Gepubliseer in Reisjoernaal,Foto-stories & uitdagings

Bessies met wolmussies in Ust

Ek sien lesers geniet my vertellinge oor ons lewe in Kazakhstan, daarom gaan ek gereeld foto’s plaas wat aan daardie lewe herinner.

Hierdie foto sal my altyd herinner aan die dag (en week) toe ek my lam geskrik het vir die koue in Kazakhstan.

Dite foto is op 18 November 2019 geneem. Baie van die bome agter ons woonstelblok het sulke bloerooi bessies gedra, wat dit verskriklik mooi gemaak het – die helder rooi teen die vaal van die bome en die gebou langs ons s’n. Kyk hoe lelik is die gebou afgerond – hulle verf min geboue omdat die ysige weer die verf in elk geval laat verweer – veral in ons stad, Öskemen of Ust-Kamenogorsk. Die nuutste is dat die geboue met teëls oorgetrek word om die lelike mure daaragter te versteek.

Alhoewel dit toe al ‘n paar keer gesneeu het, het ek op hierdie ysige dag (-28 grade Celsius) gou uitgegaan om foto’s van die nuwe laag sneeu te neem. My foon wou nie so lekker werk met handskoene aan nie, dus het ek dit uitgetrek om die foto’s te kan neem.

Ek het al daarvan vertel.

Ek het net ses foto’s geneem. toe ek deur die tonnel onder deur die gebou gaan en ‘n foto aan die ander kant neem, het ‘n ysige wind sneeu opgeswiep en booor my kaal vingers gestrooi. Het ek al vertel dat vars sneeu soos stof was? Ons het blykbaar droë sneeu gekry, wat dit ookal beteken. Want dit was volgens my bevrore water en dit het yskoud in my nek afgegly as dit smelt.

Ewenwel, my vingers was onmiddellik blou-pienk-pers en ysig koud. Ons het die volgende dag na Suid-Afrika gevlieg en my vingers het op die vliegtuig skielik erg gepyn toe ek my my foon vashou. Toe ek dit omdraai om te kyk waarom, het my vingerpunte diep ingeduik en wou dit nie na normaal terugkeer nie. Dit het ook gevoel asof water onder die vel was.

In Almaty is ons na ‘n dokter toe, wat gerusgestel het dat ek ligte vriesbrand opgedoen het, maar gewaarsku het dat ek volgende keer nie hoef te kom as ek so lank wag voordat noodbehandeling toegepas word.

In Suid-Afrika is ek na noodgevalle toe toe my een vinger swart kolletjie gekry het, wat verskriklik gepyn het. Ek was opgestres want dit kon beteken dat die vriesbrand groter skade gemaak het. Teen die tyd wat die dokter my kon sien – ek het geen idee waarom mens so lank by ongevalle moet wag nie – het ek my vinger al so baie gevryf en vertroetel dat die bloed weer goed gevloei het en die swart weg was.

Die res van die winter het my vingers bloumoord geskree as ek buite was, binne-in twee pare handskoene toegemaak. En dit was baie lank, die laaste sneeu het in Mei 2020 nog geval. Ek kon vir ‘n maand glad nie op my rekenaar werk nie, dit was te seer. Buitendien, ek was ook maar mooi bekommerd dat ek permanente skade gedoen het, dus was ek versigtig.

As ek op my vingerpunte gedruk het, het dit ingeduik en nie weer uitgepof nie. Tot baie onlangs.

Ons is nou 13 maande terug in Suid-Afrika en dit is twee jaar na die episode waartydens ek my vingers in gevaar gestel het om ses foto’s te neem. En vanoggend sien ek dat my vingers weer uitpof as ek op hulle druk. Maar, dit is steeds gevoelig as ek lank tik, veral op my iPad se sleutelbord waarvan die knoppies moeiliker druk.

Tog bring hierdie foto mooi herinneringe mee. Ek het selfs geskryf dat my kersfees vir altyd hierna wit en rooi moet wees. Kyk hoe mooi het die sneeu op die bessies opgehoop, amper soos ‘n mussie. Of dalk soos ‘n wolkombersie?

Dit sal my egter vir altyd herinner aan ‘n baie dom besluit.

Want hierdie foto is geneem toe ek in die gebou terughardloop om my vingers in lou water te gaan ontvries. En toe eers omgedraai het, my vingers weereens ontbloot het en hierdie laaste foto vanaf die trappies na ons gebou geneem het …

Mooi was egter nog nooit lelik nie, en die herinneringe is goed.

My vingers het dit oorleef …

Ons lywe is gemaak om te herstel na terugslae, immuniteit self op te bou, hulself veilig te maak. Geen medisyne kon dit namens my lyf doen nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Bessies met wolmussies in Ust

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.