Gepubliseer in Joernaal

Bergfietsry op 50

Ek het op skool fiets gery, vanaf die huis op die plot by die vendusiekrale aan die een kant van Ermelo, tot by Hoërskool Ermelo aan die heeltemal ander kant van Ermelo.

Ek het geen idee hoe ver dit is nie, maar dit was ver. Ons het ‘n gedeelte ribbebeen grondpad gery, en dan in die hoofpad tussen Camden en Ermelo afgery na die skool se kant. Met baie swaar tasse op ons fietse. Dit lyk op Google Maps of dit so 5,8 km kon wees.

Die bakkery is so 400 m voordat mens by die plot gekom het. Ek het egter ompad gery om my boesemvriendin op skool by haar huis te kry sodat ons saam verder ry. Ek sien nou eers hoeveel verder ek as sy gery het …

Toe was kinders nog veilig, kon hulle grondpaaie met groot trokke deel en veilig skool toe en terug gaan. Met ouers was nie per selfoon kon seker maak dat hulle dogtertjies veilig by die skool is nie. Dit was soos ‘n gegewe, hulle sou veilig wees. Was veilig. Ek en my jonger sus het van standerd 6 tot matriek fietsgery skool toe.

Want … dit was ‘n stryd om die drie klein susse gereed te kry vir hulle skool. En dan was ons laat, ons skool was aan die ander kant van die dorp. En laat het jy nie gekom nie – nie met mnr. ABK van Zijl as jou skoolhoof nie … en ook nie as jy so skaam soos ek was nie.

Toe ek universiteit toe is, het ek oral heen gestap (soos in Kazakhstan onlangs) en daarna is ek getroud, met ‘n manlief wat fiets gery het universiteit toe terwyl ek met ons kar gery het. Ons het aan die begin van my vierde en sy tweede jaar getrou. Hy is wel ouer as ek, het eers twee jaar weermag toe gegaan en toe twee jaar gewerk voordat hy universiteit toe gekom het – agter sy meisie aan.

En so het ek nooit weer fiets gery nie.

Iewers in 2008 of 2009 het my dogter en haar man begin bergfietsry. En het ek met haar geraas omdat sy gereeld vol blou kolle was. Sy ken mos nie brieke nie … wen en goed doen is nommer een. Sy het paar keer geval.

Ek het nie veel van bergfiets geweet nie, al was ek Florida hoërskool se bergfietsjuffrou in 2008.

Die leerders se ouers het kom vra of ek sal instaan dat dit ‘n skoolsport kon word. En ja, soos gewoonlik het ek my weereens oorlaai. Maar dit was ook lekker, van my hokkieseuns het ook gery. En dit was lekker om daar te wees, die ouers het hulle self vervoer.

Ek het egter nie geweet waaraan die arme kinders blootgestel was terwyl hulle ry nie. Ons het by Klipspruit gesit en wag dat hulle rondte na rondte voltooi. En al hoe vuiler en vol stof geraak het, sonder dat ek geweet het watse paadjies adrenalien junkies vir die kinders uitdink.

Toe besluit ek en manlief om ook fietse aan te skaf.

Hoe moeilik kan dit nou wees om aanm ‘n resies deel te neem?

Wel, ons het in 2009 en 2010 ernstig gery. Elke maand aan ‘n byeenkoms deelgeneem. Vroeg soggens in die bakkie geklim, fietse agterop en saam met al die ander adrenalien junkies in die bondel by die wegspringplek gestaan om weg te spring.

Op ‘n pad waarvan ons geen idee gehad het hoe dit lyk nie.

Voetpaadjies met die rande so hoog dat dit my voete van my trappe afgegooi het.

Oor steiltes met glibberige klippe, waar ek voete afgegooi het om af te stap eerder as af te ry.

Heel simpel, want ek het goed gery en goeie plekke vir my ouderdom gekry. Moes gewoonlik in die eerste bondel wegspring weens my plekke …

Ek onthou hoe die adrenalien deur my are gepomp het tot ek kon wegspring om te sien wat vir my wag.

Hoe ek aangehou het om die medalje aan die einde van die resies te kry.

