Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

‘n Onverwagse terugkeer per pad …

Soms moet mens priotiseer, anders kom werk nie klaar nie. Nadat ek gekyk het hoeveel ure ek per dag op my joernaal is, het dit net so gebeur dat ek vermy het om soggens op die WP-embleem te kliek. Toe ek net-nou gaan loer, sien ek dat ek meer as ‘n maand gelede iets geskryf het.

In hierdie maand het soveel gebeur dat dit nie net prioritisering se skuld is dat ek baie lanklaas geskryf het nie.

Ons rivierhuis het ‘n moontlike koper gekry … sonder dat ons geadverteer het. Toe ons weer sien, kontak die jong boer en besluit manlief dat hy sal verkoop. O ja, ons het na die Desember vakansie daaroor in die kar gepraat op pad huis toe. Maar ek het nie gedink manlief is ernstig nie. En die man wil 1 Mei intrek en okkupasiehuur betaal tot die huis op sy naam geregistreer is.

1 Mei is om die draai, ons moet gaan pak, maar dit is nie al nie. Ons groot huis se meubels is ook daar gestoor toe ons uitgetrek het en na Kazakhstan toe is. En daar is bokse en bokse wat al drie jaar lank stof vergaar. Amper iets soos ‘n skattejag as ons naweke daarheen gaan om uit te sorteer en sommige goed na hierdie huisie van ons bring.

Maar ons moet ook besluite neem oor wat nou. Ek vra my hele lewe deur vir ‘n vakansie by die see, maar manlief is ‘n rivierhuis man. Ons gaan min. En nou soek hy vir ons ‘n huisie by die see! ‘n See met ‘n vaarbare rivier, want die boot en vierwiele en so aan gaan saam.

So is ons die naweek van die 12de Maart met Kulula af om te gaan huis soek. En ons lysie is kort, maar agente het geen begrip van wat dit beteken nie. Baksteen/siersteen met ‘n “view”. Die een mors ons tyd en wys net geverfde huise teen belaglike pryse. Dan hoor sy boot en wil ‘n lelike huis aan my afsmeer, met Pappa se boot gaan hier pas. Ek het later sommer net gesê dat die boot iewers geberg kan word, maar ek bly nie in so ‘n lelike huis teen verskeie miljoene rande nie.

Die ander een het ‘n huis na my hart gehad, maar die prys was te hoog. En dit is ver van die see af, met ‘n “view” as mens by die trappe staan. aangeboude geverfde woonstel, wat tog nie regtig by die huis pas nie. Ek het bes gegee, daar is seker iets anders.

Maar toe kuier ons saam met die kinders, kleinkinders wil saam met ouma op die strand wees en toe ons weer sien, kry ons die gewraakte nuus op Netnuus: Kulula vlugte is vir 24 uur op die grond neergesit, die hele Saterdag. Ons kry die SMS om aanlyn in te boek, wat ons nooit doen nie en ry die Sondagoggend so teen tienuur terug George toe om die 14:00 vlug te haal.

Daar gekom, hoor ons dat Kukula steeds op die grond is, dat ons op eie onkoste huis toe moet kom en dat die ander lugrederye hulle pryse skielik opgestoot het: R4700 vir ‘n enkelkaartjie, amper R10 000 vir ons twee, maar ons kan eers Dinsdag vlieg, alle vlugte is reeds teen daardie belaglike pryse volbespreek.

Ek stel voor dat ons terugry, maar daar is geen motors beskikbaar nie, George se lughawe is klein. Die een wat ons so pas ingegee het, kan ons weer vat en in Gauteng kom ingee en teen 13:00 is ons op pad terug na Gauteng toe – ‘n hele 1 220 km weg van George.

Manlief wil deurry, ek en die kinders gesels op die geselstoeps oor oorslaapplekke. Ons kan nie deurry nie, maar manlief beloof hy sal stop wanneer hy te moeg raak. Ons het mos nie vir die tog beplan nie.

Ons ry Willowmore en Middelburg om om die N1 by Colesberg raak te ry en so terug huis toe te kom. Die pad is mooi, Suid-Afrika is regtig baie mooi. Maar, dit reën van George tot Coleberg die hele pad lank.

Ons stop by Willowmore, doodhonger en eet by die Royal Hotel. Die bestuurder is jonk en gaaf en gesels en vra uit. En ons vertel waarom ons die tyd van die dag op pad terug na Pretoria is.

Kulula se skuld. Hy is verras, nuus versprei nie so vinnig in klein dorpies nie. Die kos is heerlik en toe is ons weer op die pad.

Manlief wil by Middelburg brandstof ingooi, maar die Nissan Almera wys dat daar drie strepies oor is. Aangesien hy nie lus is om van die pad af te gaan nie, druk hy deur. Dit is al nag om ons. Ongeveer 60 km voor Colesberg vertel die karretjie ‘n ander storie, haar maag is leeg.

Google Maps kom tot ons redding, bied ‘n alternatiewe brandstof pomp naby ons aan. Noupoort. Ons is te ver van Middelburg om om te draai en te ver van Colesberg om dit te maak. Daarom volg ons die brandstofbordjie in die dorpie in, net om dit nie weer te sien nie.

