Gepubliseer in Joernaal,Tegnologie

Bosch … is haar naam …

Ek het nie voorheen die beste masjiene op die mark vir wasgoed en klere en skottelgoed gekoop nie. Hoofsaaklik omdat huishulpe dikwels daarin slaag om enige masjien die gees te laat gee.

Tog het ek my dikwels deur die estetiese waarde van die masjien aan die neus laat lei.

Tot ons in Kazakhstan gaan woon het.

Daar huur jy jou woonstel volledig gemeubileerd, selfs met ‘n koekroller in die laai. En daar het ek ontdek dat die woonsteleienaars Bosch verkies.

Ek was nogal verstom, want Bosch pas nie in die begroting van elke Jap Rap en sy maat nie. Toe vra ek bietjie daaroor uit, al het ek en die woonsteleienaars mekaar dikwels slegs per vertaaltoep verstaan.

Ek het veral uitgevra as ons self ‘n masjien wou aanskaf.

Die verkoopsmense daar jok nie vir mens nie, en hulle was veral gekant teen die verkoop van enige produk wat van hulle buurland (Sjina) afkomstig is. Volgens hulle koop jy dit nie, want:

You buy once

You buy twice

En so het ek die raad ter harte geneem toe ek terugkom na Suid-Afrika. Veral omdat ek self met my masjiene werk. My vorige huishulp het ons lelik ingeloop toe sy self wou gaan.

Maar ek het my ook lelik vererg tydens ons verblyf in Kazakhstan toe die kopdoekvrou tydens die streng inperkings in soveel woorde vir vrouens gesê het ons handjies nie rond is nie, dat ons ons huiswerk self kan doen. Ek neem aan ek is nie die enigste een wat daarna besluit het om my huiswerk self te doen nie.

En as jy jou werk self doen, is jy ook geneig om die beste masjien vir die werk te wil koop. So het ek die afgelope agt maande stelselmatig die eienares van drie Bosch masjiene geword.

Nie omdat ek snobisties is nie, maar eerder omdat ek reeds in Kazakhstan die skuif begin maak het.

Ons Bosch worsmasjien was ‘n dame uit ‘n ander klas. Sonder veel geraas het sy die produkte elke keer gelewer, presies soos ons gevra het. Terug in Suid-Afrika het ons weereens die winkels ingevaar en ‘n Bosch gekoop. [Wat steeds ongebruik bo-op die vrieskas staan omdat ons terug is in die land waar mens wel wors in ‘n regte egte slaghuis kan koop.]

Iedergeval, ek wil mos oor die Bosch masjiene skryf wat die afgelope maand deel van my stal geword het.

Die eerste Bosch – ‘n wasmasjien – het in Maart 2021 die garage in Kuruman haar staan gekry. Gewillige dame wat haar taak elke keer goed verrig. En nou het sy ‘n ereplek in die opwasgedeelte van ons huis. Waar sy met kleinseun speletjies speel. Hy hou vreeslik baie daarvan om knoppies te druk en draai. En hy kan dit na hartelus doen, want ek hoef net twee knoppies gelyk te druk om haar te sluit. Hy is dan vreeslik opgetrek met homself, dink hy het die masjien aangeskakel om haar werk te doen. Dan lag ouma net gelukkig, want so speel ons drie saam.

Die tweede Bosch – ‘n skottelgoedwasmasjien – het ek gekry toe ons in die meenthuis in Centurion ingetrek het. Sy was baie duur, haar goedkoper maatjies was uitverkoop. Sy is ‘n gunsteling, want sy hou van stilte. Ek geniet die plek waar sy my messe en vurke en lepels en so aan was. Reg bo in die masjien. In ‘n rak wat van kant tot kant strek. Sy steek haar knoppies so goed weg, dat kleinseun dit nou nog nie ontdek het nie. Hy speel met die geëmboseerde Bosch kenteken. Ek neem aan hy dink dat sy nie werk nie, want nie alleen moet mens drie verskillende knoppies druk om haar aan die gang te kry nie, sy werk ook so stil dat ek haar die eerste keer verskeie kere aan- en afgeskakel het omdat ek niks hoor nie. Toe ek my oor teen haar maag sit, hoor ek dat sy wel werk. Dit is ‘n belangrike funksie, want manlief slaap volgens homself lig. Masjiene wat in die kombuis werk pla hom … Maar … hy hoor nie as ek opstaan en tee maak nie …

