Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Dag 21: WRG se 21 dae van dankbaarheid

Sjoe, ek is daar. Die 21 dae is verby en ek kan weer oor iets anders skryf. Maar ek is dankbaar oor die geleenthede wat dit geskep het. Hier is dan die laaste inskrywing oor dankbaarheid.

Die positiefste nuus wat ek onlangs ontvang het, is tweevoudig. Ons aanbod op ‘n nuwe meenthuis is aanvaar en ons huidige meenthuis is verkoop. Ons het die verkoop van die huidige meenthuis nie aan die koop van die nuwe meenthuis gekoppel nie omdat ons die plek wou kans gee om eers waarde te bou. Ons het dit in Julie gekoop, ons sou eerder verhuur tot die plek waarde gebou het om dit teen ‘n wins te verkoop.

Toe gee ons vir die agent ‘n twee maande venster om die plek te verkoop. Sy was nie baie optimisties nie omdat ons meer gevra het as waarvoor ons aangekoop het. Ons verloor steeds op die transaksie omdat ons verbeteringe aangebring het en die oordragkostes het ook diep in ons spaargeld ingesny.

Ons het reeds ‘n huurder in plek gehad, maar dit was nie noodwendig die beste keuse nie omdat sy huismaats sou moes kry om die plek te bekostig. En ek het net een oggend gestaan en kommer: As sy in ons plek iets oorkom omdat sy mense moes vertrou om saam met haar te bly om die plek te bekostig, sal ek nie daarmee kan vrede maak nie.

Die agent het twee kopers aangebring wat ek sommer net geweet het hulle is nie die nuwe eienaars van ons meenthuis nie. En toe bring sy ‘n Afrikaanse vrou, met ‘n man wat ook op die myne werk. Ouerige mense, en ek het net geweet dit is haar huis. Sy gaan hier gelukkig kan lewe omdat haar man in die week uitstedig is. Hier kan sy vriendinne maak en lekker bly.

Ek weet ek het geskryf dat die Here ons met die koop van die huidige plek bygestaan het. Wat is die kans dat mens nadat jy na 20 huurplekke gekyk het, na een enkele plek kyk en dit het alles wat jy nodig het om gemaklik te leef? Net die Here kon weet dat ons die dag na die plek moes kom kyk voor ons terug is na Kuruman. Drie weke voordat ons moes terugtrek na die stad. En ek glo dit steeds, want dit is ‘n belegging. En nou het die plek ‘n koper nadat dit skaars op die mark gesit is.

Ek weet ook die Here het ons gehelp om die nuwe plek te kry. Ons was baie spesifiek – enkelvlak, siersteen, drie slaapkamers, dubbele garage, ordentlike kombuis. Het ek al vertel dat ‘n eikehoutkombuis met marmerblaaie my soos ‘n magneet trek?

Die kompleks waar ons huidige meenthuis is, is te klein vir my. Of laatek dit baie anders stel, ek moet elke straatjie drie tot ses keer op en af stap om 30 minute op my Apple horlosie te stap. En dit is vir die mense hier vreemd, ek word snaaks aangekyk. Ons nuwe kompleks is baie kleiner, daar is net ses meenthuise. Maar, dit is in ‘n leefstyl landgoed en ek kan soggens so 7 kilometer stap. As ek nou daarby gaan uitkom, tans is 2,5 km vir my genoeg.

Ek kan met kleinseun ver gaan stap, na die water toe gaan, en dalk kan ons twee eendag saam muurbal speel. Of tennis? Ek verkies muurbal, my bal kom terug na my toe. Tennisballe wat oor die drade gaan is nie oulik nie.

Soos voorheen, is dit interessant om te noem dat ons Afrikaanssprekende Christene is, dat Afrikaanssprekende Christene by ons koop, en dat ons by ‘n Afrikaanssprekende Christen koop. Ons dubbelverdieping huis in ‘n landgoed in Krugersdorp, is ook verlede jaar (kan jy glo 2021 is verby) deur groot Afrikaanssprekende Christene gekoop. In al vier gevalle, is die agente ook Afrikaanssprekend Christene.

Dit is vir my ‘n teken dat die Here met ons is. Altyd. Soms maak mens verkeerde keuses, maar dit word gou in positiewe verander.

Ons is dankbaar.

Die Here is goed vir ons.

Dit was dan die laaste inskrywing vir die 21-dae van dankbaarheid uitdaging van die WRG. ‘n Pad wat my daaraan herinner het dat ek soveel het om voor dankbaar te wees. En dat ek regtig nie rede het om swartgallig te voel nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Dag 21: WRG se 21 dae van dankbaarheid

  1. Dit was ‘n goeie idee om hierdie 21 dae van dankbaarheid aan te pak. Al was die uitdagings nie altyd maklik nie, dink ek dat jou manier van uitdrukking oor die tyd makliker gevloei het – amper asof dit jou gehelp het om jou persoonlike skryf spiere los te maak.Ek het hierdie reis saam met jou geniet, Christa.

    Liked by 2 people

  2. Dit is wonderlik dat hierdie 21 dae uitdaging ‘n mens leer vir hoeveel dinge daar is waarvoor ons eintlik dankbaar kan wees! Baie geluk met die “huis uitdagings” … dit is net genade as alles so mooi in plek val!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.