Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: Plastiese fietsie en insleepstootwaentjie

Kleinkind het hierdie week vier volle dae by ouma gekuier en ons het soveel pret gehad. Ek was natuurlik ook doodmoeg, dus het ek lanklaas geskryf …

Ons het so ruk terug vir die mannetjie ‘n groen plastiese motorfietsie gekoop. Daardie goedkoop soort waarmee sy pappa ook rondgejaag het toe hy klein was. Natuurlik was dit eers ‘n moeilike fietsie vir die baba, maar tans jaag hy daarmee.

Ek geniet dit so om die houding op die fietsie te sien. Boude uitgestoot na agter, beentjies wat beter verby die wiele steek om te kan jaag. En dan word die beentjies saam gebruik om spoed te kry.

Skielik moet ouma teen die afdraende uit die kompleks na die straat se kant draf, want hy beweeg vinnig. Dus leer ek hom om elke paar meter “Stop! Kyk of daar karre is, nou kan jy weer ry” sommer padreëls ook. Terwyl ouma kan asem skep, so elke nou en dan.

Ek moet voor hom in die straat wees, dit is lewensnoodsaaklik.

En hy speel lekker saam.

Sodra ons by die ingang na die paadjie langs die gholfbaan kom, kies hy watter paadjie hy wil vat. Gaan hy regs om, is dit nag vir ouma.

Want daar is ‘n baie steil afdraende, dan ‘n gelyker deel en dan weer afdraende na ‘n besige straat wat gekruis moet word. Dus stop ons baie, oefen die padreëls, sodat ek hom veilig teen die afdraendes af en oor die pad kan kry.

As ons eers oor die pad is, is daar op- en afdraendes. En daar mag ouma nie help nie. As hy baie sukkel, stoot ek so effens teen die ruggie, maar my hand word weggevat. Los, ek kan self, dit is sy houding.

Onder draai mens weer links op ‘n paadjie met heelwat opdraendes na die straat wat weereens gekruis moet word. As ons eers oor daardie straat is, is hy moeg.

En ek ook.

Dan stop hy, sit die een beentjie so effens oor die fietsie. En dit is die teken dat ouma hom kan optel en verder dra. Seker so 400 m terug huis toe. Met die fietsie onder die een arm en baba op die ander heup. Teen ‘n hoofsaaklike opdraende terug huis toe.

Die ander dag sien ek die tuinman by een van die huise in die straat werk. En vra ek die man of ek die fietsie daar by hom kan los, sal later kom haal.

Kleinseun was onmiddellik ontsteld. En met ‘n “Nee!” moes ek die fietsie maar onder die arm sit en verder strompel.

Die krag kom werklik van Bo, ek is op teen die tyd wat ek die opdraende in die kompleks na ons eie huisie ook moet aanpak.

Dan kom ek rooiwarm by die huis ingestrompel nadat ek die fietsie eers neergesit het. Geen krag om dit tot in die huis te dra nie.

Maar sy ouma is nie verniet ‘n juffrou nie. Ook nie verniet ‘n plaaskind wat planne moes maak om dinge gedoen te kry nie. En sy het natuurlik ook heeltemal te veel van McGyver gehou. Dus kan sy planne maak.

Ons twee moet tans vir die mense in die landgoed ‘n vreemde verskynsel wees.

Want ek stap nou met sy stootwaentjie langs hom terwyl hy in die straat fietsie ry. Daar is soveel voordele, waarvan een is dat ek tussen hom en die aankomende verkeer is.

As daar karre aankom, stop die kindjie sowaar. En wag hy regtig tot die kar verby is voor hy weer begin ry! En ek los dit so, dit is veiliger as wanneer hy wel beweeg.

Die stootwaentjie gaan saam sodat ek hom daarin kan tel wanneer hy moeg is. Om dit reg te kry, gaan my selfoon ook saam. Want ek kan hom met ‘n storie omkoop om in die waentjie te sit. En dan tel ek die fietsie op die kappie van die waentjie (sien hooffoto) en stoot die twee eerder as om beide te dra.

So kom ek steeds rooiwarm en doodmoeg by die huis aan. Maar dit is soveel sagter op my arms as twee dooie gewigte, een in elke arm.

Woensdag ry ons weer met die fietsie en die stootwaentjie op die baan. Dit het die vorige nag erg gereën en daar was een lang waterplas in die pad. Hy jaag daarheen en ek kyk hoe ek en my mooi skoene en die waentjie op die gras langs die paadjie deur kan gaan sonder om sopnat te wees terwyl hy na die diepste water mik.

