Gepubliseer in Joernaal

Ouma se hart se puntjies in die Wes-Kaap

Drie van my hart se vier punte – wat net deur kleinkinders gemaak kan word – het na die Wes-Kaap verhuis. Toe ek en manlief die virus onder lede gehad het, in Kuruman moes bly en nie kon groet voor hulle die lang pad aangedurf het nie. En dit het ‘n kuier in die Wes-Kaap vereis, want ek moes my kleinseuntjies sien.

Ek wil vandag so bietjie oor die drie klein klitse gesels, want elkeen het sy eie manier van doen, sy eie rede waarom hy ‘n plekkie in my hart het. Al is dit vanselfsprekend dat hulle plekke presies daar sal wees.

Oudste is in graad 4, ‘n begaafde seuntjie – al drie is – en ek het my die naweek weereens verwonder aan hoe die literatuur en die praktyk byeen kom. Ek het ‘n honneurs in begaafdekindonderwys.

Ek gaan enkele voorbeelde noem – spesifiek wat oudste betref.

Die seunskind het in ‘n sprinkaan verander, lang maer beentjies en al. Al eet hy baie, dit is groeityd. Ouma is natuurlik geen sprinkaan nie en was nogal verontwaardig toe hy in die Prado tot teen die voorste sitplekke wys hoe groot ouma se maag is. Dit is darem nie waar nie, maar ek het wel gewig aangesit sedert hy my laas gesien het. Die wil om te oefen en iets daaraan te doen, het iewers verdwyn.

Al het ek geweet dat ek see toe gaan …

Ek verwonder my aan hoe vinnig hy ‘n grappie snap, hoe maklik hy dieper lees en verstaan wat eintlik bedoel word. En die glimlag as hy kliek dat ek weet dat hy verstaan. Mens moet baie versigtig wees wat jy voor hom vertel, hy snap heeltemal te gou.

Sondagoggend was daar so effense oorlog tussen hom en sy pa, want hy is versoek om twee gholfsakke in die Prado te laai. Met ‘n deur wat nie oop bly nie, en ‘n motor wat in die garage staan, was die taak te groot. Volgens hom.

Ek het nie gaan kyk hoe goed die taak voltooi is nie, was net toeskouer by die relletjie.

Sy brein kan oorsaak en gevolg beter as sy portuur – en mag ek my verstout om te sê politici – verstaan. Voeg perfeksionisme en begaafdheid daarby en jy het ‘n resep vir ‘n emosionele uitbarsting. Die intellektuele ontwikkeling is te vinnig vir die emosies om by te hou.

Hy het reeds uitgewerk wat gaan gebeur en kom baie kwaai verduidelik dat die taak te groot vir hom was. Want sy pa gaan kwaad wees omdat die sakke nie reg in die kar gesit is nie, en dan kan hy weer niks reg doen nie, maar sy pa moet verstaan dat hy nog net ‘n seuntjie is. En dat seuntjies nie alles kan doen wat mans kan doen nie. Dit alles word baie kwaai vir sy pa gesê.

Sy pa het kwaai gesê dat die emosionele uitbarsting onnodig was. Hy sal gaan regmaak. Maar hy was nog kwaai. Terloops, my boude sou gebrand het, my eie kinders s’n ook. Toe het mos nog nie veel oor die eienskappe van begaafde kinders geweet nie.

Ek het in die kamer probeer troos, maar dit was onvoldoende. Want ek het al voorheen vir hom gesê hy moet sy gevegte moet kies. Dus moes ek ook hoor dat ouma niks nuuts bydra om die probleem op te los nie. Kwaai antwoord wat my nogal verras het, waarom weet ek nie. Want die mannetjie is ook op die drumpel van tienerwees. En hy ontdek sy eie self so tussendeur.

Toe die drie manne van die gholfbaan af terugkom, was die oorlog gelukkig vergete. Hy is afgerig, oupa en pa het gholf gespeel.

