Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal,kleinkinders

Dag 18: Wat het jou hierdie week hardop laat lag?

En hier haak ek vas. Het ek ooit hierdie week hardop gelag? Dit voel amper asof ek nooit meer hardop lag nie.

En dit is kommerwekkend, want my Bybeltoep leesplan van hierdie week se naam is !Stres! En gister het ek juis gelees oor die impak van chroniese stress op die menslike liggaam, maar veral op die brein. En die gedeelte wat spesifiek met geheue te make het. Gebaseer daarop, stres ek heeltemal te veel. En lag ek heeltemal te min.

Iets waaraan ek in 2022 doelbewus aandag gaan gee. Ek dink my probleem is dat ek te min uitkom, te min saam met vriendinne kuier, en te min lag. Sommer net oopmond en lekker lag.

Maar nou moet ek skryf oor iets wat my hardop laat lag het. En ek vermoed ek het dit weereens heeltemal te min gedoen as ek sukkel om te onthou.

Ek vermoed ek het my veel eerder vererg oor goed wat ek volgens ander verkeerd gedoen het en die hele tyd aan die klok gehang is met ‘n groot gelag. Ek het dit nie as snaaks beleef nie en ook nie saamgelag nie. Eerder my mond gehou. Die ding is, ek hou nie aan met ‘n gespot as ek sien die party wat gespot word, lag nie saam nie. En ek verwag dit so half en half van die mense om my ook.

Iedergeval, ek gaan nou iets moet soek waaroor ek heerlik gelag het. En as ek aan my kleinkind dink, is daar sommer baie oomblikke van lekker lag.

Hy het heerlik gelag as ek en hy speel-speel die massiewe straal van die sprinkelsproeier op my vierwielfiets gejaag het. En dan het ek net so lekker saamgelag as ek maak of ons dit gaan inhaal. Die een keer was ek regtig te laat en toe spuit ons nat. En lag hy heerlik daaroor. Met sy koppie teen my bors gedraai. En my hand oor sy gesiggie om te keer dat die rivierwater in sy gesiggie sproei. Klere kan droog word.

Hy het heerlik gelag wanneer ek hom soggens op die groot trampolien gesit het. Want dan het hy gehardloop, teen die netmuur vasgestamp en sy lippies so naby my gehou, met ‘n groot lag op die mondjie. Dit was soveel anders as wanneer hier meer seuntjies is wat ‘n beurt wil kry. Die keer was die trampolien syne alleen … Ek het heerlik gelag as hy maak of hy val en dan moet keer vir die sonnetjie in sy ogies.

Ek het heerlik gelag vir hierdie dom ouma van hom. Ons het twee van daardie plastiese skulpies gekoop, een vir swem en een vir sand. Die twee naby mekaar gesit dat hy in die sand kan speel en in die ander een in die water kon speel. En sy reaksie? Die sand is babahandjiesvol na die blou een met die water gedra. Die ander se eerste reaksie was om te keer. Nie myne nie, die mannetjie is kreatief. Dan word die handjies afgespoel en die volgende vrag aangedra.

Ek het heerlik gelag as hy hardloop, veral omdat hy dit soms nog baie wankelrig doen. Die gras is nie gelyk nie, daar is opdraendes en afdraendes wat selfs ouma se asem laat jaag. Hy het dit ‘n speletjie gemaak, afgehardloop en dan steun-steun opgestap, die een voetjie al moeiliker voor die ander een. En dan het ek gelag en hande geklap met mooi so as hy bo uitkom. En is ek beloon met ‘n lagbekkie van ‘n kosbare babaseuntjie.

Gelukkig sien ek hom twee keer per week vir ‘n hele dag.

Daarom sien ek uit na ‘n 2022 met baie lagoomblikke.

My een voorneme vir die nuwe jaar is om minder ernstig te wees, meer te lag. Om te vergeet van dit wat op die oomblik my lewe reeds bykans 2 jaar lank versuur. En te fokus op die hier en nou. Die mense om my. En om my sommer ook minder vir manlief te wip. As ek dit gaan doen, gaan daar ook meer lagoomblikke kan wees.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

32 gedagtes oor “Dag 18: Wat het jou hierdie week hardop laat lag?

  1. “En te fokus op die hier en nou”: ons doen dit te min. Ek lag ook nie meer so baie nie, behalwe as die kleinkinders ons besoek. Hierdie week was ek vol lag en ek voel nou baie beter – al is hulle nou terug in Kaapstad..

    Liked by 2 people

    1. Anne, terwyl ek dit geskryf het, het ek besef hoe min ek en manlief hardop lag. En as dit werklik ‘n stresontlaaier is, moet ek dinge verander dat ons meer en meer lag. Dankie vir die saamgesels, die hier en nou is belangrik. Om te lag saam met wie nou by my is.

      Like

  2. Kom ek vertel jou waarvoor het ek die afgelope week kliphard gelag: Daar is so 4 laerskoolkinders by ons huis. Op ‘n stadium kerjakker dit verskriklik en hulle kom bars aanmekaar tussen die geselskap in. Daar lê ‘n knopkierie waarmee ek my rug oefen. My man swaai die kierie speel-speel oor sy kop en sê: ‘buitentoe!’ Die een seuntjie kyk op, glad nie bang nie en sê: ‘ek is nie ‘n ystervark nie.’

    Liked by 2 people

  3. Dis so ‘n mooi storie … ek dink oumas (en oupas) lag waarskynlik die meeste … natuurlik vir (of saam met) hulle kleinkinders!
    Ek lag baie – partykeer sommer ook vir myself! Ek en my man “maak gesprekke” tussen ander mense wat ons kan sien, maar nie kan hoor nie … dan lag ons baie 😄. Dis so goed vir ‘n mens se siel!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.