Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

‘n Vinnige nagtelike Uber op OR Thambo

Dit lyk vir ons of dit baie beter gaan wees om Stilbaai toe te ry as om te vlieg. Veral as ek na die afgelope twee gebeurtenisse kyk …

Ek het al vertel dat ons die vorige keer al die pad van Stilbaai na George gery het. Net om op die lughawe te hoor dat Kulula se vlugte op die grond gaan bly, dat Safair en Airlink ons nie op die dag kan help om terug te kom nie, dat ons drie keer duurder vir die terugvlug ‘n dag of wat later sal moet betaal en dat daar geen huurmotors beskikbaar is nie, behalwe die een wat ons gehuur het. Dus is ons met die karretjie al die pad terug na Gauteng, meer as 1 200 km van die Wes-Kaap af.

So het ‘n onverwagte oorslaap in Colesberg gebeur en het ons die Maandagoggend laat vir al ons afsprake in Pretoria aangekom.

Maar met die Here se genade was ons veilig.

Verlede naweek is ons weer vinnig af na George toe omdat ons die allermooiste huis met die allermooiste uitsig op Boggomsbaai wou gaan sien. Gelukkig het ek afsprake met vier agente in Stilbaai ook gemaak want die huis was een verskriklike groot teleurstelling. Mens sien die see, is naby die see, hoor die see en ruik die see. Maar die huis wou ek nie hê nie. Ek gaan liewer nie vertel wat my gepla het nie, dalk beledig ek in die proses iemand anders se droomhuis.

Toe is ons sowaar daar vir oudste kleinkind aan dollatjie se kant se elfde verjaarsdag. Kan jy dit oorvertel? Ek sien die drie ou seuntjies nou baie min, daarom merk ek ook op hoe hy ‘n sprinkaanlyfie ontwikkel het. En net soveel soos ‘n sprinkaan moet eet om die lyfie in stand te hou – baie!

Iedergeval, ons het die tye fyn gesny. Manlief het van Zimbabwe af ingevlieg, en ek het ‘n Uber na Centurion Gautreinstasie geneem om vandaar per trein na OR Thambo te gaan. My Uber het stadig gery en ek het by die stasie gesien hoe die trein vir my wegry en ek nog 15 minute vir die volgende een moes wag. Maar, geluk by die ongeluk kry ek manlief se SMS net toe ons by OR Thambo stop – hy het so pas geland, ek moet hom by Wimpy kry soos ons afgespreek het.

Ons het skaars iets in die lyf gekry toe ons op die vliegtuig moes klim. Die keer het ons SAFair verkies, ons het nog steeds nie ons geld van Kulula terug gekry nie. Dit was lekker om betyds weg te trek en twintig minute voor die beplande tyd in George te land. Ek was aanvanklik onwillig toe ek sien hoe smal die paadjie in die vliegtuig is, maar dit het opgemaak vir stoele met ruimte vir groter mense. Ek kon gemaklik sit sondr om gestamp te word as die persoon langs my beweeg.

Die naweek was heerlik, al was ek nie een sekonde op die strand nie. Ons het huise gekyk en lekker by dollatjie gekuier wat na aan Stilbaai woon. En natuurlik het ons die 19:10 vlug bespreek om die kuier in die Kaap te rek. Want … ons kan mos met die Gautrein tot op Centurion stasie gaan en manlief het gereël dat seun ons daar gaan haal. Hy is nie so gewillig soos ek om te Uber nie.

Wel, toe ons twintig minute voor die tyd op OR Thambo land, moet ek ontdek dat die laaste trein so pas vertrek het. Geen verdere treine tot die volgende oggend vroeg nie.

En so bespreek ek weereens ‘n Uber om ons terug te neem, maar die keer al die pad terug na ons huis toe. Mens is maar skrikkerig om so laat in die nag in ‘n Uber te klim, maar nou ja, ek was verniet bekommerd. Die man was vriendelik en het ons veilig by die huis afgelaai.

En so land ons laat die Sondagaand weer by ons huis, gelukkig en tevrede. Want … die soektog was hierdie keer suksesvol. Ons het ons huisie by die see gekry, nou moet alles net in plek val dat dit wel ons s’n kan word …

Dus sit ons nou by die rivier, besig om uit te soek wat see toe kan gaan, wat verkoop kan word en wat sommer weggegee kan word.

Amper soos wat ons 18 maande gelede in Kazakhstan gedoen het. Want ja, dit is tyd om weereens te groet en weereens te trek.

Nie vir goed nie, daarheen gaan ons net gaan as ons ‘n regte, egte rus nodig het. Soos hier by die rivier.

Ek moet egter bieg – vlieg werk nie vir ons nie. Ons was ses ure op taxi’s, treine, vliegtuie en in ‘n huurmotor voor ons ons bestemming bereik het. En dit het ‘n fortuin gekos.

Net ses ure korter as wat dit sal neem om padlangs met ons eie motor te ry. Teen ‘n fraksie van die onkostes.

Ons gaan dus maar afry see toe, selfs al is ons net een aand daar voor ons weer terugkeer. In ons eie motor, met die honde as ons geselskap en die die skoonheid van die natuur ons skilderye …

Hooffoto: Ek gaan wel my foto-nemery deur die venster van die vliegtuie mis. Is dit nie pragtig nie? Of is dit net my geografie-brein wat so mal oor die wolke is?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “‘n Vinnige nagtelike Uber op OR Thambo

  1. Ja, ek hou ook baie van daardie foto uit die vliegtuig … maar wie weet, dalk vang jy ook so ‘n paar mooi landskap foto’s vas op julle rit per motor!
    En ek hou styf duim vas dat daardie see huis julle naam kry – wat ‘n lekkerte om sommer dan Desember by jou eie see huis te kuier by die see en omring met al jou eie goete 🌸.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na seegogga Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.