Middelste wou dadelik toe ons in die huis instap na die lang dag op treine en vliegtuie en in karre weet waar hulle persentjies is. Want hy maak elke keer seker dat ouma onthou van persente. Herinner my telefonies.

Ons het vir hulle klere gekoop en saamgeneem – iets wat die drie seuns altyd as ‘n geskenk beskou. Dit is ook dadelik aangepas, oupa het jeans gekies met stukkende plekke op die knieë. Ouma wou niks weet nie, sy het juis in die week twee van hulle oom se jeans netjies gelap.

Maar die seuns was in die wolke, die broeke is perfek. Mode. Die probleem is in die week opgelos toe hulle mamma ‘n soortgelyke broek vir een van hulle gekoop het.

Middelste is ‘n ou sagte seuntjie, ook in ‘n sprinkaanfase. Graad 1. Sy gunsteling sêding vandat hy in graad R na die groot skool is, is dat hy skool haat. Die keer spot ouma dat hy dan na Ermelo Hoërskool moet gaan. Ons skool se afkorting was EHS en die kinders het vertel dit staan vir Ek Haat Skool.

Die dotjies van die “e” van hoërskool by die skool se ingang het gereeld verdwyn, wat die skool ‘n heel ander naam gegee het. Een wat gesorg het dat ABK van Zijl, ons skoolhoof gesorg het dat dit baie gou reggemaak is.

Die keer vra ouma vir die eerste keer wat die juffrou sê as hy sê dat hy skool haat. Ek was mos self een, net vir graad 8 tot matriek. Ken nie laerskool nie.

Want hy presteer net so goed soos ouboet. Hoekom sou hy skool haat? Steeds haat, in ‘n nuwe skool?

Die antwoord het ons die hele naweek laat giggel.

Want wie sou nou verwag dat die juffrou dit met “Nonsies” sou afmaak?

Soggens het hy by oupa en ouma in die bed kom spring. Dit was hemels, die ou sagte seunslyfie by ons twee tot die ander wakker word. Soos ek dollatjie gereeld vertel het, het dit toe gebeur. Die seuns slaap al hoe later en later en later …

Jongste is nie ‘n sprinkaantjie nie. Sedert sy geboorte het hy die lyf van ‘n baie sterk man. Hy het gou vir my te swaar geraak om te dra. Hy is ouma se liefie-geskenkie kind. Emosionele volwassenheid wat mens verras by ‘n 5-jarige (so pas 5 geword).

Toe ons van Kazakhstan teruggekeer het – en hulle eers twee weke later kon groet omdat ons besmet kon wees – het hy my ‘n stywe drukkie gegee en nie laat los nie en te vertelle gehad dat hy gedag het hy gaan ons nooit weer sien nie.

Hy het twee deurhangers by die skool gemaak, en ouma en oupa het elk een gekry. Sy ma was absoluut verras, niemand mag daaraan geraak het nie.

Hy het ‘n oop mossel op die strand opgetel, nog vas aan mekaar soos ‘n engel se vlerkies. Ouma en ma moes help om dit te dra dat dit nie breek nie. Op pad lughawe toe het hy die skulpies losgebreek en een vir oupa en een vir ouma gegee. Ek oorweeg om die persentjies te raam.

En die ou lyfie het langs my in die kar aan die slaap geraak terwyl ons lughawe toe ry. Met die koppie op my bors. Ek het ‘n geweldige groot nood gehad, maar elke keer net verlangend gekyk na die enkele garages wat langs die pad verbygesteek is. Ek kon hom mos nie wakker maak nie.

Ek het ook ‘n lang drukkie gekry. Met ek gaan ouma baie mis. Dit verras my elke keer omdat hy skaars twee was toe ons Kazakhstan toe is. Hy het eers in die middel van die jaar drie geword. En nou is hy 5.

