Gepubliseer in Joernaal

My trourok …

Vanoggend herinner my iPad my aan hierdie foto van my in my trourok. Geneem op 30 Januarie 1982, en dus amper 40 jaar gelede.

Ek het nog gewik en weeg of ek iets oor die rok moet skryf, toe ek my reader oopmaak en blogvriendin Anne se stukkie oor haar en haar manlief lees, met ‘n troufoto van hulle tweetjies.

En toe ek eers lees dat sy net daardie een foto het, het ek besluit om tog oor my rok te skryf. Want ek het baie foto’s van my troue, sal Januarie deel as ons twee 40 jaar getroud is.

My ma het my rok gemaak. Ek wou aanvanklik ‘n rok soos hare hê, wat wyd uitklok na onder. Van die middel af. My ma het gedink dit gaan my nie pas nie en wel, toe ek trourokke gaan aanpas het, het ek vir myself baie sleg gelyk in so ‘n rok. En op hierdie styl besluit.

‘n Styfpassende bostuk, met romp wat net effens uitklok na onder. En na agter al langer word om ‘n sleep te vorm. Om die rand van die onderrok is geplooide materiaal, wat die “sleep” langer na agter gemaak het.

Waar die rok en die rand bymekaar kom, is pragtige kant aangewerk om die rokgedeelte oor die onderrok gedeelte te laat hang.

Ek wou dan ook lang moue hê, met die gedeelte om die pols wat ‘n punt maak om sag oor my hand te vou.

Ek was ook kieskeurig oor die materiaal, ek wou nie gewone blink trourokmateriaal hê nie, maar eerder spierwit voile, waarvan hulle dikwels kantgordyne vir huise maak. En lees ek nou sowaar dat dit ook vir somerrokkies gebruik word in ‘n Engelse woordeboek. Dit is sagte materiaal wat sag hang sonder om erg te kreukel en ek het my hart daarop verloor.

Onder die rok en onderrok was nog ‘n onderrok van net materiaal wat die rompgedeelte effens laat wegstaan het.

Ek was reeds terug op universiteit, het in die Geografie lab gewerk vir vakansiegeld. En dus het ek die rok net een keer gepas voordat ek dit moes aantrek.

Dit het twee probleme geskep.

Die eerste een is dat my hals so laag gesny was dat ek nie ‘n bra kon aantrek nie. Dus was dit soort van die eerste keer in my lewe wat ek sonder bra moes loop. ‘n Vreemde verskynsel, want dit was in die tyd toe vrouens hulle bra’s verbrand het om te bewys hulle kan alles doen wat ‘n man kan doen. Ek wou nie, ek het my vroulikheid geniet.

Ek het geen begeerte gehad om dit te verbrand nie, het steeds nie. Ek is gek oor my onderklere.

Die tweede een was dat ek my maag moes uitstoot om die netonderrok bo te hou. Anders gly hy oor my heupe en ek was seker ek sal dan my wit rok vuil val. Die rekkie was te slap. Die probleem het ek opgelos toe die foto’s klaar geneem is, ek het die onderrok uitgeskop en die aand geniet.

Die sluier het ook ‘n storie. Toe ek in die kerk instap, besef ek dat boonste gedeelte van die sluier nie oor my gesig is nie, maar steeds na agter gevou is. Toe vlieg ek om, my pa moes dit eers regmaak. Die troumars het dus vir die tweede keer gespeel voor ek die paadjie na manlief afgestap het – aan die hand van my pa.

Hy het blykbaar gestres, gedink hy het ‘n wegloperbruid.

Aan my sy is my pa en my ma, wat albei steeds springlewendig en gesond is en so twee jaar gelede hulle 60ste huweliksherdenking gevier het.

Ek kyk so half verras na my pa, wat hier baie langer is as wat ek onthou. Tans is hy en my ma amper ewe lank en dus so lank soos ekke.

Ek skat ons twee groepe voorouers dien as voorbeeld vir ons kinders. Daar was in ons lewe heelwat ops en bietjie afs. Daaroor sal ek volgende jaar gesels. Vandag wou ek sommer net oor my rok gesels – die ene wat my ma vir my gemaak het soos ek dit gevra het.

O ja, terloops, die blomme was orgidee, steeds een van die mooiste blomme vir my. Ek wou ‘n rooi troue hê, maar my ma was beslis. Rooi bring verdriet, rooi is bloed, rooi gaan dit nie wees nie.

Toe skik ons maar op pienk.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “My trourok …

  1. My first Marriage was in 1972 and the second in 1999. Your wedding dress is beautiful and you looked radiant. My wife. Jessica chose to wear a silky cream Suit as she wanted something functional. I chose a grey suit which I quickly outgrew.🌷🌷pour voux

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.