Gepubliseer in Woefkinders

My woefkinders se skuiling teen die reën

Ek het al vertel dat my woefkinders buite moet slaap dat ons kan slaap. Hulle voetjies tik-tik-tik op die gelamineerde vloere en dan kan ons nie slaap nie.

Die hoofsaaklike rede is dat hulle daarvan om snags hulle ding te doen – dit is nou die nommer 1’s en 2’s. Daarom het ek vir hulle hok ‘n kombersoortreksel gemaak om hulle warm te hou tydens die koue maande.

Nadat dit verskeie kere gedreig het, het dit begin die reën. Daarom moet ek eers weer stilstaan om ons nuwe omgewing in Gauteng met Kazakhstan te vergelyk. Hier reën dit soveel anders as in Kazakhstan, waar die reën net so geluidloos soos die sneeu geval het.

As jy weer sien, reën dit net. Daarom het winter- en somerbaadjies kappies. As dit val, gooi jy die kappie oor die kop en stap jy verder. Geen rede om vir weerlig te koes nie. Want daar is:

Geen weerlig nie.

Geen donderslae nie.

Dit val net om jou heen, sneeu of reën.

Soos ek reeds geskryf het, was dit ook nie so nie Kuruman nie. Daar het die vloedwaters in Desember tot Maart net geval. Sonder enige aankondings dat jy sopnat gaan wees as jy uit jou huis uitgaan.

Hier is dit na twee jaar weg uit die land en Gauteng nogal baie anders. Eintlik so bietjie skrikwekkend, al herinner dit my aan ons huis in Roodepoort waar die reën met skrikwekkend-harde donderslae en blitsende weerligte aangekondig is. Ek dink ek het so bietjie vergeet van bangmaak weerligstrale wat alles om jou vir vlietende sekondes verlig.

En daar moet ek weer verduidelik. Dit herinner my aan ‘n vervolgverhaal in ‘n tydskrif toe ek jonk was. Bangmaakverhaal waarin die vrou die moordenaar se mes elke keer vir die vlietende sekondes kon sien blink. En as dit weer blits, het sy gesien dat nog iemand ‘n slagoffer was.

Dan herinner ek myself liewer aan die mamma wat vertel het dat haar dogtertjie te vertelle gehad het dat Jesus weer foto’s neem (die “flash lights). Dit is ‘n baie aangenamer gedagte as dit pikgietswart donker om jou is nadat die weerligstraal alles om jou soos daglig verlig het.

Ons huis is in Julie uiteindelik verkoop en ons bly nou weer in Gauteng. Die keer in Centurion, die stad wat langs Pretoria ontwikkel het. Toe ons in die vroeg-1980’s op universiteit was, was ons uit Pretoria as ons op die N1 verby die Universiteit van Pretoria se proefplaas gery het waar studente opgelei word.

Intussen het Centurion langs die N1 en N14 ontwikkel in een baie groot stad, waar mens alles kan kry wat jy soek. Regtig baie lekker as jy twee jaar lank in Kazakhstan of die Noord-Kaap gesoek het om selde te kry. Ek kan enige iets binne 10 kilometer om my kry, kan in enige rigting ry om ‘n winkelsentrum te kry waar ek dit kan koop. Maar ek wil eintlik oor die donderweer gesels.

Hier is die weerlig en donderslae – soos wat ek reeds geskryf het – net so swaar soos by ons huis in Roodepoort. Net so gevaarlik. Verkies ek om binne te wees as die kragvertonings begin. Wonder ek waarom iemand daardie krag nog nie kon opvang om elektrisiteit te genereer nie.

Toe dit begin sous (ons verwysing na reën vir die Engelse lesers) het die reën vanaf die dak alles natgemaak, di woewe se huisie ook. Manlief het sowaar voorgestel dat die drie kinders in die huis slaap. Ons maak die drie kamers se deure toe, want daar is gelamineerde vloere. En dan het hulle die huis vir hulleself.

Hulle kombersie is in die tweede badkamer op die vloer gegooi.

Wat hulle natuurlik geniet het, maar een van die mannetjies – ek dink dit is Bekka – het sommer besluit om ook teen my leerbank te nommer 1. Seker maar omdat hulle wou uit en ek nie hoor nie.

Die eerste oggend het ek vergewe en uitgevat en skoongemaak. Ons het alte heerlik geslaap met die reën op die sink dak van die parkering langs die badkamer – het ons aan die slaap gesus.

Die tweede oggend was ek kwaad.

Hulle doen dit nooit nie en nou is hulle so stout. Onnodig. Maar hoe moet hulle my wakker maak as hulle aan die ander kant van die toe slaapkamer deur is?

En toe moet ‘n plan gemaak word, want ek gaan nie ‘n derde oggend kom skoonmaak nie.

So is ons na Metro toe om kantbordyne te koop, ek is ook nou moeg vir die vuil lug wat so ongenooid my huis binnekom. Veral omdat dit soos ‘n pragtige dag lyk en ek die deure wyd oopgooi om skoon lug in te laat. Om agter te kom dat dit glad nie so skoon is nie, inteendeel.

Pretoria se lug is vrot …

Centurion se lug is vrot.

Hoe het ek daarvan vergeet? Ek kon dit elke dag vanuit my kantoorvenster sien toe ek ‘n jaar lank ‘n nadoktorale genoot by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) was.

