Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Dag 19: WRG se 21 dae van dankbaarheid

My gunsteling tyd van die dag?

As ek doodeerlik moet wees, het ek nie ‘n gunsteling tyd van die dag nie. En dit is waarskynlik waarom ek ook nie tyd kry om hardop te lag nie?

Soggens? As ek kans kry om van self wakker te word, is soggens beslis my gunsteling tyd van die dag. Manlief het nou bykans ‘n jaar lank vieruur opgestaan om te gaan werk. Dit was onaangenaam, want ek kon selde weer gaan slaap. Al het ek in die bed teruggeklim.

Dit gebeur by die rivier selde dat ek vanself wakker word omdat die Schnauzers teen my bed kom staan om my wakker te maak. Iets soos: Toe-toe, die son is lankal op, ons wil buite wees … Soms staan ek soos ‘n slaapwandelaar op en vat hulle uit. Ander kere raas ek omdat hulle die net gaan stukkend maak. Dit is nou die een waaronder ek slaap sodat die vervlakste vlermuis nie op my kan kom land nie. By die huis kan ek dit doen, want hulle slapies buite. Hier is daar geen manier waarop ek hulle buite sal laat slaap nie.

Sondae is soggens wel my spesiale tyd van die dag as ek kan opstaan en kerk toe mag gaan …

Middel van die oggend? En twyfel, want dan is ek nog besig om skoon te maak. Of is ek moeg na die skoonmaak en regmaak van die huis. So dit kan nie middel van die oggend wees nie. Dit is vir my een van die slegste take, naamlik om die huis skoon te maak. My kreatiewe brein wil nie dieselfde taak oor en oor en tot vervelens toe oor doen nie. Dit voel of die kombuis skaars reg is, dan moet ek weer begin om kos te maak. Ek weet mense gaan skryf dat ek kos vooruit moet maak en vries. Ons eet dit nie en dan moet ek dit later weggooi …

Middag? Allesbehalwe, want dit is juis weer tyd om kos te maak sodat ek weer kan skoonmaak daarna. En nou wonder ek waarom ek so swartgallig daaroor is. Want dit is my eie keuse om nie meer met ‘n huishulp saam te lewe nie.

Twee keer per week is middag juis die gunsteling tyd van my dag.

Dan is kleinseun by my en is dit my taak om hom aan die slaap te maak.

Soms dra ek hom buite, dan vertel ek hom van die blommetjies en plante wat seer kan maak en stap ons ‘n entjie so voor die koppie in my nek inkrul en hy aan die slaap raak. So op ouma se arm. Meestal terwyl ek die wiele van die bus vir hom sing of neurie. Dit is ‘n besonder spesiale deel van my dag.

Soms is hy vaak, maar stry hy nog daarteen omdat hy besig is. Dan vat ek die stootwaentjie en gaan stap ons eers terwyl hy sy eie waentjie stoot. As ek hom kan optel en bo-op laat sit, is hy besig om teen die moegheid te verloor. En as ek hom dan kan laat sit, is hy te na aan slaap om nie te wil sit nie. Dan kyk hy hier en daar en oral terwyl ouma stoot. En as ek weer sien, slapies hy heerlik.

Interessante kleinkind van ons. As hy slaap, slaap hy vas. Ek kan hom uithaal en in die bed sit, hy word nie wakker nie. Terwyl hy slapies, maak ek sy kossies sodat dit warm kan wees wanneer hy wakker word.

En dan loer ek so nou en dan hoe die slapie vorder. As hy eers begin beweeg, so na aan ‘n uur nadat ek hom neergesit het, is wakkerword naby.

Hy staan dan teen die kampbedjie se kant op en babbel dat ek weet hy is wakker. En dan sit hy op my skoot op die bank terwyl ons stories kyk en hy self eet tot die hartjie ook wakker is.

Dan is hy aan die gang. En kan ons weer speel-speel die middag omkry tot mamma hom teen die aande se kant kom haal.

Dit is ook een van my gunstelingtye wanneer skoondogter hom kom haal. Sy vat nie net en loop nie, sy kuier by my. Drink ‘n teetjie, vertel van haar dag.

Een keer per week nooi ons hulle om sommer saam te eet. En dit is beslis ook ‘n spesiale tyd van my dag as seun daar aankom en ons vier saamkuier.

Soms ry hulle voor baba bad. Ander kere bad ons eers baba en is hy gereed vir sy slapie wanneer hulle ry.

Ek is so dankbaar vir die geleentheid om soveel lekker oomblikke saam met my kleinseuntjie te kry. Veral omdat ek na die drie wat nou te ver bly om sommer net te kom kuier verlang. Dit maak ‘n plekkie in my hart stil en gelukkig. Want as hy by my is, is daar nie tyd vir enige iets anders nie.

Ons speel te lekker deur die dag.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Dag 19: WRG se 21 dae van dankbaarheid

  1. Jou spesiale tyd saam met jou kleinseun klink wonderlik – dis koester oomblikke daardie!
    Ek hou van middae … net na middagete … dan gun ek myself ‘n boek en lees dat ek verlore raak in die storie! Maar ek hou ook van soggens vroeg om langs die meer te gaan stap. En ek hou van vroegaand as ek en my man langs die vuur kan sit en ‘n vleisie kan braai.
    O gaats, dit blyk ek het nie regtig ‘n gunsteling tyd van die dag nie 😉.

    Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.