Gepubliseer in Joernaal

Ek leer skiet …

Ons het ‘n plekkie langs die Vaal, en as mens tans in Suid-Afrika op ‘n geïsoleerde plek bly, moet jy weet hoe om jouself te beskerm teen aanvalle. As jy nie statistiek wil word nie.

Ek is nie onbekend met gewere nie. My pa het ‘n .22 gehad en ons het saans as daar vreemde geluide om ons huis was wanneer hulle nog by die slaghuis was, ‘n skoot deur die venster na die pan se kant toe geskiet. Om wie ook al buite was, te vertel dat ons kan skiet.

‘n Rewolwer wil ek egter glad nie hê nie. Ek het lank gelede, toe ek skaars getroud was, ‘n rewolwer gekry en manlief wou my leer skiet. Op my pa se plaas. Ons was alleen in die veld, hy het ‘n blikkie ver van my af gesit en ek moes mik en raakskiet.

Toe die rewolwer volgens hom leeg was, het hy na die blikkie gestap. Om te kyk of ek dit ooit raakgeskiet het. Maar nie reguit nie, ek kon die blikkie steeds sien. Ek het die leë rewolwer gelig, gemik en die sneller getrek. En my siek geskrik toe die stof spat waar die koeël die grond getref het. Langs die blikkie. Naby my man. Ek kon hom per ongeluk doodgeskiet het.

En wie sou my glo?

Daarna het ek geweier om weer aan ‘n skietding te raak. Dit was ‘n gevaarlike wapen. Veral rewolwers, ek speel nie Russiese roelet nie. Mens weet nooit of dit wel die laaste patgroon was nie.

Maar, soos ek gesê het, ‘n mens moet jouself in Suid-Afrika kan beskerm. Dus het ek gevra dat manlief vir my ‘n verfbalrewolwer koop sodat ek kan oefen om te skiet. Met gasballetjies, ek wil net in die grond vasskiet sodat die pepergas die aanvaller kan weghou en laat weghardloop.

Doodskiet wil ek nie, vir daardie drama sien ek nie kans nie. Hier het aanvallers meer beskerming as diegene wat aangeval word. Selfverdediging is nie altyd ‘n verskoning wat mense – wat hulself teen inbrekers en aanvallers wil beskerm – uit die tronk te hou nie.

Ons het die verfbalgeweer gekoop toe ons in Januarie 2020 Kuruman toe getrek het. Volgens die mense is dit ‘n gevaarlike dorp en wou ek darem iets hê om myself te beskerm as iemand in my huis inkom. Manlief is lank voor sonop werk toe en het lank na sononder tuis gekom.

Ek het egter nooit by oefen uitgekom nie.

Die naweek is die rewolwer saam. En toe ek weer sien, sit manlief die teiken op. So 20 meter van my af. Laai die skietding met rubberkoeël en gee die opdrag.

Ek moet mik en skiet.

My eerste vier skote was ver bokant die teiken verby, het die takke van die boom getref. Ek het die voorste mik geneem om my te lei. Nie geweet van die agterste een nie. En dat die mik reg in die middel van die twee agterstes moet wees nie.

En toe kry ek 10 beurte om te skiet.

Volgens manlief het ek goed gedoen, 80% raakgeskiet.

Vier van my trefslae was om die mannetjie op die bord. Naby hom, maar mis volgens my. Ek het egter die bord raakgeskiet.

Vier was raak.

  • een hoog op die voorkop
  • een net bokant die regteroog
  • een in die arm, net bo die elmboog
  • een in die arm, net onderkant die elmboog

Myne is die rooi kolletjies, en die een swart een bokant die oog. Daar was net ses rooi plakkers, ek gaan sommer baie koop vir volgende keer.

Indien iemand twintig meter van my af staan, is die kans egter baie groot dat ek die persoon agt keer sou tref. Want ‘n mens is baie groter as die teiken waarheen ek moes skiet.

Die vraag is: Sal ek skiet as ek in gevaar is?

En die antwoord is ja, ek sal.

Die rubber koeëls gaan nie doodmaak nie, ook nie die pepergas nie, maar dit gaan ‘n aanvaller beslis stuit. Veral as ek keer op keer raakskiet. En dit is al wat ek wil hê. ‘n Kans om weg te kom van die aanvallers af.

