as ek kleinseun oppas

  1. Dankie tog daar is nog n ouma wat n vuurdoop die week agter die rug het! Ek het nogal alleen gevoel totdat ek toe sien dat dit daar eintlik 4 van ons was. Jy, ek, Scrapy en Perdebytjie….en ons is nog hier om ons stories te skryf!

    Liked by 2 people

  2. Ek is ‘n kat mens, juis oir hulle so hulle eie manier het. Mense sê mos hulle het nog nooit vergeet mense het hulle gesien as gode nie😄. Jy het omtrent ‘n besige dag gehad🌻🌻

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.