Ek en hy het Saterdag sokker gespeel. Sy goal was ‘n boom, met die ronde sementrand daaromheen. Ouma s’n was sommer die hele muur van die huis agter hom.

Aldus hom. Seker gedink ouma het so ‘n baie groot doelkas nodig.

Ouma kan nie so kroek nie, het ‘n klein spasie tussen die dreineringsgat en pyp van die een badkamer gekies. Met die gevolg dat ek nie so maklik kon telling opbou nie.

Natuurlik het hy gewen. En het ouma die geniet. Toe ek moeg is, het ons opgehou. Hy het telling gehou – wat ‘n oulike knapie!

‘n Rukkie later kom dollatjie uit die huis en sy lag. Hy is blykbaar die sitkamer in om daar vir almal te vertel van die sokker met sy ouma. Die gesprek het so begin:

O, my word! (Engels)

Hy wou niks van ‘n nuwe kleuterskool weet nie, veral omdat hy baie lief vir Safariland in Roodepoort was. Wel, die nuwe skool is vir hom lekker.

As middelste passievol vertel dat hy skool haat, haak hy en ouboet af dat hulle baie van skool hou. En dan lag ons almal alte lekker saam. Veral as die ander twee Nonsies koor.

Die hartseer om hulle nou so min te sien, is groot. Maar ek kan nie kla nie. Die kinders is besonder gelukkig op die platteland.

Die afgelope agt maande het ons hulle ten minste een keer per maand gesien. Ons hou van gesinsfunksies. Elke verjaarsdag word saam gevier. As ons kan, sommer op die dag. Anders so na as moontlik daaraan.

En raai wat?

Familiebyeenkomste maak ons nie siek nie …

Ek weet ons gaan gereeld planne maak om te gaan kuier.

En die kuiers is langer, intenser omdat ons by hulle bly.

Tog help dit nie om die verlange na die seuntjies te stil nie.

Hoe lank ons so sal kan afvlieg, weet ek nie. Die vlug was belaglik duur. Het ons ‘n arm en been gekos – meer as R10 000 nadat ek 25% afslag deur Discovery gekry het. Die vlug is korter. Al voel dit so lank. Ons het 12 uur Donderdag begin reis en was eers 7 uur die aand in hulle huis, wat meer as ‘n uur buite George is …

Is alle lugrederye nou so duur?

Ons praat van eerder ry as vlieg, maar hoe lank sal mens nog so ver kan bestuur?

Afry sal skaars langer duur – wat is 5 ure meer nou tussen vriende?

En dan kan ek op die pad stop en foto’s neem.

***

Ek woon gelukkig nou naby seun met sy oudste en enigste. My hart se vierde punt. En dit gaan ek na die jaar en ‘n half in Kazakhstan en die 8 maande in Kuruman werklik benut. Om die ou kindjie baie meer te sien. Mens weet nooit wanneer die ouers koers kry na ‘n beter dorpie nie. Of wanneer ouma weer agter oupa aan moet trek nie.

Dalk help dit ook om die hartseer te verdryf oor drie kleine seuntjies wat ek baie minder as gewoonlik gaan sien.

Hooffoto: Die geskenkies van dollatjie se jongste. Ouma en oupa koester dit met alles in ons. Mag die vlerkies ons veilig bewaar.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Ouma se hart se puntjies in die Wes-Kaap

  1. Ai Christa, die kleingoed is ver. Ek sien myne ook omtrent net tydrns skoolvakansies.
    Julle kan gerus vlugte na Kaapstad oorweeg. KaapJohannesburg of Lanseria selfs is aansienlik goedkoper en dis darem nie so ver daarvandaan per kar tot by jou kinders nie?

    Liked by 1 person

  2. Ai toggie, druk ek nou per ongeluk ‘unfollow’, maar besef dit darem dadelik en stel dit reg. So dame, as jy so ‘n kennisgewing kry, dit is nie ‘n ‘nuwe’ een nie, net een van jou ouuuu regulars. 🙂

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.