Ek gaan nou gereeld oefen, want ek wil al agt gate in die figuur plaas. En nie vier om hom nie, al weet ek dat dit raak gaan wees as dit wel iemand was.

Manlief het sowaar die naweek weer gesê die magasyn is leeg.

En weereens was dit nie leeg nie.

Toe ek mik en die sneller druk, kon ek nog twee gate in die bord skiet, waarvan een bokant die oog was.

Hy het darem langs my gesit, ek sou nie mik as hy na die bord toe gestap het nie. Daarvoor het ek as jong vrou heeltemal te groot geskrik.

Staaltjie: manlief het die teikenbord na die oefensessie aan sy kant van die bed teen die muur staangemaak. Tot volgende keer as ons rivier toe gaan. Toe ek in die kamer instap, kyk die gesig vir my, met die skietding op my gerig. Ek het die bord gaan omdraai, dit is nie lekker om in ‘n skietding vas te kyk as ek in my kamer inloop nie. Al weet ek dit is ‘n prentjie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

25 gedagtes oor “Ek leer skiet …

  1. Dankie Christa! Hier gee jy my nou ‘n uitstekende idee! Waar koop jy so ‘n geweer en ammunisie? Dis baie beter as ‘n rewolwer wat in ‘n kluis toegesluit moet bly en waarvoor ék die skuldige gaan weesas ek iemand raakskiet.

    Liked by 2 people

    1. Toortsie, mens koop dit by ammunisiewinkels of sportwinkels. Ek sal gou kyk wat sy naam is, dan kan jy soek. Ek vermoed mens sal dit kan bestel. Enige plek wat paintball goed verkoop, sal dit beskikbaar hê. En ek stem saam met die probleme rondom ‘n skietding met lewendige ammunisie, en skietgoed wat kleinkinders in die hande kan kry en dink hulle speel.

      Liked by 2 people

    2. Sy naam is HDR 50 (Home Defense Revolver 50). Daar staan ook T4E (Training for engagement) op die boks. Ek neem aan mens het die detail nodig om die regte een te koop. Dit is volgens die verkoper eeen van die bestes, mens kry kleineres ook. Hy is swaarderig, maar nie te swaar vir my nie. Die gewig help my eerder om hom gemaklik vas te hou. Natuurlik is dit ook goed om hom in die kar te hê.

      Liked by 1 person

  2. Dit klink na n goeie opsie. Ek weier al die jare dat daar enige geweer of revolwer in my huis of op my erf kom. Ek het skoolgehou vir fisies gestremde kinders en skietongelukke is een van die grootste oorsake . Julle was baie gelukkig dat jy jou man nie getref het nie.

    Liked by 2 people

    1. Seegogga, die Here het daar beskerm, want ek kon hom doodgeskiet of vermink het. Ek stem, ek weier ook al die jare. Hierdie een is veiliger keuse vir my gemoedsrus, maar word ook weggesteek dat kleinkinders nie daaraan kan peuter nie.

      Liked by 1 person

  3. Dit is die realiteit, ne … iets om onsself mee te verdedig. Sjoe, jou storie van jou eerste ondervinding met ‘n rewolwer is nogal skrikwekkend!
    My man het my jare gelede na ‘n skietbaan geneem om my te leer skiet. Dit het nie te sleg gegaan nie, maar genugtig, ek wip elke keer so hoog van die skrik van al daardie harde geluide 😲 … en die idee dat ek iemand kan dood skiet, is nie ‘n mooi gedagte nie. Daarom dink ek jou skietding klink na ‘n goeie opsie – sterkte met die oefenry!

    Liked by 2 people

    1. Dit het my al die jare gejag (haunt) dat ek my eie man per ongeluk dood kon skiet met ‘n rewolwer wat veronderstel is om leeg te wees. Vir my is die idee om dood te skiet ook skrikwekkend, daarom verkies ek die skrikmaker bo die regte skietding. Ek is steeds versigtig vir die ding, maar ek moet weet hoe hy werk as my lewe of die van my naastes in gevaar is.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.