Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Dag 12: WRG 21 dae van dankbaarheid

Vandag moet ek een aspek van my lewe beskryf wat ten goede verander het. En dit is nogal ‘n moeilike een as mens reeds so oud soos ek is. Ek dink tog ek gaan oor my beroep skryf …

Vandat ek kan onthou, wou ek ‘n onderwyseres wees. My poppe het by my klas gekry. My susters ook. Toe verander ek van beroep …

Ander mense is op my ouderdom na aan aftrede, ek staan na aan aftrede egter in ‘n nuwe beroep, naamlik akademiese navorsing. En dit het hierdie aspek van my lewe ten goede verander.

Ek het verskeie waarskuwingstekens gekry dat ek nie in die onderwys hoort nie, dat ek my talende anders moet aanwend. Maar ek wou nie gehoor gee aan die fluisteringe in my oor nie. Laat ek eers bietjie daaroor skryf.

Ek het so sewe jaar lank skoolgehou, in verskeie skole weens my man se vinnige bevorderings wat veroorsaak het dat ons van een dorp na die ander in die Vrystaat getrek het. Virginia, Welkom, Riebeeckstad, almal so 20 kilometer van mekaar af, maar nie paaie wat mens in die oggend wil aandurf as jy betyds by ‘n skool moet wees en klein kinders het, het dit onmoontlik gemaak om in een dorp te werk en in ‘n ander een te bly. Dus het ek elke keer bedank en in die nuwe dorp by ‘n nuwe skool oorbegin.

In 1991 het ek my B.ED (Begaafdekindonderwys) behaal, met geen behoefte om verder te studeer nie. Ek het die honneursgraad bloot gedoen omdat manlief verder moes studeer en hy gevra het dat ek ook studeer. Net voor ek my uitslae gekry het, het my hoof my ingeroep en gesê ek moet kies. Of verder studeer of skoolhou. Ek mag nie altwee doen nie. Daardie aand bel my vriendin my, stel ek belang om by Vista Universiteit, Welkomkampus te gaan klas gee? Ek was huiwerig, maar het aansoek gedoen en hulle het Unisa gebel om my uitslae te kry. Toe ek weer sien, gee ek verskeie vakke op universiteitsvlak en geniet ek my gate uit. Ek het ook tydens die vyf jaar by Vista my M.Ed (Ortopedagogiek – kinders met probleme) behaal.

Toe trek ons Gauteng toe en moes ek bedank. Om weer na skoolhou terug te keer. Ons is weer terug na Welkom, maar ek wou nie weer by Vista klasgee nie omdat my laaste jaar daar onvelig was. Studente, wat ek as voorbeedlig beskou het, het die kampusdirekteur se motor omgekeer en aan die brand gesteek. Ek het ‘n heilige vrees vir wat opgesweepte mense kan doen ontwikkel. Dit is asof hulle nie meer reg dink nie, nie meer vir hulself kan besluit tussen reg en verkeerd nie.

So is ek terug na die onderwys, eers Welkom High en toe Welkom Gimnasium, waar my dogter so pas klaargemaak het en my seun so pas begin het. Ek was dus ‘n dekade lank ‘n Welkom Gimnasium ouer. En toe trek ons weer stad toe en kry ek ‘n pos by ‘n Afrikaanse skool. Ek het so daarna uitgesien, maar drie jaar later het ek my bedankingsbrief geskryf om nooit weer na die onderwys terug te keer nie. Die skoolhoof het die lewe van onderwysers besonder onaangenaam gemaak, maar dit was een ouer se oproep wat die kersie op die koek was. Ek hou volgens haar nie van haar dogter nie, daarom kry sy swak punte. Dit was nou die een wat die kleur van haar onderklere met seuns bespreek het terwyl ek haar Geografie probeer leer. Soos ek skryf, dit was die kersie op die koek.

Ek het my man afgeskeep om by al my buitemuurs uit te kom, ek kon nie aandag aan my PhD – wat ek graag wou kry voor ek 50 was nie – gee nie en dit het stilgestaan. Terwyl ek vir die ongeskikste kinders denkbaar klas gegee het. Volgens hulle behoort onderwysers aan hulle ouers omdat hulle soveel skoolgeld betaal. Ek was self geskok oor die skoolgeld, die kinders het per maand soveel betaal soos wat ek per jaar vir my seun in Welkom betaal het. ‘n Snipperige seuntjie in graad 8 het vir my vertel sy pa dink niks van onderwysers nie. En toe snip ek terug met: “Sê vir jou pa wat hy ookal dink hy is, hy nie sonder ‘n reeks toegewyde onderwysers sou wees nie.”