En toe vra ek so week gelede vir die derde Bosch – ‘n tuimeldroër. En kom ek my Moses tee. Wat ‘n befoeterde dame wat ek aangekoop het met geld wat ek eers in Desember gaan kry! Ek stel haar op ‘n siklus en as ek weer sien is sy klaar en roep sy my. Eers dog ek ek is koekoes, twee ure kan nie so vinnig verby gaan nie? Ek het skaars aan die artikel waarmee ek besig is, begin werk. Toe gaan staan ek voor haar en hou haar dop. En so wrintiewaar – die eerste rukkie hardloop sy teen die regte tyd. Dan verander sy die tyd en stop haarself lank voordat sy klaar moes wees. Gryp ek die boekie om net uit te vind dat die gespelery met tyd nie ‘n fout is nie, sy oorweeg en beoordeel die hele tyd die wasgoed in haar en stop self wanneer dit droog genoeg is.

Wat vir my nie droog genoeg is nie, maar volgens die boekie weet sy wat droog is. Dit is eintlik ekke wat nie weet nie – mens moet die klere net uitsprei en dan sien jy as dit afgekoel is dat dit droog is want sien, die res van die water terwyl dit afkoel.

Ek dog ek eet my hoed op!

So wrintie waar, as dit ‘n ingeboude funksie is, is ek en die befoeterde dame nie maats wanneer ek wasgoed was en die weer nie te lekker is om dit droog te maak nie. Die kouse is teen die aand se kant eers droog genoeg om in die kaste gepak te word – nadat ek dit op die bed moet uitstal dat die laaste “vog” verdamp.

So terloops, is dit nie waarom ek die masjien wou kry nie? Om my goed kasdroog te maak dat ek net kan wegpak?

Toe nie, ek en hierdie Boschdame gaan mekaar moet leer verstaan, want sy gaan haar wil nie verander nie. Dit is ingebou. Wat my weereens laat wonder oor die intelligensie van “kunsmatige intelligensie.”

Ek gaan maar moet aanpas, of skelmstreke vind om my goed wel droog genoeg te kry.

So terloops, sy het ook die oulikste funksie. Eerste keer wat ek so iets sien. ‘n Mandjie wat in haar maag pas wat ek kan gebruik om skoene en wol droog te maak sonder dat dit tuimel in die drom van die masjien. Dit het ek nou nog nie getoets nie …

Sy verwag veel meer van my as wat die twee ander masjiene doen. Ek moet haar kondenseerlaai elke keer uithaal en die water uitgooi anders gaan sy nie so goed werk nie. En ek moet die rakkie wat die wolletjies en kan jy dit glo hare (myne) opvang ook elke keer skoonmaak. Dit het so vinnig roetine geword omdat beide onder my neus is en nie iewers aan die kant van die masjien versteek is nie.

Sy speel egter ook lekker met kleinseun. Sluit ook haar magie as ek twee knoppies vir drie sekondes lank druk en werk dan rustig voort terwyl hy dink dat dit sy handewerk is dat die klere in die masjien rondtuimel.

Ek speel so lekker met die kleinseun van my … Duidelik ‘n man van die knoppiesdruk generasie!

So ontdek ek toe vandag vir die eerste keer waarom die skottelgoedwasmasjien nie sy aandag hou nie. Dit gaan nie noodwendig oor die druk van knoppies nie, maar oor die draai van een massiewe knop, wat die twee masjiene vir die wasgoed het, maar nie die skottelgoedwasmasjien nie – g’n wonder hy dink die masjien het nie ‘n plek waar hy dit aan die gang kan sit nie. Miskien dra die feit dat mens ook nie in die maag van die skottelgoedwasmasjien kan inkyk nie, ook daartoe by? Tesame met die feit dat sy baie, baie stil werk.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Bosch … is haar naam …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.