Die area voel en lyk gevaarlik, maar ons stop ‘n baie dronk kleurlingman langs die pad en vra waar die petrolstasie is. Hy beduie verkeerd, maar ons verdwaal reg en land by die stasie, met geen petroljoggie nie. Net ‘n ambulans.

Die ambulans trek weg, die man is binne. En toe ons weer sien, maak ‘n baie vriendelike man wat die mooiste Afrikaans praat ons Almera se maag vol dat ons verder kan ry.

Tussen Middelburg en Colesberg het ons baie swaar verkeer getref, met steenkoolvragmotors wat terine maak wat nie verby gesteek kan word nie. En toe moet ons die treine weer probeer verbysteek.

Manlief sê hy is moeg ek moet dollatjie se voorstel vir slaapplek so uur en ‘n half verder as Colesberg skakel. Ek skakel en bespreek, die vrou sal SMS stuur oor hoe om by die plaas in te kom. Maar ek moet kanselleer en seun bel om plek in Colesberg te soek.

Hy bespreek namens ons ‘n soort van motel langs die pad in die dorp in. Ons daag net betyds op om kos te bestel en die kos word in die kamer afgelewer toe ek al amper vas aan die slaap is.

Die volgende oggend is ons vroeg op, stop in Bloem vir ontbyt, maar hulle maak eers sewe uur oop. Ons is uur te vroeg. Daarom ry ons verder, verby Kroonstad se petrolstasie waar ek altyd gestop het na die een naby die eerste tolhek. Daar gekom is ons goed honger en die rus doen ons goed.

Dit het al die pad vanaf Colesberg tot in Johannesburg gereën. Dus was mens die hele tyd versigtig.

Maar die Here het ons veilig huis toe gebring.

Nou wel bykans ‘n dag later, maar ek was dankbaar omdat Kulula op die aarde was.

Laat ek die storie dan vertel, ek skryf spesiale skrywe daaroor …

Intussen het ons besluit dat die boer nie 1 Mei kan intrek nie, hy kan met registrasie intrek … wat beteken dat ons paasnaweek weer gaan uitsoek en organiseer …

Ai toggie tog!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

31 gedagtes oor “‘n Onverwagse terugkeer per pad …

  1. Liewe land, julle is behoorlik besig om te skuif en te trek! Het julle al seehuis gekoop? Tips vir seehuis:
    Uitsig. Dit doen mens se siel goed om vir d see te sit en kyk. Indien nie, slaap jy lekkerder as jy hom kan hoor.
    Afstand. Dis baie lekker as mens sommer gou see toe kan stap ipv motor uittrek en ry.
    ‘n Mens kan met n boot op die see ook ry. Dis net heeltemal anders as n rivier, maar heerlik.
    Woonstel. ‘n Woonstel langs jou huis is ideaal. Jy kan dit korttermyn verhuur en ‘n baie handige inkomste maak uit vakansiegangers. Dit help joy huis betaal. Maar indien jy dit nie wil doen nie, is dit steeds baie handig om kinders en besoekers daar te laat oorslaap. Dit gaan vir julle sowel as vir hulle lekkerder wees. En besoekers gaan jy baie kry!
    Geld. Ja dis uithaal en wys! Maar onthou: dis ook ‘n goeie belegging. Die kuslyn word nie groter nie.

    Liked by 1 person

  2. Sterkte met julle soektog. See-uitsighuise ís maar duur. En baie keer aangebou. Dalk self bou? Maar seeuitsigerwe is ook maar min.
    Rivierhuise is ook seker maar baie duur deesdae.
    Dit was lekker om te lees. Ons Goues is deesdae behoorlik skaars.

    Liked by 1 person

  3. Ek’s bly om te hoor jy’s nog hier Christa – al klink dit of jy behoorlik met jou voete in die lug rondhardloop! Og ja, huise by die see dorpe is nie goedkoop nie (en dan nog met ‘n uitsig … dit raak ‘n duur storie). Ten minste het jy ‘n goeie “uitsig” oor ons land se paaie gehad (te danke/te wyte aan Kulula) … sterkte met al die besluite – en rus so nou en dan met ‘n koppie’tjie tee/koffie en haal heerlik asem 🌸.

    Liked by 1 person

  4. Hallo Christa…Goeiste…en ek’t gedink ek’s nogals besig. Ek is seker julle gaan die regte plek kry wat nommerpas vir julle is. Hopelik ‘n golfbaan om die draai….stapafstand is ‘n bonus!
    Baie sterkte met die inpak en afskaal.

    Vriendelike groete vanuit HCMC!
    Philip

    Liked by 1 person

      1. Hi Christa,
        Dit is nie ‘n probleem nie. Ek verstaan dat julle baie besig is nou. Daardie huisie by die see klink fantasties! Sterkte daar!

        Liked by 1 person

  5. prioritiseer is ‘n goeie woord. Vir jare het ek toegelaat dat die skool my lewe oorneem. Nou het ek hierdie skoolvakansie 3 hempies gemaak, vir my dogter gaan kuier en vanoggend ‘n babatee bygewoon. Nou is fiber by ons ingesit en kan ek meer gerus op die internet gaan (van iewers in volgende week af). Prioriteit? meer tyd op my blog. Deesdae lees ek net ander s’n. My mediateek is 88% vol en ek moet ‘n plan maak. nog ‘n prioriteit.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.