Gepubliseer in Joernaal,Woefkinders

BB, ek en antibiotika

So week gelede kom ek agter dat een van my drie Miniatuur Schnauzers diaree het. Want ek doen die optelwerk elke liewe dag. Kleinkind bly mos Maandae en Vrydae by hierdie ouma van hom.

En sy soek alles skoon en mooi en reg. Tot hy kom. Daarna kan hy omkrap soveel soos hy wil, want ons twee speel lekker. En ek verlang dan elke keer na hom wanneer hy weg is en ek goed op ander plekke kry as waar ek dit sou verwag.

Soos vetkryte in die yskas. Hy wou nog daarmee speel, maar toe sien hy iets wat hy eerder wil vat. En los die kryte net daar.

Of vetkryte in die koskas, of die laaie. Dit voel dan of die ou dingetjie (18 maande oud) steeds by sy ouma is.

Hy pak natuurlik baie van sy goed self reg en weg. Klim nie uit die bad voor hy al die speelgoed wat ouma daarin gesit het op die rand uitgestal het nie. Of in een hopie in die bad neergesit het. Sy toekomstige vrou kan maar by hierdie ouma kom hoor hoe ‘n oulike knapie hy is.

Maar ek wil mos eintlik oor BB skryf.

Verlede Vrydag kuier kleinseun hier. En is ek meer buite as gewoonlik. Eintlik die hele tyd. Ek sien toe dat daar poefies met bloed in op die gras is. Tel van dit op en gooi die ander weg. En maak ‘n afspraak by die veearts.

Ek vra hoe ek kan weet wie se poefies dit is. En hulle antwoord dat dit moeilik is, ek moet eintlik al drie inbring.

Wat natuurlik drama gaan veroorsaak, want die drie weet van veeartse. En bewe soos riete as hulle daar ingedra word. En dit herinner my aan ‘n geval uit my eie kinderjare.

My ma en pa het ons na die dokter in Fochville gevat vir ons inente, die spreekkamer se deur was op die straat. Hy begin toe by jongste (van vyf) inspuit. Met ons ander vier wat grootoog staan en kyk. Toe my ouers weer sien, staan ons ander vier in die straat. Kruip ons agter motors weg. Ons boude is vuurwarm geklits, en ons moes die naald trotseer.

Ewenwel, BB het besluit dat dit haar dag vir aandag is. En twee keer naby my haar nommer 2 kom doen dat ek kan sien dat sy die siek kind is.

So is ek en sy veearts toe. Seun het kleinseun kom oplaai en sommer saam met my gery. ‘n Storie vir ‘n ander dag waarom hy moes saamry.

Sy het ondersoek en gevra:

Gee ek vir hulle bene?

Aangesien ek nie doen nie, het sy bevind dat BB slegte diaree het, waarskynlik iets verkeerds ingekry. En dat sy met antibiotika, ontwurmingspilletjie en probiotika gou weer perdfris sal wees.

Reeds daar in die spreekkamer het die probleme begin. BB moes een en ‘n kwart pilletjie inkry. En sy weier beslis om te sluk.

Die veearts lag verleë en vertel dat sy daagliks pilletjies in honde se kele afkry. En hier bewys BB haar verkeerd!

Sy het behoorlik gesukkel en ek het mooi gestaan en leer hoe om dit te doen.

Maklik sou dit beslis wees.

Toe nie.

BB se tong begin dit uitwerk nog voordat ek dit tot daar heel agter kan kry.

En dan smelt die pilletjie so stuk-stuk terwyl ek oor en oor sukkel om die heel een in te kry.

En dan begin ons met die kwart pilletjie, wat baie moeiliker na agter gestoot kan word.

Teen die vierde probeerslag byt sy haar tande vas asof sy tetanis het, en dan moet ek met twee hande die mond oopkry.

Sukkel om die pilletjie te beheer en dan begin ons weer van voor af sukkel.

Ek het die vyf dae behoorlik omgehoop.

Want ek moes twee keer per dag deur die prosedure gaan …

Elke keer was dit ‘n oorwinning as die pilletjie in is.

Twee keer (dus 2/9 keer) het ek die volgende oggend gesien dat die pilletjie sowaar in die kies weggesteek was. Want die poeier daarvan het my vloer verontsier.

Dit terwyl BB my baie verontwaardig aangekyk het omdat ek die oorwinning behaal het.

Toe nie …

Was dit eerder ‘n meerderwaardige kyk?

Sy het die stryd ‘n twee keer ongesiens gewen.

Ek hoop maar die probleem is behoorlik opgelos. Want ek en BB en antibiotika is beslis nie ‘n wenspan nie.

Inteendeel.

Ek voel of ek die verloorder is.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “BB, ek en antibiotika

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.