Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Dag 11: WRG se 21 dae van dankbaarheid

Sjoe, ek dink ek sou al opgehou het. Maar toe vra Virgo waar is die stories en nou is ek oor die halfpadmerk.

Nou moet ek skryf oor iets wat ek die week reggekry het en hoe ek daaroor voel.

Die eerste gedagte is dat ek nie reggekry het wat ek wou doen nie, want die artikel hang steeds in die lug. Ek dink ek het egter uiteindelik die lig gesien, hy is al amper waar ek hom kan loslaat vir kritiek. Dit gaan my missie wees by die rivier, hy moet klaar en in.

Ek dink iets wat my nogal goed laat voel, is die feit dat ek probeer om elke liewe dag vir 30 minute te stap. Een van my volgende skrywes gaan verduidelik waarom, want dit is eintlik nie heeltemal so vrywillig soos dit moet wees nie.

Hoe voel ek daaroor?

Ek is verras oor my VO2 wat so mooi hardloop, so al asof ek relatief fiks is. Ek is allesbehalwe fiks, inteendeel, ek dink ek is baie na aan onfiks. Maar, dit is lekker om te lees dat my suurstof mooi by al die organe uitkom waar hulle moet wees.

So van suurstof gepraat. Ek dink die een enkele ding wat tydens ons siekwees in Julie die meeste vrees ingeboesem het, is juis my oksimeter, wat ons in Kazakhstan met moeite tydens die pandemie gekoop het. Moeite, want ons moes verduidelik ons soek die masjientjie wat aan jou vinger vasgeknip word om die suurstofvlakke in ons bloed te meet.

Hierdie einste masjientjie het in Almaty gesorg dat ek ‘n paar keer amper ‘n hartaanval gehad het. As ek dit aanknip en dit sê 70 of selfs minder as 70. Alhoewel ek dan wel sleg gevoel het, het ek die masjientjie afgeknip en weggebêre. Want met daardie lae vlak suurstof in die bloed kan hulle jou in ‘n veldhospitaal gaan bêre.

Ek het net instinktief geweet dit is verkeerd, maar eers hier in Suid-Afrika, toe ons wel siek geword het, het ek vir ‘n dokter vertel dat dit soms so laag is. Veral as manlief so sleg gevoel het. Hy was baie sieker as ekke. Toe vertel hy my dit moet eers ‘n halwe minuut aan die vinger wees, veral as mens verskillende mense s’n meet. Dit meet dan nie dadelik reg nie.

Ons het twee weke voor ons hierheen moes trek siek geword. Eitlik veel nader aan drie weke. Die eerste week was ek perdfris, manlief was plat op sy rug. Die tweede week was ek regtig tam, en hy weer beter. Die derde week het ons twee so rus-rus en staan-staan gepak, ons longe het te gou na suurstof gesmag as ons werk.

Op pas terug na Gauteng het ek besonder siek gevoel. As ek die metertjie aansit, het hy by 73 begin – dit is nou voor ‘n dokter vir my gesê het ek moet 30 sekondes wag voor ek lesing neem. Dan het ek dit aangehou tot dit 94/5 wys voordat my hart ontspan het.

Ek vermoed my suiker was baie laag, want ons het die vorige nag tot laat gepak. Die vervoermeubelwa moes die oggend net die yskas oplaai om te kon ry. Toe eet ons nie ontbyt nie en word dit ‘n slegte ding omdat ek Powerade gedrink het met suiker wat reeds te laag was.

Ons het eers buite Ventersdorp gestop om ietse te eet. En toe die kos in is, het ek beter begin voel. Maar …

Die oksimeter was soos ‘n dummie die hele tyd in my handsak. As ek toilet toe gaan, het ek gou lesing geneem.

Ek wonder of dit is hoe verslawing werk?

Hier het ek hom op ‘n dag in ‘n laai gaan sit om van hom te vergeet.

Ek kan eintlik nie glo dat ek so belaglik geraak het nie. Ek neem aan dat dit die massamedia se skuld is, hulle het vrees met die statistieke ingeboesem.

Ek neem ook aan dit is omdat ek die Leiden V mutasie geen by een van my ouers geërf het, Die betrokke geen veroorsaak dat my bloed makliker as ander mense s’n stol. Ek het dit eers in November 2019 uitgevind en mag geen medikasie gebruik wat bloedstolling as newe-effek het nie.

Toe gaan ons redelik gemaklik deur die krisis.

Die blou en wit oksimeter lê, saam met die termometer wat ons ook in Kaz gekoop het, vergete in ‘n laai.

En nou het ek iets wat my suurstofvlakke in elk geval meet, op twee maniere.

Ek gaan net nie weer toelaat dat ‘n masjientjie my lewe beheer nie. Ek is nie ‘n dokter nie. As ek siek voel gaan ek dokter toe.

En as ‘n dokter weer vir my sê dat ek ligte griep het, gaan ek haar beslis glo. En nie op toetste aandring wat al meer en meer as onakkuraat beskou word nie.

Ek sluit dan af net die volgende: Ek is besonder dankbaar dat ek elke dag 30 minute kan gaan stap, al moet ek ‘n hele paar keer heen en weer in ons klein kompleks loop. Vrees vir die onbekende het twee weke lank my vreugde gesteel terwyl my lyf my siekwees beveg het – en teenliggaampies agter gelaat het om my te beskerm.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Een gedagte oor “Dag 11: WRG se 21 dae van dankbaarheid

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.