Net so vrot soos Almaty s’n. Wat ek elke dag vanuit ons baie hoë woonstel kon sien. Daar kon ek bykans 360 grade oor die stad onder ons uitkyk.

En Ust’-Kamogorsk (Öskemen) s’n. Daar het die vrot lug gehang as die wind nie waai nie. En dan het ons na asem gesnak. Maar as die wind waai, is dit gou weggevat.

Hier gaan ek kantgordyne hang, al hou ek niks van kantgordyne nie. Iets moes die stof uit die huis hou.

Daar gekom stap ek deur die rakke terwyl die vriendelike man my gordyne vir elke venster afmeet.

En sien ek ‘n oplossing vir my probleem.

Dik, swaar plastiek, dit moet net werk.

Tuisgekom het ek McGyver gespeel. Ek is nie seker of lesers weet wie hy is nie. Hy was die hoofkarakter in ‘n TV-reeks in die 1980’s of 1990’s. En hy het groot probleme opgelos met ‘n veeldoelige Swiss messie.

Ek gaan nie verduidelik wat ek gemaak het nie. Die foto spreek vanself.

Die potte moet nog plante kry en die gras moet weer groei waar bespoeiingmense dit verwoes het. Die plastiek is aanvanklik na buite gevou om vas te maak met die potte.

Die woefkinders het my so staan en bekyk terwyl ek werk.

En hulle kon glad nie verstaan waar die ingang is nie. Hulle kon die ingang sien, maar ook besef dat daar iets tussen hulle en die gewone ingang van die hok was. Hulle het geen idee gehad hoe om by die hok te kom nie.

Toe dra ek hulle maar om die rand van die plastiek na die hok om agter my aan uit te kom.

Vir Bekka ook.

Maar Bekka het nie so lekker verstaan nie. En toe ek weer sien, spring hy teen die spoed van weerlig teen die plastiek vas. Nog voor ek kon keer. En land op sy boude, want die plastiek was toe sterker as hy. Met so ‘n baie verleë uitdrukking op die gesiggie.

Ek het geskree soos ek lag.

En hy het net verleë gesit en kyk omdat ek vir hom lag.

Gelukkig is hulle slim en kon hulle gou leer dat die plastiek hulle hok teen reën beskerm. Ek vermoed dit maak dit ook warmer, want hulle slaap al hoe later en later.

En toe dit reën, kon hulle lekker in die veiligheid van hulle tentjie skuil.

Kleinseun geniet dit natuurlik ook om agter die tent in te gaan. dan leun hy vorentoe en sit sy mondjie teen die plastiek. Ek lag my dood vir sy manewales en ontdekkingsreise. Voor die eerste reën het ek die potte aan die binnekant gesit, want dit maak my wasgoed vuil. Dit was fout aangesien die reënwater liggies na die binnekant kon deurkom en veroorsaak het dat hulle hulle kombersie nattrap. Dit is intussen weer verander.

Gister het manlief besluit om te help om die plan te verbeter. Ek het reeds gevra dat hy vir my van daardie lyne koop wat ons in ons jong dae gebruik het om kantgordyne op te hang. Die soort wat stywer getrek kan word as my wasgoeddraad. En natuurlik het ek my wasgoeddraad self nodig.

Dit lyk nou heelwat beter, is nader aan die muur om beter beskerming te bied teen reën wat van die dak af stort.

En nie meer met pennetjies vasgesteek nie. Manlief het die gereedskap gaan koop om gaatjies in te druk waardeur die draad kan ryg.

Die nuwe plan sal Maandag getoets word, ek verstaan dat dit Maandag weer gaan reën. Ek kan nie wag daarvoor nie, die lug maak my siek. Tyd dat die meeste van die vullis uit die lug gesif word om ons te help om nie meer met seer kele en toe neuse te sukkel nie. Dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

BB geniet die nuwe skuiling. as ek haar saans soek om haar ook buite te sit, is sy lankal in droomland in haar eie huisie. Dan kyk sy my baie verontwaardig aan as ek omkruip en laag buk om te kyk of sy daar is. Met die manne wat bo-oor haar klim om die koekie wat vir haar bestem is te vat as sy nie gou besluit of sy dit wil vat of nie ..

Die ou woefkindertjies van my is baie spesiaal. Laat my en manlief ook voortdurend planne beraam om hulle te beskerm sonder dat ons van ons slaap ontneem word. Daarsonder is ons twee nie hangry (angry + hungry) nie, maar stangry (angry + sleep deprived).

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “My woefkinders se skuiling teen die reën

  1. Die plastiekgordyn is ‘n uitstekende plan. En die draadjie en die gaatjies. Toe ek die wasgoedpennetjies sien, wou ek vir jou vra of jy weet dat ‘n mens daardie plastiek kan stik? Ewe met onsigbare gare! Die probleem is dat onsigbare gare regtig onsigbaar is en my ou ogies nie altyd die naald se gat meer raaksteek met gewone gare nie, wat nog te sê onsigbaar?
    O vir die neus en die keel het ek altyd ‘n nare manier gehad, wat iemand nou die dag vir my opgelos het: Jy gebruik ‘n outydse oordrupperbotteltjie. Gooi dit vol kookwater met ‘n knippie sout en koeksoda. Dan staan jy kop onderstebo (boude in die lug) en drup ‘n druppertjievol in elke neusgat. Staan ‘n rukkie so en kom regop en blaas jou neus. 1 tot 2 keer per dag. Dit werk wonderlik.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.