Gepubliseer in Joernaal,Akademies

Eerste artikel vir jaar word gepubliseer

Ek het hierdie jaar teen ‘n slakkepas aangepak wat navorsing betref. Want my daaglikse lewe het teen die spoed van weerlig by my verby geskiet.

Met kleinseun wat Maandae, Dinsdae en Donderdae voldag by my is, sit ek alles eenkant toe om al my aandag aan hom te gee. Ons kyk baie stories, teken, lees boeke waarin hy belangstel, bou blokkies en hy speel in die sandput in sy ouma se huis. Regtig daar is een en die sand is soms deur die huis, maar dit is so lekker om te sien hoe hy bou en speel dat die sandput nie gou uit geskuif sal word nie. Buitendien, net-nou maak ‘n spinnekop nes in sy sandput!

Ons stap elke middag vir ten minste een uur – kan jy glo dat ‘n tweejarige so kan stap? Maar syne is meestal afdraende en ouma stap die tweede halfuuriodraende met hom in die waentjie huis toe. Word ek maer daarvan?

Ek wens, maar ek voel my bo-arms kry vorm van die stoot. Want tweede helfte sit hy in sy waentjie. Kyk ‘n storie op my ou iPad. En slaap die laaste deel tot by die huis.

Goed. Hy slaap bykans gereeld een en ‘n halwe uur. Maar glo my vry, ek het al probeer. My brein weier om dan te fokus. Sy dink net aan kos vir almal. En rus voor baba weer wakker is. Want dan is hy weer aan die gang. En ek wil niks mis nie.

Dus het ek Woensdae en Vrydae vir navorsing, maar ook vir wasgoed was, huis skoonmaak, regskuif waar goed nie geskuif is nie en regpak en so aan. Navorsing suip beslis aan die agterste speen.

Intussen is ek genooi om as akademiese skryfkonsultant op te tree en moet ek sommige Woensdae en Vrydae uurlange gesprekke met die studente oor hulle navorsing voer. En dit vat ‘n geruime tyd in die aande om hulle werk te hersien om wel waardevolle bydraes te maak.

Dan werk manlief van die huis af, vier dae van die week. Met die gevolg dat ek by sy skedule moet inpas vir kosmaak en so aan. Hy suip ook so bietjie aan ‘n agterste speen, maar maak goed op daarvoor deur my gereeld weg te sleep rivier toe vir ‘n naweek.

En dan het ek naweke ook min tyd vir navorsing.

Dus is ek regtig opgewonde om te rapporteer dat my eerste artikel vir 2022 aanvaar is om gepubliseer te word. Dit is deur al die fases, het vandag van die proefleser teruggekom, ek het slegs een van haar voorstelle vir verbetering nie aanvaar nie. Die res help om die artikel te verbeter.

Ek wik en weeg lank oor idees vir verdere navorsing. dan kom die planne, raak ek soms in die nag wakker met idees en staan ek op om te skryf omdat die idees die volgende dag weg is as jy nie neerskryf nie.

Sondae, Maandae en Woensdagaande dwing ek myself om vroeg te gaan slaap, want ek kan nie aan-die-slaap wees as die ou seuntjie by my kuier nie. Hy raak bekkig, praat soos ‘n papegaaitjie agter my aan en ek moet my woorde deeglik tel dat ek nie ‘n woord gebruik wat hy nie mag gebruik nie.

En soms is dit regtig moeilik as die woewe sy kos wil afvat om nie ‘n groot woord te gebruik om hulle uit te jaag nie. Ek kan nie glo hoe orig hulle om hom is as hy kos in sy handjies het nie. En dan is hy ook nie veel groter as hulle nie.

Teug by die rede vir vandag se skrywe…

Die titel?

Vir eers gaan ek nie die aap uit die mou laat nie, maar ek kan wel skryf dat ek vir Facebook kan bedank …

Die ultimatum het die wonderlikste navorsingsgeleentheid geskep. En ek is besonder tevrede met die bevindinge.

Nou wonder ek net of dit gebruik gaan word, want dan sal my beker sowaar oorloop. Maar veral of dit aangehaal gaan word.

Ek sal die skakel deel wanneer dit gepubliseer is.

Vir nou geniet ek die stilte in my hart en dankbaarheid dat die Here my bondgenoot is. Dit is – soos een bekende navorser vir my vertel het toe ek haar met ‘n artikel gelukgewens het – net ‘n genade.

Vir my is genade genoeg.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Eerste artikel vir jaar word gepubliseer

  1. Jy kan nou tevrede wees – vir ‘n tydjie – dat een artikel nou gepubliseer sal word. Ek wens jou geluk want ek weet hoe moeilik dit is om sulke goed ‘deeltyds’ aan te pak.

    Liked by 2 people

  2. Sjoe, nou is ek behoorlik nuuskierig. My sussie vertel gereeld hoe haar navorsing in die mediese wêreld vorder en ek kan nie wag vir die volgende vertel nie.
    Maaaaar om jou kleinkind so by jou te hê is kosbaar

    Liked by 2 people

  3. Original text
    Hy raak bekkig, praat soos ‘n papegaaitjie agter my aan en ek moet my woorde deeglik tel dat ek nie ‘n woord gebruik wat hy nie mag gebruik nie.
    What is ‘beaked’?

    Like

  4. Jy moet ‘n lekker ouma wees … o gaats ja, wanneer die kleintjies so agter mens aanpraat, moet jy omtrent twee keer dink voor jy iets se 😄. Ek het so effe agter geraak met die bloggery met ons onlangse “avontuur”, maar hopenlik kan ek nou weer bietjie rustig word en lees … kan nie wag om jou volgende “post” te lees nie! Baie geluk 👏.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.