Gepubliseer in Joernaal

Bestelling? Ons is (nie) stoffeerders (nie)

Ek het al vertel dat ons ons baie groot dubbelverdiepinghuis verruil het vir ‘n piepklein meenthuis. Wel, die skuif het veroorsaak dat baie van ons meubels geberg moes word. Die eetkamertafel en stoele wat ons laat maak het, kon na ons seun se huis gaan.

Ons sou ‘n nuwe, kleiner eetkamerstel moes koop om in die huisie te pas.

Maar toe besluit dogter, wat na die Wes-Kaap verhuis het, dat die eetkamerstel wat na haar toe gegaan het toe ons ‘n groter huis gekoop het, nie saam met haar gaan trek nie. Pas nie by die idee wat hulle vir hulle nuwe huis het wat een van die dae gebou gaan word nie.

Die eetkamerstel is ‘n erfstuk. My oa het dit my my ma gekoop toe ek gebore is. En ek het dit by my ma gekry toe ek getroud is. My pa het vir haar ‘n baie groot ronde eetkamerstel vir die plaashuis gekoop het. As ek reg onthou, het haar nuwe stel plek vir 18 mense, ons gesin het gegroei en ses sitplekke was nie meer voldoende nie. Ons vyf sussies se mans en kinders het te veel geraak daarvoor.

En toe ek ook groter moes gaan, het dit na my dollatjie toe gegaan.

En nou is dit terug by my.

Die stel is van imbuia hout gemaak. ‘n Baie skaars houtsoort wat blykbaar van Brazilië af kom. Dit wil ook voorkom asof die gebruik van imbuia vir meubels afneem omdat die houtsoort as vatbaar vir uitwissing geklassifiseer word op die lys van bedreigde spesies.

Ek hou van egte hout meubels en kaste in my kombuis omdat ander soorte kaste nie duursaam is nie.

Die stel was – toe ek dit by my ma gekry het – pikswart vernis, waarvan ek niks gehou het nie. Toe laat ek dit afskuur om die pragtige hout te vertoon.

Die sitplekke moes ook oorgestoffeer word.

Dit is die derde keer wat dit gestoffeer word in die tyd wat ek of dollatjie dit gehad het.

In 2002 het ek dit in Welkom met luiperdvelagtige materiaal laat stoffeer. Kan nie glo ek het toe van diervelpatrone gehou nie.

Toe dollatjie dit in 2008 of 9 oorgeneem het, het ons dit vir haar met beige materiaal oorgetrek. Wat ‘n verkeerde keuse! Ons moes tog geweet het dat dit met kinders skoon gaan gehou sou kon word nie. Dit was voordat daar kleinkinders was.

En nou het ek en manlief dit weer gestoffeer, want dit het toe nie skoon gebly nie.

Ons is na Metro toe om materiaal te gaan koop. En daar sit ek en manlief vas oor die materiaal wat ons wil koop.

Ek het iets gesoek wat soos borduurwerk lyk, daar was niks wat ek wou koop nie.

Manlief het ander materiaal gewys en ek het botweg geweier, dit was nie mooi nie.

Toe sien ek leer en wil dit koop, maar ek moes met hom saamstem dat leer dood gaan wees op die donker hout.

En toe sien hy die kunsvolstruisleer (artificial). Volgens die verkoopsman is dit egte volstruis, maar ons twee het geweet dat dit onmoontlik is. Ons sou nie drie meter volstruisleer vir R800 kon koop nie. ‘n Handsak kos R4000.

Dit het ons nie gepla dat dit kunsleer is nie, want daar was die mooiste kleure wat by verskillende mense se voorkeure kon pas.

Ons het op beige met karamel knoppies besluit … (sien hooffoto).

Saterdag is ons twee aan die werk nadat die materiaal ses of agt weke gelede gekoop is. Hy maak die ou bekleedsel los, en gebruik die stuk materiaal as patroon op die nuwe materiaal om die bekleedsel vir elke stoel uit te knip.

En toe begin ons oortrek.

Ek trek styf en manlief skiet dit met die krammetjiegeweer (Staple gun) vas. My vingers was lekker seer na al die getrekkery, maar die eindresultaat is vir ons mooi.

Toe bring ek sommer my spieëltafel se stoeltjie ook, ons is mos nou besig en ons het mos te veel materiaal gekoop.

Die stoeljie is gemaak van my ander voorliefde vir houtmeubels, naamlik eikehout.

Eikehout is nie so skaars soos imbuia nie, dit word dikwels vir kombuiskaste gebruik, soos die kaste van al die kombuise an my huise sedert 2002 toe ons vir die eerste keer ‘n eie huis gekoop het.

Ons is nogal trots op ons handewerk, daarop spot ek sommer vanoggend:

Enige bestellings?

My blogvriendinne, die Goue Vroue, spog gereeld met hulle fyn handwerk. Goed wat vir my pragtig is, maar waarvoor ek nie kans sien nie, net soos wat ek nie kans sien om dik boeke te koop om te lees nie. As ek eers daar vasgevang is, gaan dae verby sonder dat ek by my regte werk uit kom.

Seker daarom dat ek van die stoffeer projek gehou het. Ons het Sondag na kerk daarmee klaar gemaak.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

20 gedagtes oor “Bestelling? Ons is (nie) stoffeerders (nie)

  1. Ek stuur my adres…hier is ‘n hele paar stoffeer werkies! Dis pragtig…knap gedaan. Dit help vrek baie as jou man ook handig is. Mooi keuse!!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.