Toe hy besef dit is diep en die skoentjies is in die water, pluk hy die beentjies op. En daar staan hy in die water geparkeer. Ek het erg aangemoedig om hom deur die water te kry sonder om self in te gaan.

En toe hy eers deur is, word daar gestop, afgeklim en met ‘n ô … ô na die bande gekyk. Voor en agter. Want die gras het aan die bande vasgeklou. Dit word aandagtig beskou en dan kry ek en die bande die kyke. Met ‘n ô…ôô. En ek verduidelik hy hoef nie bekommerd te wees nie, die bande is net vuil. Hulle kan nog mooi ry.

Donderdag kies hy weer regs om.

En toe ons by ‘n opdraende kom, sukkel die beentjies om te trap. En ek weet ek mag nie teen die ruggie help nie.

Toe druk ek die voorpunt van die waentjie teen die haak van die fietsie en stoot hom liggies vorentoe. Dit het perfek tussen die wiele ingepas.

En hy verstaan so wraggies wat ouma doen. En trap-trap saam om bo te kom.

By elke volgende opdraende het hy gestop, terug gekyk na die insleepwaentjie wat moet kom red. En dan stoot ouma en vertel vir hom hy moet voor hom kyk en bestuur. Anders gaan hy van die pad af gaan.

Mens sal sweer hy het dit in sy vorige lewe ook gedoen.

Sodra daar ‘n afdraende is, jaag hy weer vir my weg. En moet ek die waentjie teen ‘n drafstap stoot om by te hou. Toe hy moeg is, word die beentjies weer opgetrek, tyd dat die insleepwaentjie weer van gedaante verander en slegs ‘n stootwaentjie is.

Ek moet egter steeds met YouTube Kids gereed wees sodat hy stories kyk terwyl ouma stoot met die fietsie op die kappie. Anders wil hy nie soos ‘n baba gestoot word nie. Dra is goed, stoot is ‘n nee!

En ek verwonder my aan die baba wat die Engelse stories verstaan en hard lag as iets snaaks gebeur. Of ô…ô as iets slegs gebeur. Al die pad tot by die huis.

***

My rede vir dankbaarheid is dan sommer vir die hele week. Een waartydens ek my kleinkind so baie gesien het dat my huis vandag heeltemal te leeg was. En natuurlik vir die geleentheid om hom te sien ontwikkel, daarvan sal ek nog baie vertel.

NS: Ek het reeds voorheen genoem, ek verkies om nie foto’s van die kleinkinders te plaas nie. Dus sny ek die foto’s so om die storie te kan vertel sonder om die kindjie se gesiggie te wys.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

21 gedagtes oor “Kleinkindpret: Plastiese fietsie en insleepstootwaentjie

  1. Jy is nou vergewe dat jy vir so lank stil was: speel eerder met jou kleinkind as om te blog! Dit is goed om vir hom die kans te gee om te groei, te leer, te baljaar en om vuil te kry. Ek stem saam met Seegogga dat hy bevoorreg is om jou as ouma te hê want jy gee om genoeg om vir hom die vryheid te gee wat hy nodig het.

    Liked by 2 people

  2. As daar karre aankom, stop die kindjie sowaar. En wag hy regtig tot die kar verby is voor hy weer begin ry! En ek los dit so, dit is veiliger as wanneer hy wel beweeg.
    Die stootwaentjie gaan saam sodat ek hom daarin kan tel wanneer hy moeg is. Om dit reg te kry, gaan my selfoon ook saam. Want ek kan hom met ‘n storie omkoop om in die waentjie te sit. En dan tel ek die fietsie op die kappie van die waentjie (sien hooffoto) en stoot die twee eerder as om beide te dra

    Liked by 1 person

    1. Where was that hiding, in the ether.
      As daar karre aankom, stop die kindjie sowaar. En wag hy regtig tot die kar verby is voor hy weer begin ry! En ek los dit so, dit is veiliger as wanneer hy wel beweeg.
      Die stootwaentjie gaan saam sodat ek hom daarin kan tel wanneer hy moeg is. Om dit reg te kry, gaan my selfoon ook saam. Want ek kan hom met ‘n storie omkoop om in die waentjie te sit. En dan tel ek die fietsie op die kappie van die waentjie (sien hooffoto) en stoot die twee eerder as om beide te dra

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.