Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Reisjoernaal

As ek maar soos die natuur kon wees …

Hierdie foto is in Junie 2019 in die Zhastar park in Ust-kamenogorsk (Öskemen) in Kazakhstan geneem. En dit laat my elke keer daaraan dink dat dit goed sou wees as ek maar soos die natuur kan wees.

Hierdie park was tussen ons woonstel en manlief se werk en ek het baie middae soontoe geloop en sy kossies vir hom in die park gegee. Dan het ons ons verkyk aan die rustigheid van die natuur, so in die middestad van Ust.

Kyk net na die pragtige verskeidenheid blomme en varings, wat amper dadelik na die sneeu weer gegroei en geblom het. En dan pas ek my varings en rose op asof hulle kan breek …

Maar veral aan hoe vinnig die varings en ander meerjarige blomme en selfs die rose daarvan vergeet het dat hulle drie maande gelede nog onder ‘n dik laag sneeu versteek was. Toegegooi onder ‘n yskombers. waarop geen mens mag geloop het om dit hard vas te trap nie. Daar was reëlings om die plante teen mense te beskerm. En oorlogveterane wat diens in die park gedoen het om mense op die paadjies te hou. As ‘n kind sou waag om oor die lae reëlins te klim, het ‘n fluitjie geblaas en is die kind vinnig terug na die paadjie.

Ek het een keer oorgebuig om ‘n naby foto te neem en het ook ‘n fluitjie gekry. Nadat ek gewys het dat ek nie gaan oorklim nie, net ‘n foto gaan neem, het die oompie my laat begaan.

Aangesien my lesers daarvan hou as ek meer vertel, gebruik ek ‘n kaart om meer oor die gedeelte van die stad, wat ek gereeld bewandel het, te vertel.

Ek hou niks van roetine nie, dus het ek drie paadjies gestp om by die park uit tekom (a, b en c).

Alhoewel ons woonstel (1) in lyn met manlief se werk (3) en die park (2) was, kon ek nie reguit oor Kazakhstanstraat stap nie. En toe twyfel ek nou sowaar eers oor die naam van die straat, maar ja, ek is reg, dit is die straat te naam. As ek regs om gestap het, het ek sommer agter om die woonstelblok langs ons geloop om daar by die sentrale plein, waar die musiekfontein is, links te draai om by die verkeerslig oor te stap.

As ek dan oor Kazakhstanstraat gestap het, was daar op die linkerkantste hoek ‘n mooi, groot bank. En aan die regterkant was die mooi regeringsgebou, wat oorkant die sentrale plein was. Twee blokke verder het ek links by die park ingedraai en deurgestap om in die park, by die lang bank regs te draai om op ‘n bankie oorkant hierdie blomme vir manlief te wag.

As ek onder deur die tonnel onder ons gebou geloop het, en dan links gedraai het om al langs Kazakhstanstraat tot by die verkeerslig te stap, was een van ons gunsteling restaurante regs oorkant die straat as ek oor Kazakhstanstraat stap. Soms het ek voor die restaurant regs gedraai en by die systraat wat oorkant ons gebou is, links gedraai om reguit na die park te stap. Dit het ek min gedoen want daardie hek was nie altyd oop nie.

As ek egter reguit gestap het, het ek verby ‘n restaurant aan my linkerkant gestap waar ons twee keer probeer eet het en dit beide kere toe was. Toe het ons nie weer probeer nie. Veder aan was die Euromed kliniek (Evromed klinieka) (11) aan die linkerkant. As jy die alfabet ken, is jy verras oor hoe naby klinieka aan die Afrikaanse kliniek is wat spelling betref.

Op die regterkantste hoek, skuins oorkant Euromed, was die museum, waarin ek nooit gegaan het nie. Toe ek in 2020 lus was om wel museums te besoek, het die pandemie die museum se deur toegemaak. Ek het egter een dag verbygestap toe die opgestopte diere buite gelê het terwyl hulle die museum skoonmaak. Ek moet nog daarvan vertel. Ek het dan by die onderste hek ingestap en skuins na regs deur die park gestap om by die plek te kom waar die foto geneem is omdat ons daar op bankies gesit het.

As ek reguit aan sou stap, sou ek verby Kentucky (regs) en die nuwe winkelsentrum wat hulle was om langs Kentucky te bou gestap het om by Imperator uit te kom. My eerste jas is daar gekoop, maar dit het ‘n plaas se prys gekos. Dit is Ust se duur klerewinkel, waar ons ook R1000 vir ‘n band betaal het om my langbroek bo te hou. Dit wou die hele tyd afgly.

Ek het van die nuwe winkelseuntrum (6) waarin A-store was, gehou. Die sentrum is in Desember 2019 stuk-stuk oopgemaak en in Maart 2020 moes al die winkels weens die “pandemie” toemaak. Toe ons einde Junie 2020 na Almaty getrek het, was die sentrum steeds net oop vir koskoop by A-store.

Nadat A-store oopgemaak het, het ons min by Mieken (5) ingedraai om alles te koop wat ons wil eet en drink. Dit was ‘n interessante markagtige plek waar ons alles moes koop voor die sentrum oopgemaak het. Mieken is onder die gebou langs ons s’n waar jy by elke toonbank gestop en betaal het. Groente en vrugte by die een, brood by die ander een en naellak en skoonmaakgoed by nog ‘n ander een. Dan draai jy links deur ‘n ingang na die tweede deel van die mark waar jy na regs draai om melk en melkprodukte by die een vrou en drank en water by die ander een kon koop. As jy lunks gedraai het, kon jy bier en drank by nog een kon koop. En daar kon jy regs draai om geld te trek en by die outotellers weer lunks kon draai om agter by die gebou uit te stap.

As ek by daardie deur uitgestap het, kon ek regs draai om agterom die gebou na die ondergrondse parkering (5) te stap waar Dusty geparkeer was om haar teen die koue te beskerm, en so ook verder stap om na die winkelsentrum te stap. By die winkelsentrum het ek dan links gedraai om om die gebou na Mia te stap. Haar woonstel is tussen die winkelsentrum en die Dedemans hotel (7), wat op die oewer van die Irtish rivier is. Die myn het ons daar bederf toe ons gaan kyk het of ons in Ust sal kan oorleef.

Oorkant die Dedemans en Mia se woonstelblok is ‘n restaurant waar ek en Mia gereeld tee gaan drink het. Hierdie hotel en restaurante is pragtig,

Ons het dus een groot blok weg van die Irtish rivier (9) gebly, wat net laer af (links) op die kaart by die Ulba aansluit. Voordat mens by die aansluiting kom, is daar dele in die muur wat die rivier van die stad skei waar bote in die Russiese tyd gestop het om mense op en af die rivier te vervoer. Dit het egter weens korrupsie tydens die oorgang na afhanklikheid heeltemal dood geloop. Net voor die pandemie begin het, het ‘n maatskappy drie plesierbote op die rivier geplaas vir toerisme doeleindes (8). Ek wonder of hulle die pandemie oorleef het. Ons wou dit nog probeer, maar het getrek voordat ons kon.

Na regs vloei die rivier van die damwal af waar hidro-elektrisiteit opgewek word. Ek het al daarvan vertel.

Daarmee volstaan ek eers. Mooi herinneringe aan ‘n plek wat 15 maande lank my omtes was. En dan moet ek na die titel terugkeer.

Ek is nie soos die natuur nie. Word nie so maklik weerr gesond nie, ook wat verhoudinge betref. Wens ek kon net so aangaan asof niks fout was nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “As ek maar soos die natuur kon wees …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.