Hoe ek een keer nie geweet het my 20 km resies het na 35 verander nie en uiteindelik bykans 50 km gery het voor ek weer by die eindpunt gekom het. Kwaad op die grond gaan sit het toe dit 46 km op my meter gewys het om vir manlief te sê dat hy vir die organiseerders moet sê dat hulle my daar moes kry, met my medalje, Want ek het vir 20 km ingeskryf, hulle het na 35 verander en ek is lankal daarby ook verby.

Hoe ek maar weer opgeklim het, aangegaan het en die resies wel voltooi het. Baie, baie kwaad!

En toe word dollatjie swanger.

Hou sy op en skoonseun ook.

Ons het so rukkie aangehou, maar dit was nie dieselfde nie. Ons het hulle altyd by die resies gekry.

Ek onthou die kleertjies, daardie broek wat ek aanhet was peperduur. Maar dit het gekeer dat my boude op die lelike paadjies deurskuur. Dit is absoluut hemels, ek het ‘n paar daarvan.

Ek het ook ‘n hele paar fietsryhemde. Hulle maak mos so ‘n boog aan die agterkant om daar langer te wees. Met baie goeie rede, die rugvlies wat uitsteek tydens ‘n 35 km resies sal gaar brand as dit nie mooi beskerm is nie.

Op die rug is ‘n lang sak wat vir alles gebruik word.

Ek het sulke buise wat mens oor die arms trek, wit vir die somer, swart vir die winter om die arms warm te hou tot mens dit iewers langs die pad afstroop en in die sak van die hemp gedruk word.

Ons het van daardie buisvormige serpe – wat noem mens dit tog nou weer? – gehad wat ook moes beskerm. Teen die koue in die winter … en teen stof en so aan in die somer ook. Want mens ry soms op grondpaaie wat deur motors ook gebruik word.

Baie van hierdie bykomstighede het in die agtersak van my hemp geland. Self die sagte, fyn reënjassies wat ons gekoop het.

Ek het nie beenverwarmers ook gekoop nie, dan moes ek stop om daarvan ontslae te raak. En glo my, na so paar kilometer het my bene nie meer koud gekry nie.

Hierdie hempie het ek by een van die resiese gekoop. Induna.

En dit was my nommer as ek aan ‘n resies deelgeneem het. Dit is glad nie vreemd om die opslaantoilette agter my te sien nie. Ek moes ‘n hele paar keer gaan voordat die skoot klap. Hulle sê dit is adrenalien se skuld.

Ons het drie tot vier keer per week gaan spin in Virgin Active – Little Falls. Om die stamina op te bou om wel ‘n resies te voltooi.

En toe hou ons op … net so vinnig soos ons begin het. En hang ons fietse die afgelope 10 jaar teen die garagemuur in ons stadshuis en staan dit nou en stof vergaar by die rivier. Daar wil mens nie ry nie, daar is soveel dorings dat jy meer binnebande heel maak as fietsry.

Nou gaan ons trek, weereens. Nadat ek en manlief so ewe braaf gesê het hierdie huis is ons laaste huisie. Ek sal nog eendag daarvan vertel … Maar ons gaan sommer terselfdertyd ‘n leefstylplek koop, waar ons sowaar in ons 60s weer gaan fietsry.

Hoekom wonder ek of die fietse daar gaan wees vir kleinkinders om groot genoeg te word om self te ry?

Tog dink ek ek sal weer opklim. Want ek het nie opgehou omdat ek geval het of so iets nie. Ons het net opgehou omdat ons dit eintlik begin het om iets saam met die kinders te doen. En toe hou hulle op toe dollatjie swanger is en nie meer kon ry nie.

Tyd sal leer … intussen droom ek saam met manlief oor weer op die fietse klim …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Bergfietsry op 50

  1. So, julle gaan weer trek! Hierdie keer sal dit seker makliker wees – ek hoop julle sal in julle nuwe plek baie gelukkig voel. Fietsry was vir my altyd so lekker, maar waar ek nou woon is daar min gelyke paai en baie heuwels. Ek stap liewer 🙂

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.