Iedergeval, ek het bedank, my PhD klaargemaak en nie geweet wat ek verder gaan doen nie. Toe kom mense oor my pad.

Skryf ‘n akademiese artikel, as hy gepubliseer word, gee ons jou R20 000 om mee oorsee te gaan om ‘n referaat by ‘n internasionale kongres te lewer. Ek het, en so is ek na Hamburg in Duitsland om by die Internasionale Sunbelt kongres te gaan praat oor my navorsing.

Doen aansoek by Noordwes Universiteit om as nadoktorale genoot aangestel te word. Ek het, en het R20 000 per maand verdien om te skryf. En so het ek weer ‘n artikel geskryf wat my weereens die kans gegee het om oorsee te gaan praat, weer by die Sunbelt kongresse, die keer in St Petesburg, Florida, Amerika. Beide kere is manlief saam, dit was heerlik gewees, ons twee in die twee oorsese lande. Ek moes een keer per week kampus toe, die res van die tyd kon ek van die huis af werk. Ek het dit een jaar lank gedoen.

Doen aansoek by Unisa, ook as nadoktorale genoot. Die keer het ek nie geld vir artikels gekry nie, ek het R20 000 per maand gekry om navorsing te doen. Tydens hierdie tydperk was ek op die bestuur van die etiese kommitee en het ek soveel geleer oor etiese navorsing dat al my aansoeke vir etiese klaring – en ook tans die een van my PhD student, sonder probleme aanvaar is. Almal wat navorsing doen, sal weet dat dit nie sommer gebeur nie.

Nadoktorale genootskappe het ‘n raklewe van twee jaar. Daarna het ek as onafhanklike navorser steeds navorsing gedoen en my artikels gepubliseer gekry. Omdat ek ‘n nuwe passie ontdek het – navorsing oor die onderwys.

Doen aansoek by Kovsies om as doktorale genoot aangestel te word. Ek het, en dit is waar ek tans navorsing doen. Ek geniet die vryheid van van die huis af werk. Ek kry nie ‘n maandelikse toelae nie. Vir elke artikel wat gepubliseer word, kry ek so jaar en ‘n half later ‘n groterige bedrag geld. Wat dit die moete werd maak omdat ek navorsing kan doen waaroor ek wil.

Dit is ook hier waar ek die geleentheid gekry het om die mede-studieleier van ‘n PhD-student te wees. Baie interessant, en dit is lekker om te hoor dat die prof dink dat ek baie goeie werk doen. My bydrae het gehelp dat sy etiese klaring die eerste keer wat dit ingedien is, aanvaar is.

Die artikelskrywery het veroorsaak dat akademiese vaktydskrifte my gereeld nooi om eweknie-evaluering te doen. ‘n Leerskool, omdat ek al my kennis moet inspan om die artikels te evalueer. En ‘n gewig op die skouers, want ek moet besluit of die artikels gepubliseer kan word. Of nie. Soos wat ander navorsers oor my werk moet besluit.

Dus kan ek nou op my lewe terugkyk en daaroor besin. Die onderwys het my kreatiewe kant versmoor. Ek was verstrengel in die daaglikse take van tot laat nag voorberei, klas gee, merk en buitemuurs wat my naweke ook oorgevat het.

Ek kan skryf dat my lewe ten goede verander het, dit was net nodig om die eerste sprong te waag. Ek kon daardie tyd toegelaat het dat ‘n skoolhoof my boelie. Maar ek het nie, ek het die sprong gewaag en ‘n ander manier gevind waarop ek my talente kan uitleef, sonder om my die hele tyd teen ongeskikte kinders en hulle ouers te verweer.

As ek raad kan gee, is dit dit:

Moet nie toelaat dat ander jou boelie nie. Daar wag ‘n nuwe beroep op jou, as jy die kans sal waag om te spring …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

3 gedagtes oor “Dag 12: WRG 21 dae van dankbaarheid

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.